Dringende ondersoek na motorfiets-ambulanse in Oos-Kaap gevra

Die motorfietsambulanse wat die Oos-Kaap nou wil gebruik. (Foto: Dr. Zweli Mkhize/Twitter)

Die Oos-Kaapse departement van gesondheid is by die Menseregtekommissie (MRK) verkla oor die geskiktheid van die sogenaamde “mediese motorfietse” wat die provinsie vroeër vandeesmaand bekend gestel het.

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het die motorfietse vroeër vandeesmaand bekend gestel as veeldoelige vervoermiddels wat pasiënte kan vervoer of selfs medisyne in landelike gebiede kan aflewer. Volgens hom kan die motorfietse ook in die veld ry, die syspan met ʼn sit- of lêplek is waterdig en daar is voorsiening vir binneaarse oortappings.

Die DA voer egter aan die motorfietse is ʼn oortreding van die Grondwet wat toegang tot gesondheidsorg waarborg en die staat verbied om enigeen toegang tot nood- mediese sorg te weier.

“Dié motorfietse is nie geskik vir pasiëntvervoer enige plek in die land nie, wat nog te sê van die landelike Oos-Kaap met weinig tot geen padinfrastruktuur nie,” het Siviwe Gwarube, die DA se woordvoerder oor gesondheid, gesê.

“Dié soort vervoer vir siekes, bejaardes en behoeftiges is onveilig en onwaardig.”

Die projek het die Oos-Kaapse regering sowat R10 miljoen uit die sak gejaag. Die DA sê egter dit maak ʼn bespotting van diegene wat gedwing gaan word om dié soort vervoer te gebruik en dat dit ʼn skending van mense se grondwetlike regte is.

“Dit is uiters belangrik dat die MRK so gou moontlik ʼn ondersoek doen, voordat die program in werking gestel word en die lewe van mense in provinsie in die proses in gevaar gestel word,” het Gwarube gesê.

Die DA het ook parlementêre vrae aan die minister gestel oor die kwessie of dié soort vervoer aan basiese standaarde vir pasiëntvervoer voldoen, of die nasionale gesondheidsdepartement saam met die provinsiale departement die projek onderneem het, asook wat die spesifikasies vir die projek was.

“Net gister [Donderdag] het Mkhize die motorfietse verdedig deur aan te voer dat mense in landelike gebiede kruiwaens moet gebruik [om pasiënte mee te vervoer]. Asof dít nou ʼn verskoning is om substandaard mediese ingryping te gebruik omdat Suid-Afrikaners herhaaldelik deur die regering in die steek gelaat is.

“Die MRK moet die ondersoek bespoedig sodat ons verseker geen lewe in die Oos-Kaap word in gevaar gestel weens die gebruik van blygemaakte kruiwaens as ʼn lewensreddende meganisme nie.”

Die DA se woordvoerder oor gesondheid in die Oos-Kaap, Jane Cowley, het vroeër gesê die R10 miljoen is bestee terwyl die departement verskaffers teen die einde van die laaste boekjaar nagenoeg R3 miljard geskuld het. Die departement is boonop basies bankrot weens sy laste wat bykans R30 miljard beloop.

“Die hele Scootergate-saga lyk na korrupsie,” het Cowley gesê.

Cowley het gesê die geld kon eerder gebruik word om die honderde stukkende ambulanse in die provinsie te herstel, of om te verseker gesondheidsorgwerkers het genoeg persoonlike beskermingstoerusting.

“Die Oos-Kaapse departement van gesondheid is in ʼn krisis. Pasiënte sterf op die vloere van staatshospitale en werkers aan die voorpunt het die hoogste Covid-19-infeksiekoers in die land.”

Luidens die jongste syfers het die Oos-Kaap reeds 12 639 bevestigde gevalle van Covid-19. Dit is net meer as 15% van die gevalle landwyd. Altesaam 257 mense het ook reeds in die provinsie weens die nuwe virussiekte gesterf, 63 van hulle in die 24 uur voordat die syfers Donderdagaand bekend gemaak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
JANINE

Wonderlik. Kan hulle sommer ook die waterkanne wat ten duurste by skole opgesit is, ondersoek?

Hekwag

Een van die dae verdwyn die “side-cars” en dan ry die edele menere rond met nuwe motorfietse. Maklik!

Sean

Nou sit die arme siek pasient in die wind en koue Baie skerp anc Soos die treine duikbote en viegtuie wat ons ook nie kan gebruik nie Wat koop julle volgende ?

Johan

Veiligheidstandaarde word gewoonlik ondervang wanneer homologasie gedoen word en is ‘n voorvereiste vir registrasie van enige omgeboude voertuig. Wonder of die homologasie wel gedoen is. Stem saam dat swak paaie nie begaanbaar is met so tipe voertuig nie en dan moet daar bestuurders met die korrekte tipe bestuurslisensie wees. My vraag is hoekom die Departement van Gesondheid, waar is die eksperte in vervoer dan in dié geval?

Johann

Hiers ‘n idee. Gee vir die ministers elk een plaas van die hordes peperduur karre wat hulle mee rondjaag? Lekker sitplek vir his honorable en sy drywer is sommer sy sekwroeti ook?