Driejarige ‘cowboy’ sterf in fratsongeluk op plaas

A.J. Greyling. Foto's: Verskaf.

A.J. Greyling. Foto’s: Verskaf.

A.J. Greyling, ʼn driejarige seuntjie van die Wes-Kaap, is Woensdag tydens ʼn fratsongeluk op sy oupa se plaas doodgery.

Sy pa Jaco “Tula” Greyling het Vrydag aan Maroela Media gesê A.J. het oudergewoonte die middag tyd saam met sy oupa, aan wie hy baie geheg was, spandeer. Sy oupa se plaas, Wilgevlei in Botha, is sowat 14 km van sy ouers se plaas af geleë. AJ, sy tweelingsussie Jané, en eenjarige boetie Hendrik, het in die middae ná kleuterskool daar gaan kuier terwyl Greyling en sy vrou Riana, by die werk was.

“A.J. was sy oupa se skaduwee,” het Greyling gesê. “Hy is Woensdagmiddag saam met my skoonpa om te gaan pars op die plaas Eilande in Breërivier.”

Hy het gesê dit is nie presies duidelik wat gebeur het nie, want niemand het iets gesien nie, maar hulle vermoed A.J. het moontlik van die trekker waar sy oupa was, na die bakkie geloop om sy waterbotteltjie te gaan haal. “Toe hy terugkom het hy anderkant die parswa gaan staan,” het Greyling vertel. “Ons vermoed hy het gestruikel en onder die parswa beland toe die trekker skielik wegtrek. Die parswa se wiel het oor hom gery.”

A.J. se oupa het met hom na die naaste hospitaal gejaag, waar hy met sy aankoms dood verklaar is.

Greyling het gesê dit is vir almal baie swaar. “Hy en sy oupa was baie geheg aan mekaar. Dit was ʼn nare ongeluk.”

Die Greyling-gesin. Jané en A.J. sit op pa Jaco se skoot, en Hendrik op ma Riana sin.

Die Greyling-gesin. Jané en A.J. sit op pa Jaco se skoot, en Hendrik op ma Riana sin.

Hy het gesê die familie het ʼn goeie ondersteuningnetwerk en word deur hul vriende, familie en predikant bygestaan. “Ons word oorval met boodskappe van medelye van heinde en ver wat ons dra deur die moeilike tyd,” het hy bygevoeg.

A.J. sal onthou word as ʼn “sonskynkind” met ʼn klein hartjie wat baie lief was vir diere en die buitelewe. “Hy was veral baie lief vir perde. Hy het gereeld diereprogramme op televisie gekyk en sou ons vra om die televisie af te skakel as die diere seerkry. Sy gunsteling fliek was oor die perd Spirit.”

Hy is ook ʼn klein cowboy genoem en het gereeld so aangetrek. “Dit kon hoe warm wees, maar hy wou sy stewels, denim en hoed dra.”

A.J. word Saterdag om 09:30 op die familieplaas Wilgevlei te ruste gelê. ’n Gedenkdiens sal daarna om 11:00 in die NG kerk Worcestervallei gehou word.

Greyling het namens die gesin en familie almal vir hul liefde en ondersteuning bedank. “Daar het so baie boodskappe en oproepe gekom dat dit onmoontlik is om almal persoonlik te bedank, maar ons wil dankie sê daarvoor want dit vat die seer so bietjie weg en versterk ons vertroue dat Hy ons sal dra,” het hy gesê.

Greyling het gesê die polisie het reeds die ondersoek afgelas en geen verdere stappe gaan gedoen word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

ladybug ·

Sterkte vir die familie, arme oupa voel seker verskriklik!

Rus in vrede klein “cowboy”.

Elize ·

Dit is vreeslik hartseer. My hart bloei saam met julle. Sterkte aan die hele familie.

Jacqueline Lohmann ·

Dis sekerlik die bitterste seer wat enige ouer kan deurgaan, God het sy brokkie sonskyn kom haal om sy plaas in die hemel te gaan bou, Baie sterkte aan jul…..

Pierre Celliers ·

Niemand weet wat gebeur het nie. Voordat die trekker wegtrek maak jy tog seker die kind is veilig weg van die parswa. My persoonlike gevoel is, hier was groot nalatigheid gewees.
‘n Verskriklike tragedie!!

