Drie weer vas ná Pollsmoor-ontsnapping

Foto’s verskaf deur die departement van korrektiewe dienste in die Wes-Kaap

Drie van die ses verdagtes, wat Sondagaand uit Pollsmoor-gevangenis in Tokai in Kaapstad ontsnap het, is weer in hegtenis geneem.

Simphiwe Xako, Wes-Kaapse woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het aan Maroela Media bevestig drie persone is weer in hegtenis geneem. Besonderhede oor hul inhegtenisneming is nie bekend gemaak nie.

Maroela Media verneem een van die persone is in Kleinvlei aangekeer en twee in Ocean View.

Maroela Medie het vroeër berig die gevangenes het omstreeks 23:00 uit die B5-eenheid van die Pollsmoor Medium B-gedeelte ontsnap. Daar word vermoed dat die ses gevangenes tralies verwyder het deur stukke metaal te gebruik wat hulle verkry het deur een van die beddens te breek.

Een van die ontsnaptes dien 12 jaar tronkstraf uit vir poging tot moord, terwyl die ander ontsnaptes vir minder ernstige misdade gevonnis is.

Lede van die publiek word gemaan om nie die ses ontsnaptes te nader nie, maar eerder enige inligting by die naaste polisiestasie aan te meld.

Xako het bygevoeg die departement het ʼn interne ondersoek na die voorval van stapel gestuur.

Die gevangenes is Gershwin “Oupa” Mol van Kleinvlei, Courley “Boesman” None van Ocean View, Siphenathi Ntantiso van Bloekombos, Courtline Oliver van Matroosfontein, Mervin Witbooi van Eersterivier en Emile Witbooi van Stellenbosch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Primaat ·

Artikel meld: Mervin Witbooi en Emile Linders, terwyl foto onderskrifte meld: Mervin Witbooi en Emile Witbooi?

Alida ·

Lyk my die tralies by die tronke is van plastiek gemaak want hulle ontsnap nou bykans elke dag !!!! Wonder of daar genoeg tronke gaan wees om die onwettige grondbesetters in te huisves dan praat ons nie eers van die grootkoppe wat nou een na die ander aan die pen ry nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.