Dringende aansoek teen afsny van water in Noordwes  

kraan-water-glas

(Foto: pixabay)

Sakeliga berei tans ’n dringende hofaansoek voor om watertoevoer in Noordwes te verseker en ’n plaaslike ekonomiese katastrofe te voorkom.

Sedibeng-water het op 25 Mei opdrag gegee dat waterdienste in groot dele van Noordwes vanaf 1 Junie opgeskort word weens agterstallige skuld en wanbetaling deur munisipaliteite.

Die onderbreking raak die hele Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit, asook die Mahikeng-, Ditsobotla- en Ratlou- plaaslike munisipaliteite. Dit betrek dorpe soos Mahikeng, Lichtenburg, Delareyville, Ottosdal en Zeerust.

“Die staat moet ophou om sy interne probleme na sakelui en gemeenskappe te wentel. Sedibeng-water is ’n staatsorgaan en het nie die reg om dienste aan sakelui en lede van die publiek op te skort net omdat dit nie ’n ander staatsorgaan sover kan kry om geld oor te betaal nie,” het Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, gesê.

“Soos nou reeds bevestig is in ander regspraak wat Sakeliga onderneem het, mag ’n staatsorgaan soos Sedibeng-water nie sy dienste aan betalende sakelui en die gemeenskap onderbreek voordat dit die wetlike voorskrifte oor interregeringsgeskille gevolg het nie.

“Boonop het Sedibeng-water in dié geval nie eens die sakelui of gemeenskappe behoorlik in kennis gestel of geraadpleeg nie.”

Le Roux wys op die skadelike humanitêre en ekonomiese gevolge van ’n skielike, eensydige onderbreking van waterdienste.

“Alle dorpe in Noordwes ly reeds onder erge staatsverval en korrupsie. Die afsny van water kan in baie gevalle nou soveel skade beteken dat ondernemings finaal besluit om uit ’n gebied te vertrek, met ’n spiraal van agteruitgang wat volg.”

Sakeliga het Sedibeng-water tot 27 Mei om 10:00 kans gegee vir ’n onderneming om sy opdrag aan sy werknemers terug te trek en sy dienste voort te sit. Intussen berei Sakeliga se regspan die nodige dringende aansoek voor om die hof vir ’n gepaste interdik te vra.

“Ons voorsien dat die uitkoms van dié dringende litigasie sal wees om water ten minste op ’n tydelike grondslag te verseker. Dit sal soortgelyk wees aan die rol wat ons in elektrisiteitsverwante litigasie gespeel het, soos met die Resilient-uitspraak in Desember 2020.

“Tot tyd en wyl ’n blywende oplossing ontwikkel word, wil ons verhoed dat staatsorgane dienste op onregmatige wyse opskort.”

Michal Groenewald, VF Plus-LP en woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake, het gesê Sedibeng-water voer aan dat die munisipaliteite bloot weier om te betaal vir dienste en watervoorsiening wat deur hom gelewer word.

“Die betrokke gebiede beslaan bykans die helfte van die oppervlak van Noordwes. Die betrokke gemeenskappe ly ook reeds lank onder die gevolge van wanbestuur en korrupsie in die ANC-beheerde munisipaliteite. Gedurige onderbrekings in water- en kragvoorsiening weens wanbetaling deur munisipaliteite in Noordwes is aan die orde van die dag.”

Volgens Groenewald is daar tydens ’n onlangse oorsigbesoek van die parlementêre komitee vir samewerkende regering en tradisionele sake aan Noordwes vasgestel dat dié provinsie een van die mees vervalle provinsies in die land is.

“Die VF Plus het reeds die kwessie onder die aandag van die parlementêre portefeuljekomitee gebring. Die VF Plus het voorts met Obed Bapela, die adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake, samesprekings gevoer om in te gryp in dié wanbestuurde munisipaliteite.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Blikkies ·

Hoekom……moet jy eers smeek en soebat vir basiese dienste en dan hof toe gaan sodat ‘veronderstelde’ verantwoordelike mense gedwing word om hulle werk te doen. Jy lees elke liewe dag van die agteruitgang deur swak en korrupte bestuur by alle Munisipaliteite landswyd, maar ek het een ding al lankal besef, die mense in beheer het geen gewete of skaamte of trots nie, van reg bo tot heel onder. Ek kry die inwoners jammer van die areas.

Ovelia ·

Kan ek vanoggend kla? Ons wag nou al 8 maande vir geld wt ELM vdb ons skuld . Eers ht ons n rekening gekry wt krediet wys van di geld . Ewe skielik kry ons geen rek nie. Toe n rekening wat se dit is uitbetaal. Dis glad nie aan ons ni . Het uitgevind hul verkoop di geld aan mense wt ni kan betaal nie. Ons wag nog steeds maar ht niks gekry nie. Op 12 Mei was ons weer by Elm hul ht toe weer belowe binne n maand sal ons dt he. Wt staan ons te doe

Anton ·

Daar is nie water nie maar hulle het darem cool nuwe name. So bepaal mens prioriteite :-)

Anoniem ·

Water word deur God voorsien aan hierdie aande. Wie is die mens, om dit te ontneem? Voorsien liewer watertenks oral in die land wat water voorsien aan almal en dan kan die gebruikers self watersuiwering toepas. Daar is so baie opsies om water te reinig /suiwer vir gebruik. Ongelukkig het die meerderheid gebruikers die siening dat dit hul reg is om skoon water te ontvang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.