Dringende hofaansoek ingedien oor Bobani

Mongameli Bobani en sy regsverteenwoordiger, Lionel Trichardt, by die hooggeregshof in Port Elizabeth (31 Augustus 2017). Foto: ANA

Die United Democratic Movement (UDM) het Donderdag ʼn dringende aansoek by die hooggeregshof in Port Elizabeth ingedien om ʼn mosie van wantroue, wat Mongameli Bobani van sy amp as adjunkburgemeester onthef het, ter syde te laat stel.

Bobani is verlede maand deur middel van ʼn mosie van sy amp as adjunkburgemeester van Nelson Mandelabaai onthef. Die mosie is deur die Patriotic Alliance se Marlon Daniels ingedien.

Bantu Holomisa, leier van die UDM, het egter die dringende hofaansoek ingedien om te verhoed dat die munisipaliteit die besluit toepas en te versoek dat die hof Bobani weer in sy pos aanstel. “Ek vertrou dat die hooggeregshof tussen waarheid en verdigsel sal kan onderskei, dat die eerbare hof deur die DA se politiekery sal sien en die DA se smeerveldtog teen Bobani en UDM sal raaksien,” het hy gesê.

“Die DA hou net om elke hoek en draai goeie bestuur voor, maar hulle moes van beter geweet het as om met die mosie voort te gaan; hulle moes van beter geweet het as om die onwettige besluit te ondersteun om die adjunkburgemeester te verwyder.”

Bobani het Donderdagmiddag aan die media gesê hy kan nie oor die hofaansoek kommentaar lewer nie en het alle vrae na Holomisa verwys.

Die hofaansoek bevat ʼn lys van 132 respondente wat al die raadslede van die munisipaliteit insluit, asook die speaker van die munisipaliteit, die stadsbestuurder en al die politieke partye wat in Nelson Mandelabaai verteenwoordig word.

Holomisa hou vol die hele proses van die debattering en stemmery oor die mosie van wantroue in Bobani was ongrondwetlik en onwettig en moet ter syde gestel word. “Wat die DA beweer en wat die DA doen, wat die DA belowe en wat die DA lewer, is onrusbarend uiteenlopend,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg daar is geen feitelike of wetlike gronde waarop Bobani van sy amp onthef kan word nie. Bobani is nie formeel aangekla van enige oortredings nie en ook nie die geleentheid gegun om homself te verdedig teen bewerings van oortreding nie.

Burgemeester Athol Trollip het gesê hy het nog nie die hofaansoek gesien nie, maar die munisipaliteit sal die aansoek teenstaan.

“Ons weet hoekom ons vir die mosie van wantroue in raadslid Bobani gestem het. Hy toon geen toewyding teenoor ons koalisie-ooreenkoms nie,” het hy gesê. “Wat ons betref, is hy die voormalige adjunkburgemeester en dít is dít.”

Respondente het kans tot 8 September om beëdigde verklarings skriftelik op die hofaansoek in te dien, terwyl die UDM se regspan dan weer tot 14 September kans sal hê om op hierdie dokumente te reageer. ʼn Voorlopige hofdatum is vir 19 September vasgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Albaster ·

Holomisa het lyk my ook nou begin om n patronage netwerk vir homself gebou maar toe is hierdie korrupte vroeg al uitgevang, nou is Holomisa se kleine netwerk besig om te verkrummel. Dis hoe ek dit opsom.

Daan Erasmus ·

Iewers is iets nie pluis nie. Hoekom sal Holomisa TEN ALLE koste vir Bobani beskerm. Dit is beskerm, nie ondersteun nie.

FM ·

Vir Holomisa is n persoon belangriker as die saak. Sy optrede sal heel moontlik veroorsaak dat die anc weer beheer sal neem. Is dit wat jy wil hê Holomisa? Jy speel so reg in die anc se hande. Of ly jy aan n minderwaardigheidskompleks?

John ·

Holomisa se hartjie klop steeds warm vir die ANC. In die politiek kan mens niemand vertrou nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.