Dringende ingryping by Kaapstad-aktekantoor versoek

(Foto: pixabay)

Die Demokratiese Alliansie doen ʼn beroep op die nasionale departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling om in te gryp by die aktekantoor in Kaapstad en dringend die agterstand te hanteer, kragtens ʼn bevel in die Wes-Kaapse hooggeregshof.

“Ons sal die voorsitter van die portefeuljekomitee oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling ook skriftelik versoek om seker te maak minister Thoko Didiza lê haar planne voor om die chaos by dié kantoor te takel,” het Annette Steyn, DA-LP, in ʼn verklaring gesê.

Waar dit gewoonlik tussen vyf en sewe dae duur om ʼn akte by die Kaapstadse aktekantoor te registreer het dit tydens die afsonderingsperiode tot tussen 27 en 29 werksdae toegeneem. In hierdie stadium blyk dit dat aktekantore in ander provinsies op volle kapasiteit bedryf word en min tot geen agterstande beleef nie en dit wil voorkom of daar baie min bewyse is van grootskaalse agterstand, het Steyn bygevoeg.

“Aktebesorgers in Kaapstad is intussen gedwing om die hof te nader om enige werk gedoen te kry en terwyl verklarings van die departement aandui dat hulle voldoen aan die hofbevel om op volle kapasiteit voort te gaan – onderworpe aan sosiale distansiëring en gesondheidsprotokol – is die ervaring op grondvlak dat vertragings en ʼn gebrek aan kommunikasie voortduur.”

In plaas daarvan dat die departement met aktebesorgers saamwerk om die kwessies aan te roer en ernstig aandag te skenk aan aanbevelings om die kantoor weer veilig te bedryf, word die Kaapstadse aktekantoor steeds op slegs 50% bedryf en verskonings word gemaak waarom die agterstand steeds verhoog, het Steyn gesê.

“Die DA sal ook parlementêre vrae indien om te bepaal hoe goed ander aktekantore in hierdie stadium vaar en waar daar agterstande is. Toe die DA verlede week ʼn oorsigtelike inspeksie gedoen het, het ons gehoor dat [die vakbond] Nehawu daarop aandring dat die kantoor op slegs 30%-kapasiteit bedryf word en dat personeel eers na die perseel moet terugkeer tussen 12 en 48 uur ná ontsmetting indien daar ʼn Covid-19-geval was.”

Steyn voeg by die minister moet ʼn sterk standpunt inneem. “Sy kan nie toelaat dat vakbonde beleid bepaal nie, veral nie as daardie beleid klaarblyklik slegs in een provinsie geld en tot sy nadeel is nie. Dit is dalk tyd dat die minister self ʼn inspeksie doen en as die departement nie ʼn veilige oplossing kan vind om die probleme te takel nie, moet daar ondersoek ingestel word oor dit wat ander aktekantore landswyd doen. Dieselfde reëls moet tog geld. As die departement homself reeds bewys het dat aktekantore in ander dele van die land veilig bedryf kan word, moet die Kaapstadse tak maklik in hul spoor kan volg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

Dieselfde DA wat nou kla omdat die aktekantoor Covid-19 as verskoning vir die agterstand gebruik, het vandat inperking begin het histeries mense left, right and centre in die Wes-Kaap vir corona getoets. Al hulle getoets toets toets het net onnodige vrese oor Corona aan die gang gesit. Vandaar die aktekantoor se agterstand. So die DA moenie nou kla nie.

Willem

Dit staatsdepartement. Hoekom sal hul werk as hul by huis kan sit en geld kry

marius

Wie ? Die feetjies ?

LANA is ELANè

Hemele behoede ons, en ek dog dit is net in TSHWANE waar eiendomstransaksie vertraag word oor lui amptenare wat beter kan dans, as wat hulle kan werk. Red NOU ‘n nasie met soveel onbekwaamheid in sy midde!