Drieling net voor Moedersdag gebore

(Foto verskaf deur Netcare St Augustine’s-hospitaal)

Ouers Amrish Surujballie en Sarika Srikissoon is verheug om hierdie Sondag vir die eerste keer Moedersdag te vier met hul pasgebore drieling, wat op 4 Mei by die Netcare St Augustine’s-hospitaal gebore is.

Die twee seuntjies en ʼn dogtertjie is boonop op ma Sarika se 31ste verjaarsdag verwelkom.

Amrish en Sarika het boonop ook onlangs, op 28 April, hul vierde huweliksherdenking gevier.

“Ons is oorstelp van vreugde,” sê Sarika. “Toe ons van die swangerskap gehoor het, was ek en my man só opgewonde. Reeds van vroeg af in my swangerskap was ek bewus dat ons ʼn tweeling verwag, maar toe ons verloskundige dr. Sagie Naidu bevestig dat dit eintlik ʼn drieling is, was dit ʼn verrassingsbonus vir ons!”

Sarika is baie tuis by die Netcare St Augustine’s-hospitaal, omdat sy sedert 2013 al as ʼn kliniekverpleegster in die kateteriseringslaboratorium van die hospitaal werk.

“Sarika en ek probeer al vier jaar lank swanger raak en met Moedersdag om die draai sien ek nou uit daarna om dié dag te vier saam met haar en ons bondeltjies vreugde,” sê Amrish. “Die verpleegsters en dokters by die hospitaal was ongelooflik. Hulle het my en my vrou baie gemaklik laat voel deur die hele proses.”

(Foto verskaf deur Netcare St Augustine’s-hospitaal)

Die drieling is op 35 weke deur middel van keisersnee gebore. Die babas het met geboorte tussen 1,71 kg en 2,35 kg geweeg.

Vrugbaarheidskenner dr. Sagie Naidu, wat al talle paartjies gehelp het met hul droom om swanger te word, sê die bevalling het goed verloop. “Dit is danksy spanwerk en die feit dat hul ma ʼn absolute model-pasiënt was deur haar swangerskap.”

Naidu praktiseer al vir meer as 25 jaar as ʼn ginekoloog, verloskundige en vrugbaarheidspesialis by die Durbanse vrugbaarheidskliniek by die St Augustine’s-hospitaal. Sarika is al meer as sewe jaar lank sy pasiënt.

Die hospitaal het in ʼn verklaring gesê hulle is saam met dr. Naidu verheug om die drieling te verwelkom. Die drieling sal betyds voor Moedersdag tuis wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.