Emilia ·

Pierre, wil jy nou die oupa nog slegter laat voel??? En was jy nog nooit so besig met werk en vir n oomblik vergeet van iemand? Regtig waar , jou ‘comment’ is BAIE onsensitief

Pierre Celliers ·

Emilia
Die oupa moet baie sleg voel, ek verstaan dit, ek is self ‘n oupa van vier diamante!
Die idee is nie om hom slegter te laat voel nie, maar eerder om attent te maak op die feit dat die die kind behoort elke oomblik wat hy by sy oupa op die plaas is, sy veiligheid deurentheid verseker word. Jy “vergeet nie vir ‘n oomblik”, jou kleinkind se teenwoordigheid nie, vernaamlik as jy ‘n trekker aan die gang sit!!
‘n pragtige kind se lewe is weg, en dit kon verhoed gewees het! Hierdie gebeure maak my woedend! Leef daarmee saam Emilia en Marinda!

Asjas ·

Pierre, ek stem saam met jou. Ek werk self op ‘n plaas. Ons laat geen kinders onder 12 toe nie en NOOIT sonder toesig nie. Op daardie ouderdom moet kinders die heeltyd dop gehou word maar, in lig van die vreeslike tragedie en hartseer moet ons maar liefs net simpatie betoon.

Pierre Celliers ·

Dankie Asjas, en ek voel saam met die hele familie, dis ‘n verskriklike ding wat hulle oorgekom het!

Loes ·

laat hy wat sondes fout is n klip optel en gooi. onthou net dat wat jy nou verkondig jou ook sal oorkom. my hart gaan uit na die ouers en grootouers. ek glo nie iemand was nalatig of aspris nie. dit was n ongeluk wat enige mens kon oorkom sterkte aan die mense wat die verlies voel . en vlieg maan toe aan die wat met beskuldigings kom

Nina ·

Wat ‘n pragtige seuntjie! Innige simpatie aan elkeen wat geraak word.

Pierre Celliers, wie het doodgegaan en JOU God gemaak?

Pierre Celliers ·

Nina, siesa, jy’s ‘n lelike mens en jou kommentaar spreek duidelik daarvan!!

Nina ·

Werklik? En die rotse wat jy sommer vinnig gegooi het was vanpas en baie mooi? Kyk na jouself.

Marinda ·

Ja ek stem saam. Pierre jou comment was baie beslis ongevraagd. Wou jy net iets geskryf het en nie geweet wat om te skryf nie. Is jy volmaak dat so iets jou nie kan oorkom nie???

Baie sterkte aan die familie. Ons bid vir julle vir krag.

Barbara ·

Ja Pierre, regtig as jy nie bemoedigend kan se nie bly eerder net stil die mense het genoeg seer om nog met jou negatiewe aanmerking ook te moet deel, hier die geval laat mens dink aan die fliek FAITH LIKE POTATOES, my hart bloei vir die familie en veral die oupa,

Marianna ·

Agge nee…dis omtrent n hartseer storie…so mooi seuntjie….baie sterkte aan die familie en die arme oupa ook…n ongeluk gebeur so vinnig…dis so jammer…ons gebede is met julle…

martie labuschagne ·

Ek kan net se die dag as jou naam in die lewensboek opgeskryf word is jou pad vir jou uitgele onse Hemelse Vader weet presies wanneer en hoe hy ons sal kom weg vat van ons geliefdes met of sonder toesig rus sag liewe cowboy xxx

Neptunus ·

Martie, sonder om lelik te wees, as ‘n kind byvoorbeeld verkrag en vermoor word deur ‘n boosaardige mens, kan ons aanvaar dit was die lewenspad wat God vir daardie slagoffer bestem het? Ek verskil met respek van jou. Hy gee ons elkeen ‘n vrye wil om te besluit, anders is almal robotte wat bloot hulle bane voltooi, en dan sou niemand mos kon help vir wat hulle in die lewe bereik of aanvang nie?

Charles ·

Moenie klippe gooi as jy in n glashuis bly sterkte aan die familie

Rienie Horak ·

My innige meegevoel met die heengaan van jul sonskynkind. Niemand wat nog nie ‘n kind verloor het, weet waardeur jul gaan nie. Mense is wreed met hul aanmerkings. Hoop net hul hoef nie deur dieselfde pyn te gaan nie. Ons het ons liefling seun 17 jaar gelede op 2 jarige ouderdom deur ‘n fratsongeluk verloor. Die pyn raak draaglik met tyd, mens leer om daarmee saam te leef, maar die wonderlike herinneringe sal vir ewig in jul harte voortleef. Baie sterkte en mag God se krag julle deur hierdie moeilike tyd dra.

