Drie vroue sterf in ongeluk by Ngodwana

Die vroue het in die ongeluk omgekom. (Foto: Mpumalanga-departement van gemeenskapsveiligheid)

ʼn Ongeluk tussen ʼn sedan en ʼn vragmotor op die N4 naby Ngodwana in Mpumalanga het die lewe van drie mense geëis.

Die ongeluk het Donderdagmiddag omstreeks 14:30 naby die Kaapsehoop-afrit plaasgevind, sê Moeti Mmusi, woordvoerder van die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid.

Die vragmotor, wat aartappels vervoer het, het glo uit die rigting van Mbombela (Nelspruit) na Waterval Boven (Emgwenya) gery toe dit teen ʼn Toyota Corolla gebots het.

“Die oorledenes is almal vroue en was passasiers in die sedan. Hulle is op die toneel dood verklaar,” sê Mmusi.

Een van die vroue is uit die voertuig geslinger.

Twee mans het ernstige beserings opgedoen en is na die Rob Ferreira-hospitaal in Mbombela geneem.

In ʼn afsonderlike voorval is nog ʼn persoon die vorige aand op dieselfde pad dood toe ʼn vragmotor en ʼn minibus teen mekaar vasgery het. Altesame 14 mense is ernstig beseer.

Vusi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, het ʼn hernieude beroep op motoriste gedoen om verkeersreëls te gehoorsaam om noodlottige ongelukke te verhoed.

“Ons gaan voort om verskeie padveiligheidsmaatreëls en wetstoepassingsinisiatiewe in werking te stel, maar motoriste moet die padreëls nakom sodat ons ongelukke kan verminder,” sê Shongwe.

Hy het sy medelye met die oorledenes se families betuig en die beseerdes spoedige beterskap toegewens.

Die ondersoeke na albei ongelukke duur intussen voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hennie J

Die lur doen n beroep op motoriste om verkeersreels te gehoorsaam ten einde ongelukke te voorkom. Ha ha, wat n klug terwyl die lur en sy chronies versuim om paaie te onderhou en slaggate uit te roei.

Wielspore

Hierdie kruising gebruik ons elke werksdag en partykeer oor naweke. Die pad is deel van die N4 en in ‘n puik toestand, die spoed aanwysing is 80km/h en orals is daar nog aanwysing van “High accident zone”, daar is ook ‘n permanente spoedkamera so 1 km van die kruising rigting Wes.
Ten spyte van die voorkomende maatreels en goeie pad toestand gebeur daar nog steeds baie ongelukke by die kruising en dit eis heelwat lewens.
Na my mening is dit padgebruikers se gedrag wat hier die ongelukke veroorsaak, eerstens spoed en dan verontagsaming van die stop tekens.
Spoed eis lewens!

Tanniepetoors

Moenie voor ‘n vragmotor insny nie! Die arme bestuurder van die vragmotor wat agter in die motor in vasgery het, het waarskynlik alles, maar alles in sy vermoë gedoen om hierdie tragedie te vermy.

Objektief

Die mense se gedrag op daardie pad is n nagmerrie