Dringende hof laat Eskom toe om krag te sny

Argieffoto: GCIS

Argieffoto: GCIS

AfriForum en AfriSake het vandag hul teleurstelling uitgespreek nadat die hooggeregshof beslis het Eskom mag die kragtoevoer na munisipaliteite, wat versuim om hul Eskom-rekeninge te betaal, sny.

Eskom het oor die Kersseisoen sy planne aangekondig om kragtoevoer na inwoners van verskeie munisipaliteite in die Noord-Kaap, Noordwes en Vrystaat af te sny omdat sekere munisipaliteite versuim het om gelde, wat vir elektrisiteitsverskaffing van inwoners ingevorder is, aan Eskom oor te betaal. Hierdie munisipaliteite skuld Eskom miljarde rande se elektrisiteitsgelde.

Die hof het gedurende die dringende aansoek argumente aangeraak wat AfriForum en AfriSake voorberei het vir die hoof-hofaansoek op 22 Maart 2017. Vandag se uitspraak dui daardie argumente het nie geslaag nie en beide organisasies sal moet oorweeg of hulle wel nog kan voortgaan met die hoofaansoek en of die aansoek laat vaar gaan word.

Volgens Marcus Pawson, hoof van plaaslike regering en omgewingsake van AfriForum, bly hulle van mening dat Eskom, as ʼn staatsbeheerde maatskappy, ander regsmiddele tot sy beskikking het om sy tariewe in te vorder. “Om betalende en wetsgehoorsame inwoners en instansies te straf vir die nalatigheid van onbekwame munisipale administrasies maak nie sin nie. Die benadering van Eskom, om te dreig met summiere kragafsluitings van volledige munisipale gebiede, bly ʼn drakoniese en ongrondwetlike maatreël, wat neerkom op kollektiewe benadeling van betalers, sowel as wanbetalers.”

Volgens Pawson is elektrisiteit geklassifiseer as ʼn noodsaaklike diens en word betalende dienstegebruikers, ouetehuise, hospitale, skole en nooddienste benadeel weens die kultuur van wanbetaling onder sekere inwoners en die wanbestuur van munisipaliteite deur onbekwame amptenare.

“Munisipaliteite, tesame met die provinsies en nasionale regering, moet hulle verantwoordelikhede nakom teenoor Eskom. Ons het simpatie met Eskom en sy frustrasies met munisipale amptenare, maar terselfdertyd kan Eskom nie munisipaliteite alleenlik verantwoordelik hou vir sy finansiële situasie, terwyl Soweto alleen soortgelyke skuld het as die top tien agterstallige munisipaliteite nie. Vrae moet gevra word oor waarom verafgeleë plekke gestraf word en nie Soweto nie?” sê Pawson.

Die munisipaliteite is Kamiesberg (Garies, Hondeklipbaai en Kamieskroon), Thembelihle (Hopetown en Strydenburg), Moqhaka (Kroonstad, Steynsrus en Viljoenskroon), Masilonyana (Brandfort, Theunissen, Verkeerdevlei en Winburg), Nketoana (Reitz, Lindley en Petrus Steyn), Mantsopa (Excelsior, Ladybrand en Tweespruit), Tokologo (Boshof en Dealesville), Nala (Bothaville en Wesselsbron) en Dihlabeng (Bethlehem, Paul Roux en Rosendal).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

Ansie ·

Wel ek is seker dat ons as betalers die munisipaliteit kan dagvaar. As jy jou krag betaal het mag die krag nie afgesny word nie. Die munisipaliteit is dus verantwoordelik om te sien dat jy krag het.

Vossie Vosloo ·

Onthou net, die krag wat jy betaal het, het jy klaar gebruik. As hulle nie vir jou “nuwe” krag voorsien nie, het jy nie ‘n rekening om te betaal nie. Hoe dagvaar jy vir iets wat jy nie gekry het nie en agv laasgenoemde, nie hoef te betaal nie.

