Driehoek-seun vereer met orde vir dapperheid

Roydon Olckers (Foto: Facebook)

Die presidensiële Orde van Mendi-prys vir dapperheid is Donderdag postuum aan die 17-jarige Roydon Olckers toegeken, nadat hy twee medeleerders tydens die Driehoek-tragedie van ’n gewisse dood gered het. Hy het self gesterf nadat ʼn loopbrug by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark inmekaar gesak het.

Roydon se pa, Donovan Olckers, het die orde vanoggend namens sy oudste seun ontvang.

Donovan het dit as ’n bittersoet ervaring bestempel.

“Ek is trots om dit namens my seun te kon ontvang, maar hy is nie meer met ons nie,” het Donovan ná die toekenningseremonie in Pretoria aan Maroela Media gesê.

“Hoewel dit vir my ’n trotse oomblik was, kon ek nie die trane keer nie. Dit het maar spontaan gekom … Baie van die ontvangers het hulle orde vandag vir verskillende redes ontvang en sommige was natuurlik baie opgewonde daaroor. Dit was egter anders vir ons.

“Party het gejubel en ander het gehuil. Dit was ’n eienaardige ondervinding.”

Roydon was in matriek toe hy op 1 Februarie 2019 twee jonger leerders uit die pad gestamp het voordat ’n betonloopvlak by die Hoërskool Driehoek meegegee het.

Roydon en drie ander leerders – Jandré Steyn, Marli Currie en Marnus Nagel – het dié dag hul lewens verloor.

“Ons onthou Roydon as ’n sterk seun,” sê sy pa. “’n Ou met ’n goeie hart. Daar is so baie dinge van hom waarop ons trots is. Sy manier van leef en die invloed wat hy op ander gehad het, was altyd positief.”

Roydon se pa, Donovan Olckers, het die orde vanoggend namens sy oudste seun ontvang. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

“Ons is christene, Godvresende mense, en ons het ons kinders só grootgemaak. Ek is van oortuiging dat die tipe kind wat hy is en die tipe daad wat hy gedoen het, daarvan getuig.

“Ons is dankbaar aan God dat hy iemand kon red. Ons verstaan nie altyd sy optrede en wat daar gebeur het nie. Maar ons is bly dat [die toekenning] klein bietjie positiwiteit uit die tragedie voortbring.”

Maroela Media het vroeër berig die Orde van Mendi vir dapperheid is die hoogste eer wat deur die president van Suid-Afrika toegeken kan word. Dit word toegeken aan individue wat uitsonderlike dapperheid getoon het deur hul eie lewe in gevaar te stel of hul eie lewe verloor het, in ʼn poging om ander lewens te beskerm.

Donovan gee toe dat die toekenning in ’n mate berusting en vertroosting bring. “Daar is verskillende stappe in die helingsproses. Dit is nes ’n roof wat afgekrap word en dan weer vorm, maar elke keer kleiner, voordat dit eindelik gesond word. Net so is hierdie ’n stappie na heelwording.”

Volgens Donovan sal die medalje “met trots” opgehang word by ’n ereplekkie in die gesin se huis in Vanderbijlpark, saam met verskeie ander memorabilia van Roydon.

Die VF Plus-jeug in Gauteng het Donderdag die postume toekenning van die orde aan Roydon verwelkom.

“Met hierdie toekenning sal Roydon se heldedaad nooit vergeet word nie,” sê Morné Erasmus, die VF Plus se Gautengse jeugleier.

Erasmus meen die gesogte toekenning plaas ook weer die veiligheid van skoolkinders en die plig wat op die owerhede rus om toe te sien dat skoolgeboue veilig is, in die kollig.

“ʼn Tragedie soos dié by die Hoërskool Driehoek mag nooit weer gebeur nie. Die jeug is die hoekstene van die land se toekoms en moet gekoester en beveilig word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Zacahara

Saluut, jongman…!!!

Colombo

In die woorde van Zandberg Jansen-Nag ou grootte

Wielspore

Roydon se dapper optrede die dag met die tragedie is ‘n verlenging van sy opvoeding en dit is iets om op trots te wees as ouer.

Willem

Saluut aan die seun wat so dapper opgetree het om ander se lewens te red. Net jammer die toekenning beteken niks.