Driejarige gesoek ná ontvoering op strand

Nefrin Lucraine Roberts saam met sy ouma, Lucinda Roberts. Foto: Verskaf deur SAPD

ʼn Soektog is van stapel gestuur na ʼn driejarige seuntjie wat glo Vrydagmiddag op ʼn strand in Port Elizabeth ontvoer is.

Nefrin Lucraine Roberts was saam met sy ouma, Lucinda Roberts (52), op ʼn strand in Summerstrand toe hy na bewering deur ʼn vrou ontvoer is wat haarself as “Meagan” voorgestel het.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê Roberts het saam met klein Nefrin vir die seuntjie se ma gewag om hulle te kom haal. Terwyl hulle gewag het, het ʼn vrou met Roberts begin gesels. Sy het haarself as Meagan voorgestel en beweer sy is van Schauderville afkomstig.

Die twee vroue en Nefrin het op die strand gesit en kuier terwyl hulle vir die seuntjie se ma gewag het wat glo nooit opgedaag het nie.

“Omstreeks 18:00 het die sogenaamde Meagan na ʼn nabygeleë winkelsentrum gestap om sigarette te koop. Sy het die seuntjie saam met haar geneem en nooit weer teruggekeer nie,” sê Naidu. Die voorval is Saterdagoggend by die polisie aangemeld.

Nefrin het ʼn blou broek en grys sweetpaktop aangehad toe hy verdwyn het. Hy is van Uitbreiding 31 in Bethelsdorp afkomstig.

ʼn Skermskoot uit kringtelevisiebeeldmateriaal van die verdagte waarna die polisie op soek is. Sy het haarself as “Meagan” voorgestel. Foto: Verskaf deur SAPD

Volgens Naidu is “Meagan” vermoedelik tussen 25 en 30 jaar oud met ʼn donker gelaat. Sy kan vlot Afrikaans en Engels praat en het ʼn tatoeëermerk op haar arm en enkel. Ten tyde van die ontvoering het sy ʼn pienk gestreepte hemp met pienk jeans en swart tekkies aangehad. ʼn Serp was om haar hare gebind.

Die foto’s in die berig is afkomstig van kringtelevisiebeeldmateriaal by die supermark waar “Meagan” die sigarette gaan koop het. ʼn Saak van ontvoering word ondersoek.

Enigiemand met meer inligting word versoek om kapt. Machewula by 071 352 4644 of die naaste polisiestasie te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.