Dringende interdik op US-bestuur beteken

Universiteit Stellenbosch. Foto: Facebook

Universiteit Stellenbosch. Foto: Facebook

AfriForum Jeug se regspan het Vrydag ʼn aansoek om ’n dringende hofinterdik op die uitvoerende bestuur van die Universiteit van Stellenbosch (US) beteken.

Dit volg nadat dit onder die aandag van AfriForum Jeug gekom het dat minstens twee van die universiteit se fakulteite besluit het om af te wyk van die taalbeleid van die US soos deur die Universiteitsraad, met instemming van die Senaat, bepaal is.

Die burgerregte-organisasie is van mening dat hierdie fakulteitsrade se besluite onwettig en strydig is met die US se taalbeleid asook met die kontraktuele verhoudings wat studente met die US gesluit het en wat op daardie taalbeleid berus.

AfriForum Jeug het ʼn ultimatum aan die US gestel om voor of op 2 Februarie 2016 onomwonde die versekering te gee dat die bestuur stappe sal doen om die implementering van hierdie afwykende besluite te verhoed.

“Die US-bestuur het versuim om aan ons ʼn onomwonde versekering te gee. Ons het gevolglik voortgegaan met die instruksie aan ons regspan om voort te gaan met die uitreik en betekening van ʼn dringende hofaansoek,” het Bernard Pieters, AfriForum Jeug se verteenwoordiger van die Universiteit van Stellenbosch, gesê.

“Dit is belangrik dat studente besef dat daar ʼn aanslag op hul grondwetlike regte is. Dit is tyd om op te staan en sterk standpunt in te neem teen die miskenning van regsorde en ons regte. Die tyd het aangebreek vir studente om te mobiliseer en hulle stem laat hoor.”

Hein Gonzales, AfriForum Jeug se woordvoerder van US, het bygevoeg ingevolge die Kennisgewing van Mosie om die hofinterdik, het die US-bestuur tot Woensdag tyd om hulle opponerende stukke te beteken en liasseer.

“AfriForum Jeug se regspan sal op 12 Februarie hierdie aansoek in die Kaapstadse hooggeregshof argumenteer ten einde die regshulp te bekom soos in die Kennisgewing van Mosie vervat,” het Gonzales gesê. “AfriForum Jeug verseker met hierdie interdik dat Afrikaanssprekende studente se grondwetlike regte beskerm en verwesenlik word. Dit is ironies dat die Regsfakulteit by US aan die voorpunt van hierdie grondwetlike regskendings is. Hierdie instansie is veronderstel om juriste te kweek wat verseker dat alle groepe se grondwetlike regte beskerm en verwesenlik word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Willie Paterson ·

US se regsfakulteit stel ‘n baie swak voorbeeld aan sy regstudente. Dankie Afriforum dat julle bereid is om te veg vir die behoud van ons grondwet.

HEVW ·

Dit is insiggewend dat die faksies wat Afrikaans wil uitfaseer van A tot Z nog altyd op n bedenklike wyse funksioneer. Werke van die duisternis.

DPJ ·

Dit is duidelike tekens van sosialisme/komminisme.
Mooi afriform hou so aan.

Otter ·

Dankie Afriforum! My geld is goed genoeg vir US, maar my kinders se taal word misken. Ek weier om die Afrikaans-haters se salarisse te betaal.

hans ·

Indien die student wat pers kleursel aangesmeer het uit haar koshuis geskors word,sal daar iets wees wat Afriforum se regspan en ons as lede kan doen om sodanige besluit om te keer?

Sarie ·

Ja née nou is die Universiteit se bestuur absoluut belaglik. Hoop van harte Afriforum wen die saak oor die onderrigtaal. Baie Afrikaanssprende studente sê maar niks oor hulle bang is vir intimidasie. Moes ook self deurloop omtrent tien jaar terug toe ek ‘n nagraadse kursus gevolg het en gevra het of ek my werkstuk in Afrikaans kan doen. Die Prof se Ingels was ook nie van die wafferse nie. Toe ek op die internet gaan kyk na sy kwalifikasies het ek gesien hy het net ‘n honneursgraad in die vakrigting wat ons bestudeer het. Hy was wit en het altyd studente van kleur met sagte handjies behandel. ‘n Regte patetiese buffel.

Zuri ·

Dit is tyd dat ons Afrikaners al ons energie saam gooi en ons eie universiteit bou van wereld gehalte met geen bagasie van die verlede nie. Tukkies was eers engels en as ek luister na di geskiedenis het Afrikaans hulle gekaap en so ook vir Maties. Ons moet vars begin net soos ons vele Afrikaanse skole totstand gekom het. Lyk my ons sal di koeksuster resepte van ouma weer moet begin afstof. Daar is baie afgetrede dosente wat tot hulp kan wees.

Michael ·

Daar is so universiteit Akademia wat Solidariteit begin het en hopelik sal dit die universiteit in Suid-Afrika word

Oom Boer ·

“Afriforum/Solidariteit en Afrikaans” ek is trots op jul. Stem heelhartig met Zuri.

Elizabeth ·

Mooi Afri-Jeug! Wys daai verraaiers waar Dawid se wortels le. In ons taal! AFRIKAANS.

anna ·

dankie afriforum vir alles wat julle doen. hiermee wil ek dan ook vra of julle en maroela media by us kan uitvind wat se kleur verf die studente op hulself kan gebruik aangesien bruin swart en pers nie gebruik mag word nie. kan die us dalk n lysie publiseer oor wattet kleur verf gebruik kan word sonder om iemand te na te kom? mense is lyk my baie sensitief vir die kleur van verf op studente. kan ek swart verf op myself tuis gebruik? hulle moet dit asb spesifiseer en publiseer. kan julle by us uitvind? ek sien n student is geskors uit n koshuis uit omdat sy pers verf met glitter op gebruik het. wie het n persgelaat wat tenagekom gevoel het met glitter ook op? maroela en afri sal julle dit asb opvolg?

Danie Kok ·

Zuri

Dalk moet jy ‘n slag behoorlik op die geskiedenis ingaan eerder as om “so te luister” daarna, Tuks en Maties was nog altyd Afrikaans. En hoekom beskou die hedendaagse “kampvegters” van Afrikaans ons volksgeskiedenis as “bagasie” van die verlede? Tot en met 1966 het ons niks om oor skaam te voel nie, die periode daarna tot 1994 is wel ‘n klad op ons volksnaam want dit was die tydperk van liberale breinspoeling , leuens, integrasie asook ruggraatloosheid wat die meerderheid Afrikaners in jellievisse verander het. Dáároor moet ons liewer skaam kry en dít is ons eintlike bagasie…

Tokkie ·

Goed gestel Danie – die jeug van vandag het nie ‘n idee van ons volkgeskiedenis en al die opofferings wat daarmee gepaard gegaan het nie.

Izzy ·

Dankie Afriforum dat julle nie net hande gevou sit nie. Ons is SO trots om deel van julle te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.