Driejarige en gesin se stryd ná skokdiagnose

Klein Chereez Nel. (Foto: Verskaf)

Klein Chereez Nel. (Foto: Verskaf)

ʼn Ouerpaar van Boksburg in Ekurhuleni se wêreld is in Februarie vanjaar onverwags op sy kop gekeer toe ongedifferensieerde sagteweefselsarkoom by hul driejarige dogtertjie gediagnoseer is.

Angelique Nel, klein Chereez se ma, het aan Maroela Media gesê Suid-Afrikaanse laboratoriums kon nie die tipe kanker wat Chereez het, identifiseer nie. “Ons het monsters van haar kankergewas na Switserland en die VSA vir toetse gestuur, maar tot dusver is die identifikasie van Chereez se tipe sarkoom-kanker onsuksesvol.”

Sy vertel haar gesin se nagmerrie het begin toe Chereez van pyn in haar regterwang gekla het. “Ek en haar pa, Pieter, het gesien daar is ʼn effense swelling en ons het haar dadelik dokter toe gevat. Die dokter wat haar ondersoek het, het ʼn klein gaatjie in haar oor gesien en gesê dit is as gevolg van ʼn infeksie nadat water vermoedelik in dié gaatjie ingegaan het.”

Chereez, die Nel-egpaar se enigste kind, is vir ses weke met ʼn sterk antibiotika behandel, maar toe die swelling vererger, het Nel geweet iets is nie pluis nie. “Ons het Chereez na ʼn oor-, neus- en keelspesialis, dr. Aslam Khan, by die Netcare Sunward Park-hospitaal geneem. Dr. Khan was ook nie seker wat fout is nie en as gevolg van die swelling was die gaatjie ook nie meer sigbaar nie. Hy het besluit om haar vir ʼn CT-skandering te stuur.”

Klein Chereez Nel veg verbete. (Foto: Verskaf)

Klein Chereez Nel veg verbete. (Foto: Verskaf)

Nel sê dit is toe dat hul lewens handomkeer verander het. “Die dokter het ons meegedeel dat Chereez ʼn gewas onder haar brein het. Hulle het dadelik biopsies gedoen en toe het ons die nóg slegter nuus ontvang dat die gewas kwaadaardig is en dat dit ʼn aggressiewe tipe kanker is wat vinnig besig is om van haar kop na haar gesiggie toe te versprei.”

Sy vertel hulle is vandaar verwys na dr. Kate Bennett, ʼn pediatriese onkoloog van die Donald Gordon-mediese sentrum in Johannesburg. Dié sentrum spesialiseer in die behandeling van kankerpasiënte.

“Dr. Bennett het ons ingelig dat Chereez fase drie ongedifferensieerde sagteweefselsarkoom het. Omdat Chereez se omstandighede so uniek is, moes dr. Bennett met buitelandse dokters in verbinding tree.”

Sy sê daar is tans sowat 25 buitelandse dokters wat aan Chereez se unieke geval werk. “Ons is baie verlig dat die toetse wat op die res van haar liggaampie gedoen is, skoon uitgekom het.”

Chereez het sowat ʼn week ná die skokdiagnose ʼn operasie ondergaan waar ʼn chemo-stent in haar bors geplaas is. “Sy ontvang tans weekliks, van Donderdag tot Sondag, chemoterapie by die Donald Gordon-mediese sentrum. Die chemobehandeling moes van die VSA af ingekry word, omdat sy so ʼn unieke geval is,” verduidelik Nel.

“Aanvanklik het ons beplan om die eerste tien weke aggressiewe chemoterapie vir drie aaneenlopende dae toe te dien, en daarna sou ʼn operasie gedoen word om die gewas te verwyder. Ná dié operasie sou sy nog ses maande se behandeling ontvang het.”

Volgens Nel is dié beplanning twee weke gelede in die wiele gery toe dokters deur middel van ʼn MRI-skandering vasgestel het dat die gewas Chereez se skedel binnegedring het.

