ʼn Driejarige is in ʼn ernstige toestand nadat haar arm Saterdag by ʼn maatskappy in Montague Gardens in Kaapstad in ʼn voerband vasgesit het.
“ʼn Familielid het die dogtertjie gedra toe paramedici by die toneel opgedaag het,” het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, in ʼn verklaring gesê. Haar geskokte ma het langs hulle geloop. “Sy het haar arm baie ernstig beseer. Sy is na die Rooikruis-hospitaal geneem vir verdere behandeling.”
Die kind het glo begin dwaal terwyl haar ma gewerk het en sy het met die voerband begin speel. Omstanders het die masjien gestop en haar uit die masjien losgewikkel voordat paramedici opgedaag het.