‘Dringende ingryping by Sol Plaatje nodig’

Andrew Louw, DA-leier in die Noord-Kaap. Foto: DA

Die VF Plus wil hê die Noord-Kaapse regering moet ingryp in die “leierlose” Sol Plaatje-munisipaliteit, waaronder die provinsie se hoofstad, Kimberley, en omstreke val.

Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-raadslid, sê sy party het Woensdag briewe aan die kantoor van die speaker, die waarnemende munisipale bestuurder én die LUR vir plaaslike regering in die Noord-Kaap afgelewer met die versoek om in die provinsie se grootste munisipaliteit in te gryp.

Die vergadering waartydens ʼn burgemeester verkies moes word, is Dinsdag onverwags tot 31 Oktober uitgestel.

“Die werklikheid is dat Sol Plaatje- plaaslike munisipaliteit reeds maande lank ʼn waarnemende speaker, waarnemende munisipale bestuurder en waarnemende finansiële hoof het,” sê Boshoff, “en vir die volgende maand geen burgemeester nie.

“Die VF Plus versoek in sy brief die drie amptenare om hul bevoegdheid te gebruik om te verseker dat dit wel gebeur. ʼn Dringende vergadering is nodig sodat die ondersoek na wanadministrasie wat afgelope Vrydag afgehandel is, aan die raad voorgelê kan word.”

Andrew Louw, DA-leier in die Noord-Kaap, meen dis “voor die hand liggend dat die ANC die verkiesing van ʼn burgemeester wil uitstel omdat hulle nie langer op 11 van hul raadslede se steun kan staatmaak nie”.

Hy sê die ANC wil eers tugstappe teen sy proporsionele lede afhandel en hulle vervang deur lojale verteenwoordigers voordat die party ʼn raadsvergadering sal toelaat. Intussen het die meerderheidsfaksie in die Sol Plaatje-raad nie genoeg steun in die raad om sy sin af te dwing nie.

Weens binnegevegte in die regerende party tussen ondersteuners van pres. Cyril Ramaphosa en oudpres. Jacob Zuma het die 11 ANC-lede reeds vantevore saam met die DA-opposisiekoalisie teen die meerderheidsfaksie gestem, sê Louw. Plaaslike ANC-leiers baklei ook onder mekaar om hul kanse in volgende jaar se algemene verkiesing te verbeter.

Die laaste burgemeester, Mangaliso Matika, is einde Julie ná weke lange onrus in die Noord-Kaapse hoofstad deur die hooggeregshof in Kimberley uit sy amp onthef nadat die DA gevra het die hof moet toesien dat ʼn geslaagde mosie van wantroue in hom toegepas word. Eers op 3 September het hy bedank, wat beteken die raad is nou al langer as ʼn maand leierloos.

Dr. Wynand Boshoff verteenwoordig die VF Plus in die Sol Plaatje- munisipale raad (Kimberley). Foto: Facebook

Louw sê dienslewering ly al maande lank weens die onenigheid in ANC-geledere en meer onlangs die vakante burgemeestersamp. “Bouplanne kan nie goedgekeur word nie, komiteevergaderings kan nie plaasvind nie en begrotings kan nie opgestel word nie.”

Boshoff sê die binnegevegte in die ANC berokken die Noord-Kaapse hoofstad groot skade. “Nie net word daar waargeneem in die senior [ampte] van munisipale bestuurder en finansiële hoofbeampte nie; die pos van burgemeester is ook nou vakant.”

Louw het nie veel vertroue in die ondersoek na wanadministrasie nie. “Ek dink nie daai verslag gaan ʼn werklike weergawe gee van wat gebeur het nie. Ons sou voorstel dat heeltemal onpartydige mense die ondersoek gedoen het,” sê hy, “maar dit was die [ANC-beheerde] provinsiale regering.”

Die DA en sy vennote gaan die speaker vra om ʼn dringende vergadering vir Vrydag te belê om ʼn nuwe burgemeester te kies. “Die ANC probeer vermy dat dit plaasvind, want hulle weet die getalle is teen hulle, maar as genoeg raadslede so ʼn vergadering versoek, moet die speaker dit toestaan.”

Op die vergadering van September het ANC-ondersteuners opposisielede glo met onder meer bottels van die openbare galery af bestook nadat dit duidelik geword het die 11 rebelleraadslede sou saam met die opposisie vir ʼn nuwe burgemeester stem, sê Louw.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Francois le Cochon ·

Dit is die gevolg as mense wat nie weet wat hul nie weet nie, in bestuurs posissies geplaas word.

Johanna Botha ·

Die hele land het n ingryping nodig ….van 52 na 57 moorde en die korrupsie op alle vlakke ….GROOT GEMORS !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.