Pietertjie ·

@Vossie Vosloo…onthou as jy n “pre paid” het het jy vir krag betaal wat jy as gebruik dan eers gaan gebruik. Seker jy kan dan dagvaar

Veritas ·

Vossie nou wat van diegene wat vooruitbetaal het dmv sg ‘pre-paid’ meters?

Cindy ·

Vossie, wat van die mense wat pre-paid krag koop? Hulle moet nog die krag gebruik waarvoor hulle alreeds betaal het

Ww ·

Hierdie uitspraak dui vir my daarop dat tot die regters onder steun korrupsie en wat alles daarmee saam gaan. Om eerlike mense te straf en selfs skade aan te doen spreek vanself

JoeV ·

Die hof het seker 100% seker gemaak daar is niemand in daardie munisipale distrikte wat krag betaal nie voor hulle besluit het om betaalers se krag af te sny. Indien nie dui dit dalk daarop die hof nie in staat is om die diens te lewer waarvoor die hof in diens geneem is nie.

Kobus ·

Soos met n staking van geen werk,geen betaling….is dit hier net die teenoorgestelde….wie sy krag op datum betaal of van vooraf betaalde metode gebruik maak…DIE SE KRAGTOEVOER MOET GESNY WORD….maar die wat alles besteel en onwettig krag koppel voel n veer…want sodra daar relings met Eskom getref sou word…STEEL ONS MAAR NET VERDER….ek so moeg vir ons mooi land se ellende wat net vererger elke dag…wanneer sal daar werklike LIG wees.

Anoniem ·

Kobus ek dink jyt n goeie punt beet dat die van ons wat wel betaal dan maar direk by Eskom krag kry maar ek weet dat die munisipaliteite dit nie sal toelaat nie want dan gaan daar minder geld in hul sakke in.Ons land is soooo korrup maar om dit reg te kry sal nooit gebeur met ministers soos ons land sn nie.

Kobus ·

Nie noodwendig ‘n slegte uitspraak nie. Die inwoners kan nou ‘n belastingbetalers vereniging stig wat self hul krag by Eskom koop. So kan hul ook hul eie plaaslike belastings in hul eie areas aanwend om infrastruktuur in stand te hou. Geen hof kan hul nou meer aanvat as hul belastings kanaliseer na ‘n apparte liggaam wat hul gebied bestuur nie.

JC ·

Ek stem saam Kobus, goeie punt! Darem is die kwessie nou meer uitgekristalliseer en moet die geaffekteerde persone die kwessie beheer soos jy voorstel deur hul onafhanklikheid en reg tot selfverwesenliking, selfbeskikking en self-afhanklikheid te bevestig en weg te beweeg van ‘n sisteem waar afhanklikheid van oneffektiewe en korrupte semi-staatsinstellings die norm is. Die geleentheid is self daar vir eie, goedkoop kragopwekking en kragverdeling tussen die lede van so ‘n assosiasie- sonpanele? deur eie inisiatief! Een deur maak toe en ‘n ander maak oop, BOER MAAK ‘N PLAN. Dit is skynbaar al hoe meer die toekoms in SA en veral vir die Afrikaner gemeenskap-SELFVERWESENLIKING. Ek merk op dat die Howe na dese BAIE, BAIE huiwerig is om hul in te meng by regeringsake en vernam die uitvoerende gesag. Dus, soos jy voorstel en Afriforum, gaan “mindere” selfbeskikkingsvorme soos voorgestel (nog nie heeltemal territoriale selfbeskikking nie, alhoewel dit nog kom-sien Kleinfontein en Orania) die norm word namate die staat versleg en die onvermoe van ander bevolkingsgroepe om betekenisvolle bydrae tot die SA ekonomie en samelewing te maak blootgele word, let wel met gepaardgaande al hoe groter wordende afhanklikheid en steun op die staat agv eie onvermoe en onkundigheid:-)

