Driejarige verdrink in puttoilet

(Foto: Shutterstock)

Die driejarige Unecebo Mboteni is oorlede toe hy in ʼn puttoilet by die Little Champions-dagsorgsentrum in Mdantsane, Oos-Londen, verdrink het.

Horatio Hendricks, die DA se skaduminister oor onderwys, het gesê die voorval het verlede week plaasgevind.

“My hart is gebreek oor dié sinnelose verlies aan lewe. Ek betuig my innige meegevoel aan die familie. Dit is ʼn tragedie dat hierdie jong seun se lewe op só onmenslike manier kortgeknip is.”

Hendricks sê hy is ook woedend dat nóg ʼn kind sy lewe in ʼn puttoilet moes verloor terwyl die president, die premier en die Oos-Kaapse LUR vir onderwys almal net lippediens doen wat die probleem betref. “Hulle versuim om op te tree. Die ANC-geleide regering se voortgesette gebrek aan optrede het nog ʼn kind sy lewe gekos.”

Hy meen dit is onaanvaarbaar dat kinders vandag nog blootgestel is aan lewensgevaarlike puttoilette. “Hoekom moet ons kinders in menslike vuilgoed sterf?”

Een van die onderwysers het Donderdag glo opgemerk dat Unecebo vermis word. Hulle het hom in die puttoilet opgespoor. Hy is na ʼn hospitaal gehaas, maar het die volgende dag gesterf.

“Aangesien hierdie privaat instansie ʼn staatsubsidie ontvang, het die departement ʼn plig om seker te maak dat hierdie tipe plekke aan veiligheidstandaarde voldoen.”

Fundile Gade, LUR vir onderwys, het in reaksie op ʼn parlementêre vraag laat verlede jaar gesê dat 113 041 leerders by 427 skole reg oor sy provinsie steeds puttoilette gebruik, aldus 2023-syfers.

“Hierdie toilette is lewensgevaarlik, veral vir jonger leerders. Hulle kan maklik in die put val. Van die 427 skole wat genoem is, is 141 laerskole. Alhoewel hierdie kleuterskool in privaat besit is, ontvang dit ʼn subsidie van die departement van onderwys.”

Hendricks sê hy sal die voorsitter vir die portefeuljekomitee oor onderwys, Mpumelelo Saziwa, skriftelik versoek om ʼn volledige verslag te verskaf oor dié voorval, insluitend besonderhede van alle befondsing en die nakomingstoetse wat gedoen is voor die finansiering verskaf is.

“Alhoewel niks klein Unecebo kan terugbring nie, moet ons seker maak dat, indien daar bewese nalatigheid was, dat diegene wat verantwoordelik is, aanspreeklik gehou word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Delia ·

As dit enige ander skool was, was dit summier toegemaak en EFF het op die stoep gedans.

Andries ·

Wat n blessit se skande! Di regering wil met NGV “beter mediese sorg vir Almal” voorsien. Help absoluut niks indien kinders in put toilette verdrink. Niks indien daarbskoon suiwer drinkwater is ni. Niks indien riool deur huise en in strate af loop ni…

Pieterbusa ·

Heel waarskynlik, weet nie een van ons ministers, of enige parlementslede wat ‘n puttoilet is nie.

koos10 ·

Die ANC voel vere vir “our people” behalwe as hulle moet stem. Is daar enige betroubare inligting oor hoeveel skole spoel toilete en hoeveel het put toilete, en hoeveel het glad nie. En dan sommer hoeveel geld die ANC regering op skole infrastruktuur spandeer het, oor die afgelope 30 jaar.

Miskruier ·

My ouers het 7 kinders grootgemaak op n put toilet. Toesig was die belangrikste faktor.

Martie ·

Hierdie mense se klein kindertjies gebruik nie toilette nie, hulle sit of staan sommer iewers. Selfs die groot mense doen dit nou nog.

Di ·

Apartheid en armoede word altyd gemeld as “apartheid” tendense maar die ANC is 30jaar al aan bewind en hulle EIE mense sit nog steeds waar hulle was 30 jaar terug, net armer en meer werkloos. ANC dink die “grants” maak alles reg

Johannes ·

Hoekom moet daar eers iemand in so n toilet verdrink voor enigiemand navraag daaroor doen?
Die minister van onderwys so wel as die president behoort op hoogte te wees .

popsa ·

En ek is saam met Hendricks woedend. HOEKOM gebeur dit weer en weer en weer in SA?! Hoeveel regeringsamptenare het puttoilette by hulle deftige wonings? Hoe sal hulle daarvan hou dat een van hulle kinders of kleinkinders só grusaam moet sterf? Deftigste motors, paleise, peperduur reise en verblyf, weelderigste etes en drinkgoed, onbetaalbaar duur klere, hoede, skoene, horlosies, juwele en so meer… Maar ‘n weerlose driejarige moet ‘n puttoilet gebruik en daarin sterf! Hoeveel keer moet dit nog gebeur?? Politici van SA, skaam julle! En daarmee saam, jammer, want ek is ook in die onderwys, ook die onderwysers vir gebrek aan toesig by daardie skool. Nee, mense. Nee NEE NÉÉ!

kragaap ·

Die gebeure is special…..na 30 jr waar die ANC skree oor wit en veral Afrikaanse skole, gebeur die ? Waar is Julius en Floyd om die “African child” nou te verteenwoordig ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.