Drie vroue vas ná hulle glo jok oor ontvoering

Argieffoto: https://pixabay.com

Die polisie in die Oos-Kaap het Maandag drie vroue in hegtenis geneem op aanklag van meineed nadat hulle valslik beweer het hulle is ontvoer.

Kapt. Andre Beetge, woordvoerder van die polisie, het gesê die drie vroue het beweer hulle is Sondagaand by Truckers Inn in die Wells Estate-gebied ontvoer.

Volgens Beetge het die vroue beweer hulle het ʼn rygeleentheid saam met ʼn taxi gekry en is toe deur ses mans in ʼn ander motor ingedwing naby Corobrik op die M17 en Swartkopsweg.

“Hulle is glo gedwing om ʼn 10-jarige meisie in ʼn rooi Toyota Tazz agter te laat voor hulle na ʼn oop veld geneem is waar hulle onverklaarbaar aangerand en toe in Seyisistraat in New Brighton afgelaai is,” het Beetge gesê.

Die vroue het later die polisie gebel en gesê die kind word deur die ontvoerders aangehou.

ʼn Saak van ontvoering is by die New Brighton-polisiestasie aanhangig gemaak en die polisie het die hele Sondag en Maandagoggend na die ontvoerde kind gesoek.

Beetge het gesê die polisie het egter snuf in die neus begin gekry oor die storie en dat dit ná deeglike ondervraging van die vroue aan die lig gekom het dat die storie opgemaak is.

Die drie vroue, 24,33 en 34 jaar oud, is Maandagmiddag vir meineed in hegtenis geneem.

Hulle sal na verwagting Woensdag in die Motherwell-landdroshof verskyn

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

TS ·

Dit is nou amper mode om sulke vals verklarings af te le en die polisie uit hulle werklike werk te hou. Ek hoop die straf wat hulle kry sal ander ontmoedig om sulke onverantwoordilike dinge te doen.

Houtoog ·

‘ . . . snuf in die neus begin gekry . . . ‘ is nie reg. Om te ‘jok’ (grap te maak) is die afrikaans vir die engelse ‘joke’. Om te ‘lieg’ is om ‘n ‘lie’ te vertel. Hulle het eerder gelieg.

LouE ·

Mense wat sulke goed doen het ‘n motief. Ons ken nog nie al die feite nie. Wat gaat hier aan?

Johan. H. ·

Ja dit is nie jok nie.. Word dit nou so sag gestel omdat hulle vroue is? Hulle het gelieg, Trap hulle en gooie die sleutel weg..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.