Driejarige spoorloos ná mans in bakkie met hom wegjaag

Klein Onalerona Riet word sedert Maandagaand vermis. (Foto: Verskaf)

Die Vrystaatse polisie is op die spoor van ʼn groep mans wat Maandag met ’n kleuter in ’n rooi bakkie in die omgewing van Bainsvlei buite Bloemfontein op die vlug geslaan het. Die driejarige seuntjie is sedertdien spoorloos.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê vyf gewapende mans het Maandagaand op ’n kleinhoewe in Abrahamskraal aangekom op soek na die kêrel van klein Onalerona Riet se ma.

Die ma het ingestem om die mans na die dieseldepot in Baylana naby die R64 te neem waar sy haar vriend vroeër gesien het.

Die ma het Onalerona saam met haar geneem en het in die passasiersitplek van die mans se bakkie geklim.

By die dieseldepot aangekom, het die ma Onalerona in die bakkie gelaat en saam met die mans uitgeklim om na haar vriend te soek.

Die mans het egter veiligheidswagte by die depot opgemerk en skote in die lug afgevuur voordat hulle terug na die bakkie gehardloop en op die vlug geslaan het – met die kleuter nog op die passasiersitplek.

’n Saak van ontvoering is reeds by die polisie op Bainsvlei aanhangig gemaak.

Die polisie is op soek na ’n rooi bakkie sonder ’n kap.

Enigiemand met inligting rakende die vermiste kind word versoek om kapt. Thapelo Motseki by 082 4668 405 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Die gemeenskap gaan reg in eie hande neem en geen patetiese regstelsel of pap polisiemag gaan dit kan keer nie . Hou maar dop .

Tokkel

Ai tog, hoop die seuntjie word gevind en die gemors wat sulke dinge doen ook.

Pablo

Arme kind. Wat het hy gedoen om dit te verdien

piet

Hoekom nie net die kind uit die bakkie haal nie, hulle was mos agter die vrou se kerel aan.

AW

Die Land het SIEK mense , met soveel Regte !!