Dringende ingryping vir aasvoëls gevra

Witrugaasvoëls. (Foto: Verskaf)

Die VF Plus het Donderdag ʼn voorstel by die provinsiale wetgewer ingedien om die aasvoëlbedreiging in die Krugerwildtuin en omliggende natuurreservate in die Bosbokrand- plaaslike munisipaliteit dringend aan te pak.

Dié voorstel behels ʼn versterkte beleid, aanhoudingteelprogramme en meer geldelike hulp vir die beskerming van aasvoëls.

Dít volg nadat 107 aasvoëls en een hiëna einde verlede week gevrek het nadat hulle aan ʼn vergiftigde buffelkarkas in die Punda Maria-gebied in die Krugerwildtuin gevreet het.

Die party wys mense nou daarop dat dit broeiseisoen is en dat die kuikens nie sonder hul ouers sal oorleef nie.

“Hierdie vergiftiging kom gereeld voor en kan grootliks bydra om verskeie spesies Afrika-aasvoëls uit te wis,” sê Werner Weber, die VF Plus-leier in Mpumalanga.

“Indien die provinsiale regering aanhou om die situasie in plaaslike natuurreservate soos die Krugerwildtuin, Manyeleti-wildreservaat, Sabi Sands-wildreservaat en Bosbokrand-natuurreservaat te ignoreer, kan dit lei tot ʼn ekologiese ramp.”

Weber sê daar word beraam dat die vereniging van tradisionele gesondheidspraktisyns in die Bosbokrand- plaaslike munisipaliteit 400 tot 800 aasvoëls per jaar doodmaak. Aasvoëls word deur tradisionele genesers in medisyne gebruik en die prys vir een wissel glo van R300 tot R1 500.

Die VF Plus het nou ʼn versterkte beleid voorgestel wat ʼn opvoedingsveldtog vir plaaslike inwoners insluit sodat daar bewustheid rakende aasvoëls en hul belangrike rol in die ekosisteem geskep kan word.

Die party sê daar behoort aanhoudingteelprogramme ingestel te word vir die herstel van spesies in gebiede waar hulle plaaslik uitgewis word.

Die VF Plus het ook gevra dat geldelike hulp beskikbaar gestel word om dié voorgestelde ingrypings in werking te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Miskruier ·

Kla die toordokters aan vir moord. Hier in Limpopo loop die duiwel rond.

Murray ·

Ons hoop maar dat hulle sal luister en die toordokters sal aanvat, maar omdat die ANC self voorvader aanbidders is, is dit te betwyfel of hulle iets daaraan sal kan doen

Frank John ·

Daar is dele van daai aasvoëls wat weer gebruik word vir een of ander satanistiese redes en sangomas wat mense ‘n rat voor die oë draai. En dis nie wat ek uit my duim suig nie dis ‘n feit. Kan net nie onthou presies wat nie.

Christine ·

Tradisionele gesondheidspraktisyns! Maw toordokters wat glo als wat leef en beef moet doodgemaak word! Kon gedink het hulle sit agter dit….

Karina ·

Aasvoels is ontsettend belangrik vir die ekologie. Ek het eendag nagelees oor aasvoels. Jy kry die wat die vel skeur, ander eet vleis, as bene oorbly, vreet ander aan die bene. Hulle kan ‘n dier gou stroop tot niks. Ek dink hulle is wonderlik, Die toordokters laat my dink aan renosters wat gestroop word vir hulle horings omdat die Chinese glo dit help ‘n man (in die bed) Skandelik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.