Driejarige brand dood in huis in Germiston

Die kleuter se liggaam is een van die slaapkamers gevind. (Foto: Ekurhuleni-nooddienste)

ʼn Driejarige seuntjie se verkoolde liggaam is vanoggend in ʼn huis in Germiston ontdek kort nadat brandbestryders die vlamme onder beheer gekry het.

William Ntladi, woordvoerder van die Ekurhuleni-nooddienste, het gesê brandbestryders van Germiston, Boksburg en Wadeville is na die huis in Delville ontplooi, nadat die brand kort ná 10:00 vanoggend aangemeld is. Die eerste brandbestryders was binne sewe minute op die toneel.

“Met hulle aankoms het ʼn gedeelte van die dak ineengestort en vlamme uit twee van die vier slaapkamers het reeds na die dak en toe na die res van die huis versprei,” het Ntladi gesê.

Twee slaapkamers is erg beskadig, terwyl die ander twee rook- en waterskade opgedoen het. Die res van die huis is gered.

“Tydens die soek-en-reddingspoging, ná die vlamme geblus is, is die liggaam van die kleuter onder rommel in een van die beskadigde slaapkamers gekry. Die brand het na bewering daar ontstaan. Die kind was volgens aanduidings alleen in die kamer.

“Die oorsaak van die brand word ondersoek,” het Ntladi gesê.

ʼn Vrou is ook op die toneel behandel vir brandwonde aan haar gesig en arms. Sy word tans in die Bertha Gxowa-hospitaal behandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.