Drie weer vas wat uit selle ontsnap

Argieffoto

Drie van die vyf mans wat vroeër vandeesweek uit polisieselle in Witpoort buite Lephalale in Limpopo ontsnap het, is vroeër vandag met behulp van gemeenskapslede weer in hegtenis geneem. Die mans was ten tyde van hul ontsnapping verhoorafwagtend.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê in ’n verklaring Paul Madira (19), Lesiba Frans Machaba (27) en Jappie Shiko (29) is vanoggend in hegtenis geneem nadat hulle Maandagaand saam met twee ander makkers uit die selle ontsnap het. Bongani Sibanda (31) en Sipho Mpofu (39) is steeds soek.

Volgens Mojapelo het die polisie inligting ontvang oor waar die verdagtes hulself bevind waarna polisielede Madira en Machaba weer in hegtenis geneem het. Dié twee is aanvanklik in hegtenis geneem op aanklagte van onderskeidelik verkragting en sakeroof.

Gemeenskapslede het Shiko by ’n winkelsentrum buite Lephalale aangekeer en aan die polisie oorhandig. Hy is aanvanklik vir moord in hegtenis geneem.

’n Bykomende aanklag van ontsnapping uit wettige aanhouding staar nou elk van die drie mans in die gesig , sê Mojapelo.

Die polisie doen ’n beroep op enigeen met inligting rakende die twee verdagtes wat nog op vrye voet is om ao. Ratlou Morudu by 082 468 8931 of die Misdaadstopnommer by 08600 10111 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.