Dringende optrede sodat klasse by TUT kan hervat

'n Bus het op 9 September 2014 by TUT uitgebrand tydens studentebetogings oor NSFAS Foto aan Maroela Media verskaf

‘n Bus het op 9 September 2014 by TUT uitgebrand tydens studentebetogings oor NSFAS Foto aan Maroela Media verskaf

Die Tshwane Universiteit van Tegnologie het Saterdag gesê hy doen dringende stappe om seker te maak dat die akademiese program so gou as moontlik kan hervat by sy Pretoria- en Ga-Rankuwa-kampusse ná studentebetogings.

“Die TUT is bewus daarvan dat die meerderheid van ons studente besorg is oor die ontwrigting aan hul studies wat deur die betogings veroorsaak word,” het Willa de Ruyter, woordvoerder van die TUT, in ʼn verklaring gesê. “Die universiteit doen dringend stappe om seker te maak dat die akademiese program ongehinderd kan voortgaan sodat die studente hul jaar suksesvol kan voltooi.”

Sy sê die universiteit is steeds toegewyd om in gesprek te tree met die studenteleiers en onderhandelinge duur voort.

Die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) het Donderdag gesê die betoging sal voortduur totdat die studente anders besluit. Mboniseni Dladla, VSR-president, het gesê die studente kan nie met uitsetting uit die instansie se koshuise gedreig word nie. “Geen leuens wat deur die woordvoerder van die universiteit versprei word, kan ernstig opgeneem word nie,” het Dladla gesê. “Ons het met ons prokureurs gepraat en kan alle TUT-studente verseker dat die dreigemente nie tot vervulling sal kom nie.”

Die instansie moes Donderdag weer sy deure sluit ná studente amok gemaak het op die twee kampusse. Die betogers het onder andere een van die busse aan die brand gesteek. Klik hier om foto’s te sien. Klasse is Dinsdag en Woensdag opgeskort weens studentebetogings oor ʼn tekort aan fondse in die finansiële hulpskema vir studente (NSFAS). TUT-personeel het Woensdag teruggekeer werk toe, maar is Donderdag aangesê om vir hul eie veiligheid weg te bly van die kampus af.

Lees ook:
TUT-betoging: “Rassistiese dosente moet afgedank word”
Klasse verder opgeskort by TUT weens betogings
Foto’s: Klasse by TUT opgeskort weens betogings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.