JC ·

Ek stem saam Kobus, goeie punt! Darem is die kwessie nou meer uitgekristalliseer en moet die geaffekteerde persone die kwessie beheer soos jy voorstel deur hul onafhanklikheid en reg tot selfverwesenliking, selfbeskikking en self-afhanklikheid te bevestig en weg te beweeg van ‘n sisteem waar afhanklikheid van oneffektiewe en korrupte semi-staatsinstellings die norm is. Die geleentheid is self daar vir eie, goedkoop kragopwekking en kragverdeling tussen die lede van so ‘n assosiasie- sonpanele? deur eie inisiatief! Een deur maak toe en ‘n ander maak oop, BOER MAAK ‘N PLAN. Dit is skynbaar al hoe meer die toekoms in SA en veral vir die Afrikaner gemeenskap-SELFVERWESENLIKING. Ek merk op dat die Howe na dese BAIE, BAIE huiwerig is om hul in te meng by regeringsake en vernam die uitvoerende gesag. Dus, soos jy voorstel en Afriforum, gaan “mindere” selfbeskikkingsvorme soos voorgestel (nog nie heeltemal territoriale selfbeskikking nie, alhoewel dit nog kom-sien Kleinfontein en Orania) die norm word namate die staat versleg en die onvermoe van ander bevolkingsgroepe om betekenisvolle bydrae tot die SA ekonomie en samelewing te maak blootgele word, let wel met gepaardgaande al hoe groter wordende afhanklikheid en steun op die staat agv eie onvermoe en onkundigheid.

Jan Jooste ·

Absoluut swak uitspraak deur regter wat genadedood wettig. Het nog nie sy uitspraak kon lees. Hoedanig hy egter dringendheid rondom elektrisiteitsonderbreking in 2016 kan bevraagteken, illustreer sy houding teenoor staatsondernemings. Fabricius het ook die R 5 000 miljoen waarborg aan SAL gesteun in uitspraak teen Comair. In watter droomwêreld gaan enigiemand iets selfs via regbank afdwing op munisipaliteite? Daarvoor kan jy maar weer vir Fabricius om genadedood vra. SAVE het reeds meer as 5 uitsprake teen Sedibeng munisipaliteit rondom rioolverwerking maar kom steeds nêrens. Moseneke het juis in Grondwetlike Hof laer howe se inmenging (?) in regeringsake gestriem.

CSA ·

Is Ngwathe nou nie deel meer van die munisipaliteite nie? Op vorige berig was hulle in?

Oosie ·

Dis nou wat gebeur as mense met die verstand en insig van 10 jarige kinders in bestuursposte aangestel word. Die munisipaliteite is tot in bankrotskap ‘bestuur’ (ander woord vir bestuur in die S,A, konteks is besteel). Om hul te dagvaar gaan jy net jou geld verder mors. Dit is ‘n absolute magtelose situasie en totaal onbegryplik dat die Regering nie ingryp nie. Maar, nouja, dit is S.A…. Op sy beste…

Klemmie ·

Ek vermoed dat hierdie is soos die Britte sal sê “conspiracy theory”.
Hoekom al die klein dorpies maar Soweto word nie genoem nie.

Laat Jan Publiek direk aan Eskom betaal.

Chris ·

Hoekom moet Soweto genoem word? Dit val onder Johannesburg, wat hulle skuld aan Eskom betaal. Die verbruikers is dalk agterstallig, maar nie die stadsraad nie.

jaco ·

Die hof EN eskom word deur die Staat beheer. Die Staat word deur die ANC beheer. Die munisipaliteite wat nie betaal nie, word ook deur die ANC beheer. So die ANC sê ja dis ok, sny maar die ANC se krag af. OF mis ek iets hier???

Jan maak n Plan ·

Kom ons maak maar soos ons naaste – gooi klippe en brand hulle geboue af.

Carlia ·

Wat ‘n nagmerrie. As ‘n Hof sulke ondeurdagte besluite neem, beteken dit dat die munisipale geboue weer tot in die grond afgebrand gaan word. Dit, terwyl die meeste van die persone wat verontrief gaan word, reeds hul krag betaal het. Hoekom word die munisipale amptenare in beheer nie gedagvaar en van hul salarisse weerhou (weens wanbesteding en wanbestuur) nie. Dit is al hoe hulle gaan leer dat die lewe nie net een groot partytjie is nie.

