Driejarige kritiek ná Westbury-skietery

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Driejarige kind is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal nadat hy in die kruisvuur van ʼn skietery in Westbury, Gauteng, beland het.

“ʼn 24-jarige man is in verband met die skietery in hegtenis geneem,” het ao Gordon Billing, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die skietery het Saterdagaand op die hoek van Statler- en Croesusstraat plaasgevind.”

Die kleuter en ʼn 26-jarige man het in afsonderlike voertuie in die gebied gery toe hulle getref is. Hulle is al twee na nabygeleë hospitale geneem vir mediese behandeling. Die man is in sy regterarm getref en hy is in die hospitaal behandel en reeds ontslaan.

EWN berig die kleuter het saam met sy ma, drie ander kinders en twee volwassenes in ʼn motor gery toe die skoot hom getref het.

“Ooggetuies het die 24-jarige verdagte aan die polisie uitgewys, voordat hy in hegtenis geneem is,” het Billing bygevoeg. “Die motief vir die skietery en die aantal skote is nog nie bekend nie,” het hy gesê.

Die polisie het nog nie die vuurwapens opgespoor nie.

Die verdagte sal binnekort in die Sophiatown-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.