Dringende hofaansoek oor Blyvooruitzicht se water

Argieffoto: Wikimedia

Argieffoto: Wikimedia

Die burgerregte-organisasie AfriForum gaan Dinsdag voort met ’n dringende aansoek in die Pretoriase hooggeregshof om die Merafong-munisipaliteit te dwing om die watertoevoer aan die Blyvooruitzicht-gemeenskap te verskaf.

Dit volg nadat dié gemeenskap buite Carletonville meer as twee weke reeds geen water het nie. Meer as 15 000 mense word geraak.

Past. Anton Gresse, ’n inwoner, het vroeër gesê ’n krisis dreig en die situasie is besig om daagliks ernstige afmetings aan te neem. Benewens die sowat 150 huishoudings wat sonder water is, is dit veral skole, kleuterskole en die kliniek wat erg geraak word.

Verskeie ander groepe het ook aangedui dat hulle tot die stryd wil toetree. Die DA het ’n beroep op die Gautengse premier, David Makhura, gedoen om in te gryp, terwyl die organisasie Regslui vir Menseregte (RMR) ook aangedui het dat hy hof toe gaan.

Ivan Herselman, AfriForum se hoof van plaaslike regeringsake, het gesê die gemeenskap het die reg tot voldoende water en die beskerming van hul waardigheid. “Dit is onaanvaarbaar dat vyf skole en ’n kinderhuis nie toegang tot water het nie.”

Hy het gesê die munisipaliteit is verlede week gemaan om die watertoevoer binne 24 uur te herstel. “Ons het geen ander keuse as om die hof te nader nie.”

Die Blyvooruitzicht-myn is die afgelope twee jaar in likwidasie. Wateruitgawes én skuld aan Eskom beloop etlike miljoene rande. Die Merafong-munisipaliteit het aangedui dat hy die hofaansoek gaan teenstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.