Bruno Stef ·

Die groot probleem is dat in n munisipale verspreidings gebied die krag vanaf Eskom deur n aansluitingspunt aan die buitewyke van die dorp aangesluit word by n Substasie.Dit meen dat al die infrastruktuur van Eskom se aansluitingspunt tot by die eindverbruiker nog deur die Munisipaliteit beheer word en Eskom maw dit nie besit nie.In Soweto se geval weens wanbetaling het Eskom beslag gele op die hele infrastruktuur in die begin van die 1993 en direk as die voorsiener begin optree.

Elmien ·

Ek voel daar moet nou n paar eintlik n hele paar koppe rol. Dit is onaanvaarbaar. Administrasie is pateties, onderhoud is pateties, beplanning is daar nie eers van te praat nie. Die mense doen nie hulle werk nie loop net rond, gesele en gaan vanaand huis toe. As ek so gewerk het was ek lankal my werk kwyt. Dit is net ook vir my wonderlik hoe hulle aanhou om dit te doen en niemand kom iets oor nie. Ek voel die regter moes die munisipaliteite aangespreek het en versoek het dat daar ondersoek gedoen word en die mense wat daarvoor verantwoordelik is aanspreek gehou word. Maar dit is mos maatjie, maatjie. Ek het nou geen vertroue in die regstelsel nie. Dit is net wanneer jy moor, steel en verkrag wat die wet jou beskerm.

kat ·

Ek se julle wat kom ons gooi ook eskom se bakkies met klippe en steek dit aan die brand soos in soweto dan kan hulle nie die krag afsny nie ek dink dis rassisme op sy ergste dit het niks met geld skuld te doen nie

Emile ·

Die tragedie is dat die wanbetalers van elektriese dienste hulle baie min daaraan gaan steur. Sonder elektrisiteit leef hulle eenvoudig voort soos in die landelike gebiede – maak lig met paraffien en kerse; stroop hout uit die omgewing vir pap-kook, of gebruik primus; was wasgoed met die hand; kyk (ongelisensieerde) TV vanaf ‘n motorbattery en dis dit.

Intussen moet die betalende groep mense meer betaal vir generators en brandstof om hul ligte, yskaste en besighede aan die gang te hou.

Insentief om selfonderhoudend te raak mbt energiebehoeftes.

callie ·

Stem kom ons verwyder munsipale bestuurders en hul kaders met geweld uit hul stoele en neem die munsipaliteite oor. Al die geld wat vir krag inkom word aan eskom oorbetaal met net genoeg oorgehou vir salaris vir plaaslike elektrisien. Selfde met water. Alle ander gelde word gebank. Daar is tans geen ordentlike diens van munsipaliteite so vir n tydperk kan alles dieselfde wees behalwe eskom en rand water is betaal. Dan word daar n raad gestig wat die ander geld oordeelkundig spandeer. ASB enigste rede is munsipaliteite het nie geld nie want al die kaders se families en vriende word reuse bedrae betaal om niks te doen. Lone wat 30% van die begroting moet wees is nou byna 70% omdat al die familie daar werk.

Jaco ·

Ek dink die krag moet afgesny word maar glo nie hulle sal dit regtig doen nie. As die krag af is sal drastiese optredes gebeur wat lankal nodig is.
Ek hou duim vas dat die keag afgesny word.

vermeende ·

Ek wonder maar net hard op.
Waar is die geliefde en heilige DA se stem in die saak, hoe kyk die DA soos die libs en Eskom ook Soweto mis.
Ons mense moet hulle oe oop maak.

Andre van Nala. ·

In ons dorp gaan dit net die besighede en dorp se mense raak. Monyakeng kry hulle krag direk van Eskom. Terwyl Monyakeng se belasting en water rekeninge jare agterstallige is. Die Poskantoor se rek is meer as R75 000 agterstallige.

