Drie wêrelde ontvou in SA munisipaliteite

(Argieffoto: Steve Buissinne/pixabay)

Drie lewenswêrelde het ontvou toe elkeen van die nege provinsies se LUR’e vir samewerkende regering Woensdag terugvoer oor die stand van munisipaliteite in hul provinsies gegee het tydens ʼn marathonvergadering van sewe uur in die Nasionale Raad van Provinsies.

Die eerste lewenswêreld was een van bykans algehele wanbestuur in die Vrystaat, dele van Limpopo, die Oos-Kaap, Noordwes en die hoëveld van Mpumalanga (behalwe die Steve Tshwete-munisipaliteit in Middelburg, waar dinge effe beter gaan).

In hierdie munisipaliteite was daar bitter min tekens van munisipale dienste wat gelewer is. Politieke boewery gekenmerk deur geweld is aan die orde van die dag en munisipaliteite is afhanklik van kenners van buite om enige dienste te lewer.

As voorbeeld (want elke provinsie het sy eie besonderhede) kan die voorlegging van die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering, Skully Nxangisa, geneem word.

Hy het toegegee dat munisipaliteite in sy provinsie heeltemal ineengestort het, asook dat hulle misluk het in hul pogings om die regstellende stappe te doen soos voorgestel deur die ouditeur-generaal se kantoor.

“Dit het ons werklik wakker geskud,” het hy beweer.

Daar was egter voortgesette en omvattende agteruitgang, het Nxangisa erken.

Van die groot uitdagings is dat skuld nie ingevorder word nie, diefstal, onwettige elektrisiteitsaansluitings, groei in salarisse (wat dikwels in die Vrystaat die volle toewysing vanaf die staat opslurp), asook vals data wat verskaf word.

Dis nou as data hoegenaamd verskaf word, want die munisipaliteite Kopanong (Trompsburg), Tokologo (Dealesville), Mafube (Frankfort), Maluti-a-Phofung (Phuthaditjhaba) en Masilonyana (Theunissen) het nog glad nie hul state vir oudit ingehandig nie.

Oor wat ter verbetering gedoen word, het Nxangisa toegegee instandhouding van infrastruktuur vind nie plaas nie, maar ʼn nuwe watertoetssentrum is by Kestell gebou, en jong graduandi is deur die Munisipale Infrastruktuur-Ondersteuningsagentskap (Misa) in die Vrystaat ontplooi om onder meer die waterwerk en begraafplaas in Frankfort reg te ruk, en boorgate te sink in QwaQwa en Vrede se omgewing.

Stadsrade kla egter dat hulle nog geld wil hê, onder meer om navorsers aan te stel en geld vir reis en verblyf te bekostig.

Die Bojanala Platinum-distriksmunisipaliteit spook vandeesmaand wéér om sy werkers te betaal. (Argieffoto: pixabay)

Die nasionale tesourie het R29 miljoen bewillig om die Vrystaat te help, en al 129 senior bestuursposte in die provinsie is gevul.

Daar is wel ietwat patetiese verhale ook, soos een munisipaliteit wat vir tien maande geen rekeninge uitgestuur het nie omdat die drukker gebreek was.

Die tweede lewenswêreld sluit Gauteng, KwaZulu-Natal, die laeveld van Mpumalanga, die Noord-Kaap en dele van Limpopo in. Hoewel dienslewering in dele van daardie gebiede goed is, is dit in ander dele baie sleg.

Dit was opvallend dat die LUR’e vir hierdie gebiede van mening was dat die provinsie self die probleme kan oplos – hulle het nie soveel nasionale regeringshulp soos die munisipaliteite in die eerste leefwêreld nie.

ʼn Voorbeeld was die voorlegging van die Gautengse LUR vir samewerkende regering, Lebogang Maile. Hy het gesê groot probleme word in Johannesburg en Tshwane ondervind, maar Midvaal het ʼn skoon oudit gekry, en Ekurhuleni staan op die punt van ʼn skoon oudit.

Terselfdertyd skuld sommige Gautengse munisipaliteite tot ʼn derde van hul begroting aan Eskom.

ʼn Interessante mededeling deur Maile is dat die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die munisipale bewind van Tshwane Donderdag verwag word.

Die derde lewenswêreld is die Wes-Kaap, waar 27 uit 30 munisipaliteite (almal behalwe die Sentraal-Karoo, Beaufort-Wes en Laingsburg) skoon oudits gekry het, waar die munisipale betaalsyfer 97% is en waar al 30 munisipaliteite tans finansieel in ʼn gesonde toestand is.

Die Wes-Kaapse LUR vir samewerkende regering, Anton Bredell, het gesê 12 van die 20 bes bestuurde munisipaliteite is in die Wes-Kaap, waaronder Mosselbaai, wat die bes bestuurde een is.