Gert de Wet ·

Kaaiman:
Jacqueline wat skryf dat God sy brokkie sonskyn kom haal het om sy plaas in die hemel te help bou, praat absolute snert. Dis sulke ondeurdagte, ongegronde stellings wat my oortuig dat nog geen mens op aarde weet hoe en waarom gebeure soos hierdie plaasvind nie. As ek die Oupa van die kleinding was en Jacqueline se stelling is waar, het ek blydskap in my hart gehad omdat hy nou opgeroep is om op die “hemelplaas”te werk. Watter nonsens kan mense tog kwytraak!

Neptunus ·

Baie hartseer. Pierre is egter reg, ‘n driejarige is uitgelewer en so veilig as wat sy toesighouers hom toelaat om te wees. ‘n Ongeluk is wanneer die trekker omval of ‘n ketting breek en iemand dood. Die oorsaak van dood is ‘n volwasse persoon se nalatigheid. Niemand het bedoel dat die seun iets oorkom nie maar hulle het ‘n plig gehad om na hom om te sien.

Nella ·

Dit is nie nalatig nie,dis hoekom dit n ongeluk genoem word.. My seun het gif gedrink op 21 maande en my dogter het amper verdrink op 21 maande. Dit was nie hul tyd. En na 26 en 20 jaar later verwyt ek myself. Ongelukkig kan jy nie elke sekond hul dophou. En ek was n briljante ouer. My hart bloei vir die ouers en oupa. :-(

Neptunus ·

My simpatie met jou verlies en ek dink jy behoort jouself nie verder te verwyt nie. Net so behoort wie ookal hierdie seuntjie moes oppas hom of haar nie vir ewig te verwyt nie. Niemand verdien om so iets oor te kom nie. Jammer, maar jy verstaan egter nie die begrip nalatigheid nie. Al gesien hoeveel kennisgewings en reëls is ter sprake in byvoorbeeld ‘n fabrieksperseel oor veiligheid? Die tragedie het in ‘n werksomgewing gebeur waar met industriële toerusting gewerk is. Ek wonder wat die naasbestaandes of kommentators op hierdie blad sou gesê het as ‘n plaaswerker of bediende na hierdie seun se veiligheid moes omsien en hy onder hulle toesig gesterf het? Of as hy byvoorbeeld by sy kleuterskool of dagmoeder iets moes oorkom? Onthou jy die geval van die seuntjie wat by Stonehaven doodgeskok is by die springkasteel? Die eienaars van die perseel het skuldig gepleit op strafbare manslag. Ek sê nie dit kan nie my oorkom nie, maar mens moet verantwoordelikheid aanvaar vir jou dade.

Louise ·

Ek hoop dat die wat klipp gooi, stewig op hul perfekte klip sit …

hennie ·

My innige simpatie! Die probleem wat ek het is dat n 3 jarige sonder toesig was in n omgewing waar daar gewerk word met voertuie en masjienerie! Al was die seuntjie net vir n kort rukkie of selfs sekondes sonder toesig is nalatigheid die oorsaak , iets wat NOOIT moes plaasgevind het nie! n Driejarige hoort nie in n werksopset nie!

Pierre Celliers ·

hennie, dankie dat jy die realiteit eien in hierdie tragedie.

Lindie Lourens ·

Ek is seker dat hierdie kleinding daar was waar dit vir hom elke dag die lekkerste was- op die plaas saam met sy Oupa. Vir 3 jaar was sy lewe ‘n vol, gelukkige lewe. Nie 3 jaar van frustrasie omdat hy nie buite saam met sy Oupa kon wees nie. Hy het GELEWE, meer as wat ons van baie grootmense kan sê. Dis swaar en dis seer- sterkte, liefde en baie genade vir almal wat so hartseer is.

stephan ·

Baie sterkte aan die familie. Ek sal nie weet wat om te doen as dit my kind, of kleinkind was nie. Die mense wat klippe gooi en nog nooit n foud gemaak het nie, almal ons normale mense het al almal foute gemaak wat ook in tragedie kon uitgedraai het. Weereens sterkte, en die familie is in ons gebede.

Carolina ·

Mag die Here die familie versterk en vertroos in hierdie hartseer tyd.

Mari Buitendag ·

Mag God troos en die trane afdroog. Julle Klein Cowboy is veilig by Jesus. Ons gebede met julle familie, en Oupa. Kleinding sou nie op daardie minuut daar wees as’n Groter Hand hom nie daarheen gelei het nie. Innigste meegevoel

Gideon ·

Ek voel baie jammer vir almal betrokke, maar al wil ons dit nie erken nie, dit het gebeur omrede die klein seun wat al so deel was van die plaas opset nie meer so streng dopgehou is, soos wat veronderstel was nie. Oupa ek kry jou innig jammer, en ek kan glo jy en jou familie is gebroke. Sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.