Drie voor buskaartjiekantoor in PE doodgeskiet

(Argieffoto: Kent Williamson)

Drie persone is Vrydagmiddag voor ʼn buskaartjiekantoor in Gqeberha (Port Elizabeth) doodgeskiet.

Die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Liziwe Nthshinga, het ʼn 72-uur-aktiveringsplan ingestel vir die inhegtenisneming van die verdagtes. Volgens haar was dit ʼn vermoedelike sluipmoord op twee persone en moord op ʼn onskuldige persoon by die buskaartjiekantoor in Storeystraat in Perridgevale.

“ʼn Man en ʼn vrou, onderskeidelik 21 en 36 jaar oud, het Vrydagmiddag omstreeks 16:15 by die kantoor van die busmaatskappy opgedaag om kaartjies te koop na Gauteng,” het kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, gesê. “Toe hulle uitgestap kom, is daar verskeie skote op hulle gevuur. Die vrou het naby die kantoor inmekaargesak en die man het weggehardloop en in die omgewing van ʼn winkelsentrum inmekaargesak. ʼn Onskuldige omstander is ook noodlottig gewond deur een van die skote toe hy ʼn winkel op die perseel verlaat het.”

Die verdagtes het glo in ʼn silwerkleurige Honda Civic van die toneel weggejaag.

Kort ná die skietery het SAPD Mount Road-beamptes die motor in Burtrylaan in Newton Park opgemerk. Die motor het nie enige nommerplate gehad nie. “Hulle het die motor agternagesit, maar toe hulle die bestuurder wou voorkeer, het hulle weggejaag. Daar was vyf mans in die motor.”

Tydens die jaagtog is ʼn vuurwapen uit die motor in Searleweg gegooi. Die voertuig het in Neavestraat in Shauderville teen ʼn lamppaal gebots. “Al vyf insittendes het uitgeklim en in verskillende rigtings weggehardloop.”

Beamptes van Mount Road se teenbende-eenheid het later twee mans, albei gewapen met vuurwapens, in Highfieldweg opgemerk. “Die beamptes het hulle agternagesit en hulle in Peddiestraat in Korsten aangekeer. Daar is beslag gelê op twee vuurwapens. Die voertuig is vroeër as gekaap aangemeld in Humewood.”

Die motief vir die moorde is nog nie bekend nie. Die name van die oorledenes word ook nog teruggehou totdat die naasbestaandes in kennis gestel is.

“Die twee verdagtes, onderskeidelik 29 en 36 jaar oud, word aangehou op aanklag van poging tot moord (skietery op polisiebeamptes), die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en die besit van gesteelde eiendom. Speurders stel ondersoek in na ʼn moontlike verband met die moorde.”

Enige getuie word versoek om speurder adjudant-offisier Neville Gouws van die teenbende-eenheid te kontak by 082 387 5904. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die landdroshof in Gqeberha verskyn.

Ntshinga het haar hartseer en meegevoel betuig met die families van die oorledenes op ʼn betekenisvolle dag in die Christelike kalender. “ʼn Span ervare ondersoekbeamptes is aangestel om die verdagtes aan te keer. Sulke wrede aanvalle sal nie geduld word nie. Ons sal nie rus totdat die verdagtes agter tralies is nie. Ek loof die polisiebeamptes vir hul vinnige reaksie om die twee verdagtes aan te keer en vuurwapens te konfiskeer. Dit is slegs ʼn kwessie van tyd voor die res van die verdagtes aangekeer is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SomeOne ·

wat is nuut omtrent die geval, dis soos om elke middag ‘n ete te geniet
dit kom nerens in die wereld so voor nie

Persheks Adri ·

Kyk die klagtes… Ek lees nêrens dat hulle aangekla word van moord nie net poging tot moord op die polisie ens. Elke dag moord dis seker ‘n sport in die nuwe SA maggies man

jzjz05 ·

Ek sê weer daar is net een straf vir die moordenaars en dit is die doodstraf, agter die tralies is vir hulle soos n holiday inn, vry huis ,vry kos, vry klere ,vry tv ,lekker sonder eenige verpligting. maar as hy weet as hy moor die doodstraf op hom wag gaan hy heel anders dink verseker !!!!.

Etienne ·

Die nuwe naam Qwerty doen gestand aan hierdie tipe bende nonsens… Die Baai was effens makker

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.