Dringende ondersoek na treinramp gevra

Beseerdes word op die toneel behandel. Foto: Twitter via @Abramjee

Gauteng se LUR vir paaie en vervoer vra dringende optrede om pendelaars se veiligheid te verseker nadat tientalle mense beseer en minstens drie dood is in ʼn treinongeluk in die weste van Pretoria.

Die Metrorail-passasierstreine was Dinsdagoggend op dieselfde spoorlyn uit Mabopane se rigting na Pretoria se middestad onderweg toe die een van agter in die ander vasgery het, het Lillian Mofokeng, Gautengse Metrorail-woordvoerder, gesê. Die oorsaak van die botsing word nog ondersoek.

Die LUR, dr. Ismail Vadi, het sy opregte meegevoel betuig met die naasbestaandes van die drie pendelaars wat in die ongeluk by die Mountain View-stasie omgekom het. Hy wens ook die meer as 250 beseerdes ʼn spoedige herstel toe.

“Ons is diep geskok deur dié tragiese voorval so vroeg in die nuwe jaar. Ons doen ʼn beroep op die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) en die Spoorveiligheidsreguleerder om die botsing dringend te ondersoek en maatreëls in te stel om pendelaars se veiligheid op treine te verseker.”

Vadi het sy dank betuig aan die nooddienste en polisie vir hul flink reaksie en die hulp wat hulle aan die beseerdes verleen het.

Pres. Cyril Ramaphosa het ook sy meegevoel betuig. “Ek het met hartseer van die ongeluk verneem,” sê hy. “Ons dink aan diegene wat hul lewe verloor het en hul naasbestaandes. Ek wens die beseerdes spoedige beterskap toe.”

Hy verwelkom die pogings deur Metrorail in Gauteng om ʼn ondersoekkommissie daar te stel om die oorsaak van die ongeluk te bepaal.

Ons vra gedurig dat strenger spoorveiligheidsmaatreëls toegepas word.

Die DA vra ook dat die ongeluk dringend ondersoek word. “Ons vra gedurig dat strenger spoorveiligheidsmaatreëls toegepas word aangesien pendelaars se lewe nie daagliks in gevaar gestel mag word nie,” sê John Moodey, die party se Gautengse woordvoerder oor vervoer.

In twee onlangse treinongelukke in dié provinsie is sowat 100 mense verlede jaar in Johannesburg beseer en sowat 300 in Kempton Park, sê Moodey. “[Die jongste ongeluk] is net nog ʼn voorbeeld van hoe die ANC nie die veiligheid van ons pendelaars ter harte neem nie.”

Die DA doen ʼn beroep op Vadi om met Blade Nzimande, minister van vervoer, oorleg te pleeg om Prasa te vra om die ongeluk te ondersoek en dringend werk te maak van pendelaars se kommer oor hul veiligheid.

“Ons doen ook ʼn beroep op die Spoorveiligheidsreguleerder om spoorveiligheid in die provinsie te ondersoek,” sê Moodey, “om te verseker dat alle moontlike veiligheidsmaatreëls ingestel word om toekomstige ongelukke te voorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Richard ·

Wat anders kan verwag word van n bevrydingsorganisasie wat probeer regeer. Na 25 jaar se voort ploeter waar korrupsie en kader ontplooing die modes operandi van die tyd is en waartydens van alle wit kundiges omtslae geraak is val die wiele nou ernstig af op vele gebiede binne n wankelende piesan republiek.

Pieterv ·

Te min te laat?.
Solank ons prezzie se vee ok is, maak niks anders saak nie.

PJC ·

Niemand sal dit erken nie maar dit is onbevoegde (SEB) mense wat die oorsaak is. Die treine en die sinjale beheer hulle nie self nie.

Hanna Hoekom ·

Spaar maar julle tyd en geld op “ondersoeke”. Ons almal weet wat die rede is: reg(weg)stellende aksie! Geloofwaardigheid voor kundigheid. En nou is daar mense dood!

Wilma ·

Mag ek stout wees en vra. Huveel treinongelukke het in Ou SA plaasgevind. Almal weet wa probleem nou le

Margaret ·

ONBEVOEGDHEID is die probleem! Wanneer gaan julle dit erken en die regte ding doen ?

Herman P ·

Die foto laat my dink aan die ironie van regstellende aksie..

jakes ·

Bly maar ver weg van treine af in die nuwe SA. Soos gewoonlik word kabeldiefstal gerieflikergewys as die rede vir die ogeluk voorgehou. Mens hoef nie n “rocket scientist ” te wees om te weet dat totale onbeholpenheid, onbevoegdheid en swak opleiding (indien enige) die eintlike rede vir die swak toestand van spoorvervoer is nie. Gegewe die huidige toedrag van sake in Prasa en Transnet verwag n mens niks anders as chaos nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.