Johan Bezuidenhout ·

Hoekom is daar so lank gewag deur Eskom dat die skuld bly oploop het tot by die punt tot waar dit nou is. Daar is geen kans dat munisipaliteite uit die skuldlas sal kom nie. Die ekonomie in die landelike gebiede is op ‘n uiterste laagtepunt. Die langdurige droogtes eis sy tol. Hierdie sny van die krag sal die finale nekslag wees vir die ekonomie en verdere werkloosheid met verdere verrykende sosio- ekonomiese probleme.

Chris Ws ·

Ons regstelsel stink!Tyd dat die huidige regstelsel tot niet gemaak word deur reg in eie hande te neem – as evkom die krag sny moet die ou wat die krag gesny het uitgehaal word.Simpel soos dit!

Anoniem ·

Ek is nuuskierig om te weet of die swak bestuur by die munisipaliteite wat verantwoordelik is vir die gemors, se persoonlike munisipale rekeninge op datum is met betaling.

Johanna Botha ·

Baie van die ou getroue betalers is nou weg …nou raak die probleem net NOG groter ..wie kan dit nou hou. So betaal maar asb.

Ronel ·

Ek bly in Kroonstad. En glo my vry. As hier opstande gaan uitbreek oor die gemors, gaan ek saam toi-toi. Help dit om te wonder waarheen die geld gaan wat ons so getrou betaal aan erfbelasting en krag???

Chrissie ·

Maar soos ek verstaan is dit juis die staatsinstellings soos skole, SAP kantore ens. wie se krag met enorme bedrae agter is. Dit word eenvoudig nie betaal nie. Indien hierdie rekeninge betaal kan word, gaan die skuld met enorme bedrae sak.

Chrissie ·

Maar ek verstaan dat dit juis die staatsinstellings soos bv. skole, SAP kantore ens. wie se kragrekeninge met enorme bedrae agterstallig is. Indien hierdie rekeninge vir ‘n slag op datum gebring kan word, gaan die uitstaande bedrae geweldig sak.

Karools ·

Klemmie,,,, dit is al die klein dorpies wie se water ook deur die ANC beheer word ‘n paar maande lank al. Al is daar genoeg water, word sommige dele van die dorpe se water eenvoudig afgedraai op tye. Hoogliggende dele kry sodoende nooit water nie.

Oor die Kersnaweek het sekere dele van Theuissen glad nie water gehad vir die naweek nie omdat ‘n pyp toegedraai is met ‘n gereedskapstuk wat net deur die munisipale amptenare hanteer word. Geen waarskuwing was gegee voor die tyd nie en baie kuiermense moes die frustrasie saam met inwoners hanteer.

Inwoners dreig om klein dorpies te verlaat en baie het al reeds. Laat mens dink, is dit nie waarheen die beweging oppad is nie. Meer huise raak beskikbaar……

ANONIEM ·

Ja ek woon in een van hierdie gebiede. Dis al die 2 de keer dat hul ons krag wil sny… Verlede jaar was dit dieselfde storie, maar toe is n has uit die hoed getrek op een op ander manier en die munisipaliteit het ons belowe alles is nou in orde en dat dit nie weer sal gebeur nie…… hoe geskok was ek om te sien ons munisipaliteit se naam is weer daar………

Annatjie Kruger ·

Ek dink die mense wie wel betaal of betaal het, moet nou saamstaan en die munisipaliteite in hul onderskeie dorpe dagvaar vir die geld wat betaal is, sodat hulle dit direk aan Eskom kan oorbetaal. As die krag na die dorp afgesny word, sou ek dink dat dit nie gaan help as jy ‘n voorafbetaalde meter in jou huis het nie. Dit gaan dus beteken dat jy geld in jou meter het, maar nie die krag wat jy gekoop het kan gebruik nie. Ek sou voorstel dat Afriforum nou die betalende inwoners van die dorpe deur middel van regshulp help om die munisipale bestuurders (burgemeester) te dagvaar vir die geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.