Drie wat vrou glo voor hof ontvoer, vermoor vra dán vir borg

hof-hamer

Argieffoto.

Drie mans, wat in hegtenis geneem is in verband met die ontvoering van en moord op ʼn vrou wat by ʼn Oos-Kaapse landdroshof vir haar man in hul motor gewag het, het Donderdag en Vrydag in hof verskyn.

Kapt. Mali Govender, polisiewoordvoerder, het gesê die mans het in die Peddie-landdroshof verskyn, waar die saak tot 27 Januarie uitgestel is, wanneer hulle om borgtog gaan aansoek doen. Hulle bly in aanhouding.

Maroela Media het vroeër berig die drie mans is in hegtenis geneem nadat hulle die vrou glo verlede Vrydag in Peddie, oos van Grahamstad, ontvoer en vermoor het.

“ʼn Erg geskokte man het die Peddie-polisie genader en gesê hy het by die landdroshof stilgehou en uit hul motor geklim terwyl sy vrou, Noluthabo Maliza (25), in die motor gewag het met sy selfoon en die motorsleutels,” het Govender toe gesê.

Toe die man terugkeer na die plek waar hy parkeer het, was die motor en sy vrou skoonveld.

ʼn Soektog is dadelik na die vrou en die motor van stapel gestuur. Die voertuig is uiteindelik Saterdag in die Qamnyana-omgewing in die Tyefu-polisiëringsgebied opgespoor.

“Die omgewing waar die voertuig gekry is, is gefynkam en die vrou se liggaam is in die omgewing aangetref. Daar was geen sigbare wonde aan haar liggaam nie. ʼn Nadoodse ondersoek word gedoen om die oorsaak van haar dood te bepaal en die uitkoms daarvan sal in die hof bekend gemaak word.”

Die Peddie- en Tyefu-polisie het sake van motordiefstal, ontvoering en moord aanhangig gemaak.

“Speurders het onverpoos aan die saak gewerk. ʼn Deurbraak is Woensdag gemaak en drie mans is in hegtenis geneem,” het Govender gesê.

Sy het gesê twee van die verdagtes, onderskeidelik 19 en 24 jaar oud, is in Peddie in hegtenis geneem. Die derde verdagte (27) is in Mdantsane opgespoor en in hegtenis geneem.

Twee van die verdagtes het Donderdag in die Peddie-landdroshof verskyn en die derde Vrydag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.