Drie vroue vas wat ‘gebou kaap’ vir dagsorgsentrum

Argieffoto.

Drie vroue wat glo onwettig ʼn dagsorgsentrum vanuit ʼn gekaapte gebou in Johannesburg bedryf het, sal vandag in die stad se landdroshof verskyn.

Die Stad Johannesburg het in ʼn verklaring gesê die vroue is Vrydagaand in Ridgeway in die suide van Johannesburg in hegtenis geneem. Luidens die verklaring skuld die vroue ook R105 000 aan die stad vir dienste gelewer.

Die inhegtenisneming kom ná ʼn operasie deur die stad se departement vir forensiese en ondersoekdienste, die SAPD en die Johannesburgse Metropolisie (JMPD). Luidens die verklaring het die huidige eienaar van die gebou die eiendom in September 2015 gekoop. Die eienaar het ʼn uitsettingslasbrief bekom wat aan die vorige eienaar van die eiendom, wat in daardie tyd steeds die gebou beset het, uitgereik is.

“Die vorige eienaar het ingestem om gehoor te gee aan die lasbrief en binne tien dae die gebou te ontruim, maar dit is nooit gedoen nie. In Maart vanjaar is ʼn uitsettingsbevel uitgevoer en veiligheidswagte is aangestel om die gebou te bewaak.

“Op dieselfde aand het die vorige eienaar weer die gebou beset en het die persoon die veiligheidswagte in hegtenis laat neem en aanklagte van opsetlike saakbeskadiging teen hulle aanhangig gemaak.”

Volgens die stad het die wettige eienaar van die gebou nou uiteindelik weer beheer oor sy eiendom ná die inhegtenisnemings.

“Ek is verheug dat nog ʼn eiendomseienaar uiteindelik beheer oor sy eiendom het wat in die hande van geboukapers was. Dit bring die volle getal eiendomme wat aan hul regmatige eienaars terugbesorg is op 28 te staan,” het Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, gesê.

“Misdadigers moet weet dat hulle kan hardloop, maar daar is geen plek vir hulle om weg te kruip in Johannesburg nie. My administrasie sal geen steen onaangeroer laat om ontslae te raak van strafregtelike aktiwiteite in die stad nie en sal hierdie soort klopjagte verskerp met behulp van die SAPD en ander wetstoepassingsagentskappe.”

Mashaba het gesê die stad sal ook ʼn stokkie steek voor eiendomseienaars wat desperate mense uitbuit en hulle in haglike omstandighede laat woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marous ·

Dis so verkeerd! Die president het dan gister gese ALLES moet gedeel word. Die metroraad ook !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.