“Die dokters het ons aangeraai om nie voort te gaan met die operasie nie, aangesien dit ʼn ingewikkelde operasie met verskeie komplikasies sou wees. Hulle sou ook nie die gewas heeltemal kon verwyder nie weens die betrokkenheid van die skedelbasis.

“Dit sou ook beteken dat haar kakebeen in twee geskei moes word, en ʼn stukkie van haar bobeen sou saam met ʼn plaat in haar kakebeen ingeplant word. Sy sou ook vorentoe gereelde plastiese chirurgie moes ondergaan.”

Sy vertel die dokters het die besluit geneem om eerder voort te gaan met die aggressiewe chemoterapie en het ook met bestraling begin. “Daar is twee soorte behandeling wat Chereez kan ontvang. Die eerste tipe behandeling word IMRT-bestraling genoem en die tweede tipe Proton-bestraling. Albei dié tipes behandeling het egter newe-effekte soos visuele probleme, groeivertraging en gehoorverlies, om net ʼn paar te noem.”

Nel verduidelik dat hulle die Proton-behandeling verkies, omdat dit die gesonde omliggende weefsels spaar en die newe-effekte beperk is. Die kans dat Chereez in die toekoms plastiese chirurgie moet ontvang, word ook verminder.

“Die ongelukkige deel is dat die Proton-behandeling slegs in die VSA gedoen kan word en die koste R3,1 miljoen beloop. Die behandeling sal by die Maryland Proton Treatment Center gedoen word. Dit sluit nie verblyf vir die ses weke van behandeling en ander onkostes soos vlugte in nie. Ons het egter net ses weke om dié fondse in te samel.”

Nel sê al is dit ʼn frustrerende tydperk, is Chereez se gemoedstoestand goed. “Sy is ʼn happy chappy, al is haar selfvertroue effe geknou. Sy verstaan ook natuurlik nie heeltemal wat aangaan nie, omdat sy nog baie klein is. Ek het net vir haar gesê dat daar ʼn monstertjie in haar kop is.”

Om betrokke te raak, besoek Chereez se Facebook-blad of kontak vir Angelique Nel by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andrea ·

Liewe ouers en ou klein poppie, wat sê mens oor hierdie trauma? Net die Here weet waarom sulke dinge gebeur. Mag Hy dan ook jul hande vashou, jul versterk en bemoedig.?

LOL ·

Jy lyk soooooo ougat in jou ‘Super Woman’ pakkie Chereez!! Jy is n ‘Super Girl’ met die mooiste glimlag. So dapper!
Dink aan julle.

Diefie ·

Chereez mag God jou genees en saggies en teer in Sy hand van beskerming hou.

Johan ·

Hier sit ek n 47 jarige man en huil, wens ek kon die mense help met n paar miljoen .Sterkte vir julle jong en bederf vir super girl soveel julle kan.

Gestremde ·

Graag doen ek ‘n beroep op sangers en ander fondsinsamelaars om die familie te help. Sien geen ander moontlike manier om die bedrag te bekom nie. Sterkte aan Chereez en mag die Here haar genees.

'n ma ·

Trump se vrou Melania?, ag ek dink net,
maar vra vir hulp..is vry en
res van sin maak nie saak.
Sterkte vir al die geliefdes ken van daai moeilike
pad maar GLO NET jul loop hom nie alleen.

Engela ·

Ek hoop daar kom ‘n weldoener na vore wat julle finansieël kan help! Sterkte en hou moed.

Tania Maree ·

Ek vra dat GROOT instansies na vore sal tree en HELP en n BYDRA sal maak ASB om hierdie familie uit te help. Dar is net 6 weke oor om 3 Miljoen in te samel-hulle het dringend U hulp nodig- Ons die publiek ondersteun julle instansies-dus vra ons as die publiek ,julle hulp ,om hierdie gesin NOU OOK TE HELP ASB!!Wys dat julle instansie ook omgee en hulp verleen aan die publiek-en julle sal geseen word! Baie Dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.