Driejarige steeds kritiek ná skietery

Argieffoto

Argieffoto

Die driejarige seun wat Saterdagaand gewond is nadat hy in die kruisvuur van ʼn skietery in Westbury, Gauteng, beland het, is steeds in ʼn kritieke toestand.

“Hy word tans deur masjiene aan die lewe gehou,” het ao. Gordon Billing, ʼn woordvoerder van die polisie, Maandag gesê.

ʼn 24-jarige man is reeds in verband met die skietery in hegtenis geneem. Die skietery het Saterdagaand op die hoek van Statler- en Croesusstraat plaasgevind.

Die seun en ʼn 26-jarige man het in afsonderlike voertuie in die gebied gery toe hulle glo deur dwaalkoeëls getref is. Hulle is al twee na nabygeleë hospitale geneem vir mediese behandeling. Die man is in sy regterarm getref en hy is in die hospitaal behandel en reeds ontslaan. Die seun het glo saam met sy ma, drie ander kinders en twee volwassenes in ʼn motor gery toe die skoot hom getref het.

Ooggetuies het die 24-jarige verdagte aan die polisie uitgewys, voordat hy in hegtenis geneem is.

Die polisie het nie vuurwapens opgespoor nie.

Billing het gesê die motief vir die skietery is nog nie bekend nie.

Die verdagte sal na verwagting Dinsdag in die Sophiatown-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot moord.

Intussen het ʼn groep inwoners Maandag by die ingang van die Sophiatown-polisiestasie, waar die verdagte aangehou word, saamgedrom. Hulle het daarop aangedring dat die man nie op borgtog vrygelaat word nie. Hulle het omstreeks 10:00 bymekaargekom, en het daarna weer die toneel verlaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.