Driejarige se leweroorplanting ‘tweede kans op lewe’

Chi-Nelri (Foto: Verskaf)

“Ek was emosioneel. Ek het besef dat dit dalk moontlik die laaste keer is wat ek haar gaan sien.”

Só vertel Steve Smith oor 9 April, ʼn dag vir ewig in sy geheue ingeëts, toe sy geliefde driejarige dogtertjie, Chi-Nelri, in die Donald Gordan-hospitaal in Johannesburg ’n leweroorplanting moes ondergaan.

Dié leweroorplanting was suksesvol, maar vir Chi-Nelri is daar nog ʼn lang pad wat voorlê.

Chivon Smith, Chi-Nelri se ma, vertel hul dogter is gebore met ’n seldsame genetiese toestand wat dit vir die liggaam moeilik maak om skadelike cholesterol uit die bloed te verwyder. Dié toestand veroorsaak dat Chi-Nelri gevaarlike hoë vlakke cholesterol in haar bloed het, tot vier keer hoër as die normale cholesterolvlak.

Chi-Nelri was twee jaar oud toe die toestand by haar gediagnoseer is. Die hoë vlakke cholesterol in haar bloed het veroorsaak dat geel vratte onder haar vel by haar elmboë, enkels en agter haar knieë vorm. Dokters het tóé vasgestel dat die cholesterol soos vet onder haar vel na buite uitslaan.

Chi-Nelri in die hospitaal (Foto: Verskaf)

Volgens Chivon moes haar dogtertjie ook ’n bril begin dra omdat haar oë skade opgedoen het as gevolg van die hoë cholesterolvlakke. “Dit is ’n uiters skaars geval dat die oë aangetas word,” vertel sy.

Sowat ’n jaar gelede het Chi-Nelri se hart gaan staan. Die medikasie wat die dokters vir die hoë cholesterolvlakke voorgeskryf het, het nie gehelp om die vlakke vinnig genoeg af te bring nie.

Prof. Frederick Johan Raal, ’n endokrinoloog, het ʼn leweroorplanting voorgestel. Hy het gesê sonder die leweroorplanting sou Chi-Nelri heel moontlik voor die ouderdom van vyf jaar oud sterf aan ’n noodlottige hartaanval.

Chivon se skoonsuster, Deidré Cronje, het daarna toetse ondergaan en daar is bevind dat sy geskik was om ’n gedeelte van haar lewer aan Chi-Nelri te skenk. Hoewel die leweroorplanting ’n sukses was en Chi-Nelri se cholesterolvlakke daarna drasties afgeneem het, is die toekoms wel nog duister vir die klein vegtertjie.

Ousus Von-Veve het baie swaar gekry toe Chi-Nelri siek was (Foto: Verskaf)

Chivon vertel dat die kardioloog verlede week ontdek het dat hul dogter ’n gaatjie in haar aorta het. Haar hartjie klop baie vinnig. “Die rede hiervoor is omdat ons destyds so lank vir ’n lewer moes wag. Dit het spanning op die hart geplaas,” vertel ’n emosionele Chivon.

Ten spyte hiervan gaan dit nou, meer as drie maande ná die operasie, baie beter met Chi-Nelri. “Sy is ons klein wonderwerk. Ons dank God dat ons ’n tweede kans gekry het,” sê sy.

Die episode met Chi-Nelri se leweroorplanting het die Smith-ouerpaar se uitkyk op die lewe heelwat verander. “Ek voel ons sal iets moet doen vir mense om hulle te laat besef hoe krities belangrik dit is om ’n orgaanskenker te wees,” sê Chivon.

Sy en haar man het ’n bewusmakingsveldtog begin waardeur hulle mense bewus wil maak van die noodsaak van orgaanskenking en die feit dat daar so baie pasiënte is wat ʼn gesonde orgaan nodig het, maar nié hierdie tweede kans kry nie.

Chi-Nelri in die hospitaal (Foto: Verskaf)

Aangesien Augustus juis orgaanskenkingsmaand is, is Chi-Nelri se leweroorplanting deur ’n videograaf van Londen verfilm en sal dit op 26 September gepubliseer word as deel van hulle bewusmakingsveldtog.

“Ons wil mense hoop gee deur Chi-Nelri se storie te vertel,” sê Chivon.

Chivon vertel dat die Orgaanskenkingstigting hulle ook genader het om Chi-Nelri se storie met ander te deel. Die Smith-ouerpaar is ook in gesprek met verskeie organisasies om betrokke te raak by hul bewusmakingsveldtogte en lewer ook praatjies by verskeie geleenthede.

Die hartseer realiteit is dat ’n tiende van die pasiënte sterf omdat hulle nie betyds ’n skenkingsorgaan kan kry nie aangesien daar so ʼn groot tekort aan orgaanskenkers en organe is. “Een sterfte is al klaar te veel. Ons kan dit verhoed,” sê Chivon.

Besoek Chi-Nelri se Facebook-blad om uit te vind hoe jy ’n bydrae kan lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Blommie ·

Ek is so bly vir julle tweede kans, ek is n trotse orgaan skenker en verstaan nie hoekom mense wonder of dit die regte ding is nie.
Wat gaan jy tog doen met jou organe as jy eendag sterf…

Son ·

Blommie, ek stem saam, ek is ook n orgaan skenker. As dit my kind was sou ek hoop daar is orgaan vir haar, nes ek hoop daar is vir almal nodig het.
En mens weet nooit as ons of geliefde dit sal nodig he.
So ek wil iemand eendag kan help.

leser ·

sterkte vir chi-nelri, en die ouers, ek dra julle aan Jesus op in my gebede, mag Hy julle in alles bystaan en help vir genesing

Henry ·

Neef ons bid elke dag vir julle. Die Here is goed en kyk na sy engele.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.