Dringende aansoek om ramptoestand, inperking te stuit

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Henk Kruger/ANA)

Die DA het sy regspan Donderdag opdrag gegee om ʼn dringende hofaansoek in te dien om die ramptoestand én staat van inperking in Suid-Afrika te stuit.

Dié stap volg op die regering se aankondiging Dinsdag dat die ramptoestand – wat al twee jaar lank geld – met nóg ʼn maand verleng is. Die regering het ook ʼn klomp voorgestelde veranderings aan gesondheidsregulasies bekend gemaak wat eindelik sal beteken dat die staat van inperking voortgaan selfs nadat die ramptoestand opgehef is.

Die jongste voorgestelde regulasies poog nou om ʼn aantal nuwe beheermaatreëls in te stel, waaronder die toesig en beheer van aanmeldbare mediese toestande, openbaregesondheidsmaatreëls by toegangspunte, asook die bestuur van menslike oorskot en regulasies met betrekking tot omgewingsgesondheid.

John Steenhuisen, leier van die DA, sê alle aanduidings is daar dat die regering die ramptoestand voortdurend sal verleng tot daar permanente wetgewing is om die staat van inperking te behou.

“Die DA sal nie toelaat dat die land se demokrasie onbepaald opgeskort word ten gunste van ʼn uitvoerende gesag wat deur dekreet regeer nie.”

Steenhuisen sê voorts dat die inperking geensins in Suid-Afrika se beste belang is nie, maar mense bloot in werkloosheid en dieper armoede dompel.

Die inperking het nie net reusewerksverliese tot gevolg gehad nie, maar ook die land se onderrigstelsel geruk. Die party meen dat die miljarde rande aan inkomstebelasting wat weens inperkingsregulasies verlore gegaan het, boonop vir armoedeverligting aangewend kon word.

“Die werklike ramp wat Suid-Afrika in die gesig staar, is ons groeiende armoede- en werkskrisis. Hierdie krisis hou ʼn veel groter risiko vir nasionale welstand in en veroorsaak baie meer menslike lyding as Covid-19.

“Die regering het oor die afgelope twee jaar voortdurend daarop aanspraak gemaak dat hy ‘deur die wetenskap gelei word’. Die wetenskap sê nou vir ons dat die inperkingsmaatreëls onnodig, irrasioneel en onredelik is. Tog is die regering vasbeslote om die ramptoestand én staat van inperking te handhaaf.

“Die enigste ramptoestand waarin die land verkeer, is die selfopgelegde een wat deur voortdurende beperkings veroorsaak word wat meer skade doen as goed.”

 Laer risiko van Covid-19 

Steenhuisen sê die regering kan altyd weer die ramptoestand en staat van inperking instel, sou die situasie vererger en die risiko’s dit regverdig. Tans is hospitaalopname, virusoordrag of erge siekte weens Covid-19 egter uiters laag. Selfs al styg die infeksiekoers beteken dit ook nie noodwendig dat ernstige siektes, sterftes en die hospitaalopnamekoers gaan toeneem nie. Verskeie lande het reeds hul Covid-19-maatreëls geskrap ondanks ʼn hoë getal infeksies.

Daar was met die vierde virusgolf ook ʼn afname in gevalle, onder meer weens inenting of natuurlike immuniteit.

“Die enigste permanente Covid-19-verwante regulasies wat steeds moet geld, is dié wat die betaling van noodtoelae vir maatskaplike verligting moontlik maak.” Volgens Steenhuisen is die algehele opheffing van die ramptoestand en staat van inperking die enigste manier om die armoede- en werkskrisis te takel, dienslewering aan die armes te bespoedig en die demokrasie te beskerm.

“Die beëindiging van die inperking sal ʼn positiewe uitwerking op ons ekonomie hê. Vlak 1 en ander departementele beperkings lyk skadeloos, maar dit is nie. “Die toerismebedryf het vroeër 10% van alle werksgeleenthede in Suid-Afrika ondersteun.

Tog is internasionale toerisme steeds net 20% van wat dit was. Die herstel daarvan word belemmer deur vereistes soos ʼn negatiewe PCR-toets om die land binne te kom, wat ʼn aansienlike bykomende koste vir internasionale toeriste oplê.”

Regulasies nie geregverdig

Die DA sê voortgesette inperkingsregulasies pootjie ekonomiese herstel en het ʼn direkte uitwerking op onder andere volwassenes wat nie in diens geneem word nie, die verdere verval van dienslewering en die agteruitgang van onderrig en opleiding. “In die meeste lande word maskers slegs in spesifieke hoërisiko-kontekste vereis.

Die vereiste om maskers buite te dra is besonder irrasioneel. Dis tyd om Covid-19 op dieselfde manier te behandel as wat ons ander gesondheidsrisiko’s behandel, soos MIV en vigs, TB (tering) en kanker.

“Soos ander lande, moet ons ook daarop fokus om die hoërisikogroep in te ent. Ons moet goedkoop en vinnige toetse vir tuisgebruik lisensieer sodat mense self kan oordeel of hulle ʼn risiko vir die kwesbares inhou.

Dit maak geen sin om dit tot mediese toesig te beperk nie.”

Die party meen dat Suid-Afrika, soos ander lande, alles moontlik moet doen om die ekonomie te stimuleer en te herbou. “Die ANC-regering beveg nie meer die verspreiding van Covid-19 nie. Hy veg om vas te hou aan die magte waaraan hy die afgelope twee jaar gewoond geraak het. Só ʼn ongrondwetlike magsgreep kan nie geduld word in ʼn oop, demokratiese samelewing soos Suid-Afrika s’n nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Samuel ·

John Steenhuisen en Afriforum is in die kol met hulle argumente. Tog gaan die ANC-regering nie na hulle luister nie. NDZ, CR en die res van die kabinet klou aan hulle onbeperkte mag onder die ramptoestand.

Hugo ·

Wat gaan hulle doen indien niemand hul maskers dra nie. Ek loop al afgelope maand in winkel sentrums rond sonder my masker en sover het niemand nog ń probleem gehad nie. Kom ons staam saam

Jacobus ·

Net ‘n herinterpretasie van stewel op nek – soos aan popmeesters belowe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.