Bredell het gewaarsku ʼn tsunami is op pad weens die grendelstaat, met 70% van Wes-Kaapse huishoudings wat sukkel om hul munisipale rekeninge by te bring. Teen 31 Julie was alle munisipaliteite in die provinsie behalwe Beaufort-Wes en Laingsburg wel besig om hul oudit-doelwitte te bereik.

Die geheim van die Wes-Kaap se sukses is invordering van munisipale skuld, en maandelikse vergaderings met elk van die 30 munisipaliteite se tegniese en finansiële afdelings om toe te sien dat die boeke klop en die nodige dienslewering gebeur.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johan ·

Vertaal die berig in Engels en voorsien dit net so aan die President.

christo ·

Ramaphosa is magteloos. Al lees hy hierdie berig, kan hy niks doen nie. Die ANC se NUK kondoneer die gedrag van ANC stadsrade want hulle self is korrup.

ElizeK ·

Skuus Anton, die geheim van die Wes Kaap is dalk wel die invordering van munisipale skuld, maar die hoofsaaklike rede vir ons sukses is dat die DA aan bewind. VIVA DA VIVA!!!!Wens net ons kon die instroming uit ander provinsies, veral die Oos Kaap stop sit. Dit gaan nog ons ondergang ook meebring.

Nie Verbaas ·

ANC, julle is n grap! Totale onvermoe om enige instansie te bestuur is ooglopend. Gee dit op aan mense wat weet wat dit beteken om n besigheid suksesvol te bestuur!

Elize ·

Ek bly in Pretoria en weet nie wat munisipale dienste is nie. Die asblikke staan en vrot maar geen diens word gelewer nie maar o wee kry jou maandelikse rekening en daar word vir hierdie diens geld opgesit. Waarvoor betaal ons as niks gedoen word nie? Die middelmannetjies van die paaie is so oorgroei van gras en bosse dat mens onmoontlik ordentlik in die strate kan kry. Moet altyd meer na die anderkant oorgaan sodat jou motor nie beskadig word nie. Geen gemors word in die strate opgetel nie om nie eers van al die slaggate en geen beligting te praat nie. Die verkeersligte wat al maande nie werk nie word ook nie gepoog om dit reg te maak nie. Maar kom dit by salarisverhogings is hulle eerste in die ry om bakhand te staan en te “demand” want siestog ons werk dan so hard!

christo ·

Solank die amptenare betaal word en agter die Tshwane Metropolisie kan skuil, is als reg.

Baardman ·

Dit help nie jy kry n skoon oudit en jou dorp se infrastruktuur gaan agteruit nie. Die tegniese afdelings moenie net vergader om die boeke te laat klop nie. Het 6 maande gelede saam met DA raadslid in ons dorp (met skoon oudit) gery en gewys onder andere hoe vervalle ons paaie eintlik is. Niks het intussen gebeur. Dis ook net n handjie van die inwoners wat die hele dorp dra.

Kokerboom ·

Die regime hou van vergaderings hou, praat, eet, verblyfkostes eis, en NIKS doen. Hul is gelukkig want nou het hul gepraat. Hul WEIER om die bekende olifant in die vertrek raak te sien.
Die oplossing is doodeenvoudig: Neem erns met die saak, dank AL die nuttelose, lui, onbevoegde, liegende,skelm kaderaanstellings met onmiddelike effek, verminder salarisrekening, raak dadelik ontslae van gierige konsultante en pas professionele bestuur toe. Dis tyd dat CR sy betrokke minister en LUR’e voor stok kry as hy sy land behoorlik wil bestuur. Ons is nou moeg vir die voortslepende twak!!!

Bertus ·

Geen salarisverhogings totdat Raad die basiese dinge reg te doen. Geen verdere raadgewers en kry vrywilligers uit gemeenskap wat bereid is om te help – daar is baie oud amptenare wat onmiddellik sal inspring om te help. Rassisme moet nie nou ‘n rol speel nie

Jack ·

Tipies is die kaders net daar om te tap en niks terug te sit nie. Vervang hulle met plaaslike boere wat met min kennis 100% beter sal vaar.

LANA is ELANè ·

En al wat AL die munsipaliteite doen om nog meer fondse vir korrupsie in te win i, hulle verhoog die erfbelasting op al die middelklas huise in so mate dat dit mense doodwurg en dit geen sin maak om eiendom in hierdie land te besit nie, want danksy al die belastings word jou sg eie woning net nooit ooit jou eie nie! As ek 36 jr terug geweet het wat ek vandag weet het ek vandag geen enkele eiendom op my naam gehad nie, en het ek al my pennies onder my matras in ‘n karavaan gehou en die wêrled vol gereis. Nou verg dit bloedsweet en trane om als bymekaar te hou. Danksy ‘n gulsige regering wat weet hoe om Jan Alleman te verarm!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.