Dringende aansoek by grondwethof oor ‘Zuma-slenter’

Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ʼn dringende aansoek in die konstitusionele hof gebring om oudpres. Jacob Zuma se laaste poging om “strafregtelike vervolging te vermy” tersyde te stel.

Zuma het verlede Vrydag, slegs enkele dae voordat hy bedank het, die regulasies gepubliseer met die mandaat waaraan die kommissie van ondersoek na staatskaping moet voldoen. Dié kommissie sal deur die adjunkhoofregter Raymond Zondo gelei word.

Regulasie 8(2) hiervan bepaal dat geen getuienis wat voor die kommissie dien of enige feite wat deur daardie getuienis na vore kom in strafregtelike verrigtinge gebruik mag word nie.

Volgens AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, is die implikasie hiervan dat Zuma in effek die kommissie van ondersoek se tande getrek het, aangesien enige onthullings voor die kommissie wat neerkom op korrupsie, omkopery, georganiseerde misdaad of enige ander misdryf wat verband hou met die omstrede en nou reeds oorbekende staatskaping, nie in ʼn geregshof gebruik kan word om die skuld van enige beskuldigde wat later vervolg kan word, te bewys nie.

Die nuusspan van Jacaranda FM het verlede naweek onthul dat die regulasies, wat verlede Vrydag stil-stil gepubliseer is, hierdie omstrede bepaling bevat.

Aangesien hierdie saak met ʼn grondwetlike versuim van die president self verband hou, is AfriForum van oordeel dat die ʼn saak binne die eksklusiewe jurisdiksie van die konstitusionele hof val. AfriForum het daarom ʼn aansoek om direkte toegang tot dié hof vir hierdie dringende aansoek gebring.

Volgens die reëls van die konstitusionele hof sal die presidensie en die openbare beskermer geleentheid kry om aan te dui of hulle dié aansoek teenstaan – met die gronde daarvoor – waarna die konstitusionele hof die aansoek kan oorweeg.

Indien die aansoek ontvanklik is vir hantering deur die konstitusionele hof, sal die hoofregter direktiewe uitreik waarvolgens die aangeleentheid afgehandel gaan word. AfriForum het vroeër reeds aangedui dat die organisasie alles in sy vermoë sal doen om toe te sien dat vervolging ingestel word weens die grootskaalse korrupsie en plundering van die staatskas wat onder leiding van die Zuma-administrasie plaasgevind het.

Spies het gesê dit is dit belangrik dat hierdie aansoek gebring word om te verseker dat die tande van die kommissie van ondersoek wat deur regter Zondo gelei gaan word nie byvoorbaat getrek is nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

christa ·

‘n skelm sal nooit verander nie. eenmaal ‘n skelm altyd ‘n skelm. Gelukkig sal daar altyd iemand wees wat jou jag.

LR ·

Sjoe maar die man is opperste skelm. Deur met die regulasies die bevindinge van die ondersoek se tande te trek is mos n erkenning van skuld. Hoop regtig hierdie regulasies kan tersyde gestel word. Hoop ook hulle kry JZ se seun en die Gupas uitgerook waar hulle ook al mag skuil sodat reg en geregtigheid kan geskied.
Arme CR het n bomenslike taak om hierdie land uit die kloue van hierdie en ander misdadegers te bevry. Hy sal waagmoedig moet optree in hierdie proses van suiwering. Ons sal regtig vir hom en sy nuwe kabinet ernstig moet bid.

Dafer ·

Mooi AfriForum. Julle is goed besig om te begin vasvat. Moet asseblief nie los nie!

Eish ·

Daar is mos nou n nuwe president wat hierdie kwytskelding kan omkeer deur eenvoudig die artikel te laat skrap. Dit verongeluk die hele doel van die ondersoek, wat juis feite moet insamel vir optrede.

Joe Hall ·

Nou wonder ek waarom sou die Nuwe Verbeterde Spiksplinterskone ANC Regime!!! dannounie hierdie ooglopende triek/truuk van die Vorige Korrupte ANC Regime!!! se destydse Prez tydig raak gesien en soos Afriforum, die nodige optredes aan die gang gesit het nie.
Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde.

JOHNY ·

Hof sal dit afkeer. Wil nie probleme in Suid Afrika veroorsaak nie sal hulle rede wees

Adri ·

Zuma moet aangekla word van hoogverraad. Hy was die hoof Mafia leier. Wat hy gedoen het was verraad teenoor die RSA en al sy mense.

Andre ·

Onthou Hoofregter Mogoeng was aangestel deur JZ in 2011 – From Zero to Hero. Hoofregter Mogoeng kan net so veel doen om iemand te beskerm want hy moet probeer binne die wet bly en wil nie gebrandmerk word nie, maar daar is plek vir interpretasie van wet waar hy die “gap” kan vat. Gaan kyk na sy vorige uitsprake.

Jack Klok ·

Dit is met hierdie tipe van slenters dat ANC aangestelde kommissies van ondersoek nog nie een keer bevind het dat enige foute of misdrywe begaan is nie. Die lang verwagte Seriti kommissie wat korrupsies met wapen aankope kastig ondersoek het het eenvoudig geweier om enige getuienis wat korrupsie sou bewys aan te hoor. Seffrica se regstelsel is ook gekaap.

humor ·

Slim vang sy baas. Al die tyd het hy in sy benoude spronge sy put al dieper gegrawe.

snoefie ·

maar…. hy het darem eers al sy eendjies mooi in gelid gesit. kom ons hoop hulle loop lynreg tronk toe.

Alida ·

Nie net hy nie AL sy maters. Die Valke het nou bloed geruik. Mooi man.

PJC ·

Ek dink nie hy het die vermoë om al hierdie goed self uit te dink nie. Die ou wat hom al vir jare so voorsê moet geïdentifiseer te word en sy tjank vir goed afgetrap te word want hy is skelm en oneties.

Martin ·

Vir iemand wat nie eers behoorlike skool kwalifikasies het nie is hy uiters slim om aan al hierdie truuks te dink hetsy om skelm te wees of om homself daaruit te wiggle of om planne in plek te kry daarvoor. Daar is defnitief maaitjies in ander departmente wat hom voer met inligting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.