Drie wat weduwee ontvoer gevonnis

Brenda en haar seun Werner. Foto: Verskaf

Die drie mans wat Brenda Claassen (62) verlede jaar in haar plaashuis in Kirkwood ontvoer en toe vir ure met haar rondgery het, is tot tronkstraf gevonnis.

Kapt. Gerda Swart, woordvoerder van die polisie, het gesê Thembela Eric Bele (33), Chumani Bukani (25) en Andile Saziwa (27) is op 8 September in die hooggeregshof in Grahamstad skuldig bevind aan huisbraak, roof met verswarende omstandighede en ontvoering.

Die drie is Woensdag tot effektiewelik 20 jaar tronkstraf elk gevonnis.

Maroela Media het in Oktober verlede jaar berig Claassen het net heeltyd by die Here gepleit dat hulle haar nie sal verkrag nie terwyl haar ontvoerders ure lank met haar rondgery het.

Claassen het die aand van 16 Oktober net ná 18:00 buite haar plaashuis in Kirkwood met haar twee boelterriërs gespeel voordat sy die huis in is om kos te maak en voor die televisie te ontspan. “Ek het van die kombuis af deur die eetkamer geloop, toe ek deur twee mans oorval is.”

Die mans het Claassen met ʼn voorwerp deur die gesig geslaan voordat hulle haar op die grond vasgedruk het. “Een van hulle het bo-op my gesit en my mond vasgehou. Ek het gemompel dat ek nie sal skree nie.” Die aanvallers het op vuurwapens aangedring.

Claassen se man is vier maande voor die aanval dood en sy vuurwapen was nog in die huis. “Ek het by die Here gepleit dat hulle my asseblief net nie moet verkrag nie.” Een van die mans het intussen die vuurwapen opgespoor. Die mans het Claassen laat opstaan en haar arms agter haar rug vasgehou. Hulle het saam met haar in die sitkamer gesit totdat dit donker geword het.

Die mans het ʼn sak vol huishoudelike items ingepak. Een van die mans het vir die agterdeur se sleutel gevra en dis toe dat Claassen hoor daar is ʼn derde man. Sy vermoed die mans het haar honde met iets ingespuit en dat hulle daarom nie die mans aangeval het nie. Die aanvallers het intussen ook die geld wat in haar beursie en in die huis was, bymekaargemaak.

“Hulle het nog geld gesoek. Hulle het gesê ek werk al so lank op die plaas, ek moet baie geld hê. Hulle het op my selfoon gesien dat ek R10 000 in my bankrekening het. Ek het my bankkaart en pinkode vir hulle gegee en gedink dis nou verby.”

Brenda by haar oorlede man Harry. Foto: Verskaf

Die mans het Claassen egter na buite gevat en in haar wit VW Golf op die agterste sitplek ingedwing. ʼn Gewapende man het agter by haar gesit en die ander twee voor. ʼn Entjie van die huis af het hulle agtergekom die sak met huishoudelike goedere is nog by die huis. Hulle het omgedraai en eers die sak gaan haal voordat hulle na Addo gery en daar by ʼn kitsbank stilgehou het.

“My daaglikse onttrekkingslimiet is R3 000. Hulle was kwaad omdat hulle net dit kon trek. Hulle het toe met my rondgery, aangesien hulle tot middernag wou wag om weer geld te trek.”

Claassen het deurentyd gebid. “‘Here, ek kan nie so lank saam hulle in die kar wees nie.’ Die preek Sondag in die kerk was oor mense wat buite-aardse wesens is en dat ons net tydelik op aarde is en die krag van gebed. Hierdie drie mense was nie Christene nie, anders sou hulle dit nie aan my gedoen het nie. Ek het gebid: ‘Here, ek is in jou hande. Jy is die enigste een wat hulle kan beheer. Gee asseblief vir hulle kalmte dat hulle niks aan my sal doen nie. Gee ook vir my kalmte.’ Ek het geweet ʼn wonderwerk gaan gebeur.”

Die mans het hierna in die rigting van Port Elizabeth gery en kort-kort stilgehou. “Hulle was op soek na ʼn sjebeen, maar alles was gesluit. Dit was die Here se genade. Hulle het in Xhosa gepraat en ek het gehoor hulle wil KFC toe gaan. Ons het hierna deur Despatch na Uitenhage gery.”

Die verdagtes het by ʼn KFC in Kwadwesi stilgehou. “Hulle het vir my ook KFC aangebied, maar ek het gesê ek is nie honger nie. My reënjas was in die motor en hulle het my gedwing om dit aan te trek en die kappie oor my kop te sit. As iemand naby ons verbygeloop het, het hulle my platgedruk.”

Polisiebeamptes van die Kwadwesi-polisie het Claassen egter in die motor opgemerk en onraad vermoed. Die beamptes het gaan ondersoek instel, waarna die mans weggejaag het. Die polisie het die verdagtes agternagesit en ʼn hoëspoedjaagtog in die rigting van Uitenhage het gevolg.

“Ek het agtergekom ons begin vinniger ry. Die polisie het in ʼn stadium verby ons gery. ‘O, Jesus, asseblief sien my raak,’ het ek gebid. Ons het hierna verskriklik begin jaag en ek het gedink iets is verkeerd. Ons het langs die pad stilgehou en al drie het uit die motor gespring en die bosse in gehardloop.”

ʼn Skietery het tussen die polisie en die mans ontstaan. Twee van die mans is deur beamptes van die Uitenhage- en Port Elizabeth-polisie se honde-eenheid aangekeer en in hegtenis geneem. Die derde man is ook kort daarna in hegtenis geneem.

“Ek begin nou eers agterkom hoe goed die Here vir my was.” Claassen het gesê sy is baie dankbaar dat die aanvallers in hegtenis geneem is. “Ek bid net dat hulle die swaarste straf sal kry, sodat hulle dit nie weer aan iemand anders kan doen nie,” het sy destyds gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Boet Fasie ·

Dankie dat die Here met jou was in jou uur van nood. Ek glo die mans moes nog swaarder gestraf gewees het en dat hulle in die tronk moes verrot het ons verdien nie sulke mense in ons land nie.

Pensioenaris ·

Arme mens – dankie vir die genade wat jy ontvang het. Kan nie dink wat jy moes deurgaan nie! Sterkte vir jou.

Domvraag ·

Hoekom ook nie aangekla van aanranding om ernstig te beseer en poging tot moord nie??? Sake van doodskis en kfc was sulke aanklagte. Hoekom dubbele standaarde en stilswye van media hieroor??

Theresa B ·

Ek sien net rooi as ek al hierdie wreedheid op ons mense lees.

Theresa ·

Baie dankbaar dat die dame nie deur meer trauma as waardeur sy is, moes gaan nie. Ongevoelige wesens wat wemel in die land. Wonderlik dat die polisie nie opgegee het nie en aanhou agtervolg het. Gebede verhoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.