Driejarige amper uit kar gegryp

Jean-Pierre het Lexi se lewe gered toe hy besluit het om met die voertuig weg te jaag (Foto: Verskaf)

“Ons het als in ons vermoë gedoen om te keer dat ons kind gevat word.”

Só vertel Natalie van Coppenhagen nadat hul driejarige dogter, Lexi, Donderdag in Germiston in Gauteng amper deur hul voertuig se venster gegryp en ontvoer is. Sy sê haar man, Jean-Pierre, wat agter die stuurwiel was, het hul dogtertjie se lewe gered.

Die voorval het die middag omstreeks 13:15 by ’n rooi verkeerslig op Main Reef-weg gebeur.

“Ons ry gewoonlik daardie pad terug huis toe, en weet daar was al talle kapings by daardie spesifieke verkeerslig. Ons sal altyd veral op ons hoede wees wanneer ons daar stop,” vertel Natalie.

Hulle het die middag by die rooi verkeerslig gestop en oudergewoonte heeltyd rondom hulle gekyk.

Lexi het agter in die voertuig gesit en was met ’n sitplekgordel vasgemaak. Natalie sê hulle het Lexi se venster so ’n klein entjie oopgedraai, want sy het heeltyd gekla dat sy baie warm kry.

“Ewe skielik sien ons hierdie man by die venster en hoor toe vir Lexi gil. Hy het slegs sy kop en arms deur die klein opening van die venster gedruk en vir Lexi aan die arms beetgekry. Ek het haar bene gegryp en na my toe getrek. Ek het gevoel ek sal eerder haar beentjies seermaak as om haar heeltemal te verloor.”

Natalie vertel haar man het dadelik weggetrek en die man het sy greep op Lexi gelos.

“My man het sy dogter se lewe gered deur dit te doen. Hy het net aanhou ry totdat die adrenalien ingeskop het en hy besluit het om om te draai en die man te gaan soek.”

Hulle het teruggery na die plek waar dit gebeur het en die man langs die pad gesien.

“Hy het daar gestaan en vir ons gekyk. Ons het ons plaaslike gemeenskapsforum genader en hulle het na ons toe uitgekom. Ons het die man aan hulle uitgeken. Hy het ons net uitgelag en gesê ons het nie ’n lasbrief teen hom nie.”

Die Van Coppenhagens het die voorval by die Germiston-polisie aangemeld. Die stasie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (FCS) gaan die gesin vandag besoek.

Volgens Natalie het Lexi se arms seergekry soos die man haar uit die voertuig probeer trek het.

“Sy vertel net vir almal van die man wat haar wou vat.”

Natalie sê dit is glo nie die eerste keer dat soortgelyke voorvalle by daardie spesifieke verkeerslig gebeur nie.

Natalie en Jean-Pierre is self ook vrywilligers en ambassadeurs vir die niewinsgewende organisasie, Touch of Hope, wat mensehandel asook kindermishandeling ondersoek.

“Omdat ons juis deel is van só ’n organisasie weet ons ons moet voorbereid wees om te voorkom dat ons self slagoffers van mensehandel word. Ongeag hoe voorbereid en versigtig ons ook al was, het dit met ons gebeur. Dit kan met enigiemand binne ’n oogwink gebeur. Jou kind is nêrens meer veilig nie, nie eens in jou voertuig nie,” vertel Natalie.

Die voorval het ’n groot emosionele uitwerking op Natalie en haar man en hulle wil nou meer as ooit ’n bewusmaking van mensehandel en kinderontvoering skep.

“Ons kan nie glo dit het met ons gebeur nie. Ons is dankbaar dat Lexi by ons is, maar ons voel verskriklik kwaad en verbitterd. En daarom wil ons veral ander ouers waarsku sodat hulle nie deur dieselfde trauma hoef te gaan nie.”

Sy beoog om ’n bewusmakingsveldtog van stapel te stuur om ouers opnuut te waarsku om paraat te wees.

“Mense moet weer opnuut besef ontvoering en mensehandel is ’n werklikheid en dit gebeur daagliks rondom ons. Wees paraat en maak dubbel seker jou kinders is veilig. Raak ook bewus van gebiede en situasies wat jy moet vermy. Doen wat jy moet om dit te verhoed.”

Maroela Media het ’n navraag aan die polisie gerig, maar nog geen antwoord gekry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Danie

Julle sal geen antwoord kry want sap is onbevoeg. Jy het nie n lasbrief nodig as n misdaad in jou teenwoordigheid gepleeg word.
Baie geluk aan pa jy is n held vir die nasie!

NEO

Dus is absoluut verskriklik, en die man staan en kyk vir hulle asof hy niks verkeerd gedoen het nie. SAPD absoluut nitteloos. Ons sal paraat moet wees, mense is werkloos en desperaat. Doen enige iets vir geld. Los ‘n afstand tussen jou en die voertuig voor jou as jy by ‘n rooi verkeerslig stop indien jy moet wegtrek en rem. Dit sal die krimineel hopenlik laat los. Sterkte aan die gesin.

Kokerboom

Ons land is soo siek!

FM

Dit maak mens naar.

Tergelykertyd moet ons vir ons mede burgers van die Koninkryk bid en ons kinders en toekomstige geslagte, soos dit ons Vader se wil is, aan Sy Almagtige beskerming gee.

Sylvia

Absoluut ongelooflik. Mens sal moet ‘n paar oë agter jou kop ook moet begin kry.
Ouers moet ook stop om hulle kinders se foto’s oral op die sosiale media te plaas dis deesdae so maklik (blykbaar) om jou fisiese woonadres uit te vind. Dit is hartseer, maar hoe gouer ons vrede maak en waaksaam is, mag ons dalk ‘n paar lewens spaar …