Drie wat glo lieg oor kaping in hof

Argieffoto

Drie verdagtes sal Maandag in die Verulam-landdroshof in KwaZulu-Natal verskyn op aanklagte van dwarsboming van die gereg nadat hulle na bewering ʼn valse klag van kaping by die polisie aanhangig gemaak het.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die drie, tussen 18 en 22 jaar oud, het die saak by die Tongaat-polisiestasie aanhangig gemaak.

Zwane het gesê die drie klaers het beweer hulle het op 3 Augustus om 20:45 met hul VW Polo op die Watson-hoofweg gery toe ʼn onbekende persoon wat ʼn rygeleentheid wou hê hulle afgetrek het.

“Die duimgooier het volgens die klaers ʼn vuurwapen op die insittendes gerig en hulle opdrag gegee om na die Umdloti-omgewing te ry. In Umdloti het die voertuig glo met ʼn ander voertuig en daarna teen ʼn versperring gebots. Die beweerde kaper het glo van die toneel gevlug,” het Zwane gesê.

Die bestuurder van die motor het beweer dat niks gesteel is tydens die voorval nie.

Volgens Zwane het die polisie beëdigde verklarings by al drie insittendes afgeneem en hulle het al drie beweer hulle is gekaap.

Zwane het gesê dit het ná ʼn ondersoek deur speurders aan die lig gekom dat al drie glo gelieg het en ʼn valse aanklag aanhangig gemaak het.

Die drie is in hegtenis geneem en aangekla van dwarsboming van die gereg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theresa B ·

Ons land is in ghaos en daar is nogsteeds mense wat tyd het vir snert!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.