Drink en bestuur: ‘Gedrag, nie wetgewing moet verander’ – AA

(Argieffoto: pixabay)

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, se voorgestelde veranderings aan wetgewing oor die wettige bloedalkoholvlak om te bestuur, gaan niksseggend en ondoeltreffend wees as huidige wetgewing wat drink en bestuur moet vasvat nie eers behoorlik in werking gestel en afgedwing word nie.

Dít volgens die Automobiel-Assosiasie (AA) wat sê drink en bestuur kan veel doeltreffender bekamp word deur die toelaatbare bloedalkoholvlak vir motorste te verlaag en strenger vonnisse vir oortreders op te lê.

Mbalula het Dinsdag gesê die regering werk aan ʼn wysigingswetsontwerp wat bepaal dat die wettige bloedalkoholvlak vir motorste 0% is.

Die Wysigingswetsontwerp oor Padverkeer bepaal dat niemand ʼn voertuig mag bestuur as daar enige konsentrasie alkohol in sy liggaam is wat nie minder as 0,05g per 100 ml is nie. Die wetsontwerp is vroeër vanjaar aan die parlement voorgelê.

Mbalula het gesê padongelukke waarby dronkbestuurders betrokke is, kos die land se ekonomie jaarliks nagenoeg R18,2 miljard, het eNCA berig. Volgens die minister het navorsers bevind alkohol speel ʼn rol in 27,1% van noodlottige ongelukke in die land en dat wetgewing hieroor verskerp moet word.

Die AA sê hoewel Suid-Afrika se huidige beperking van 0,05% naastenby in ooreenstemming met internasionale standaarde is, vereis die krisis op die land se paaie ʼn veel strenger aanslag. Die AA stel voor dat die bloedalkoholvlak van 0,05% tot 0,02% verlaag word, ʼn vlak wat in talle ander lande geld.

“Die AA neem kennis dat die voorgestelde skuif na ʼn wettige limiet van nul nie die feit in ag neem dat sommige medisyne, soos hoesstroop, moontlik alkohol bevat nie. In dié gevalle kan motoriste met ʼn misdaadrekord sit omdat hulle een dosis van die medikasie geneem het, terwyl dit eintlik geen uitwerking op hul bestuursvermoë gehad het nie.”

Die AA sê die verlaging van die bloedalkoholvlak na nul gaan nie die probleem met padsterftes oplos as dit nie deur deeglike, wetenskaplike studies gesteun word nie.

Die organisasie sê ʼn gedragsverandering is nodig en dat dit teweeg gebring kan word deur strenger afdwinging van bestaande wetgewing en groter bewusmaking van die gevare van dronkbestuur.

Die AA sê daar kan nie ʼn situasie bestaan waar die regering raai oor tot watter mate alkohol ʼn bydrae tot padsterftes lewer sonder dat daar ʼn plan is – behalwe om wetgewing te wysig – om die krisis te pak nie.

“Ons is van mening dat mense wat drink en bestuur nie hul gedrag gaan verander nie. Daar is geen gevolge nie, so hulle is bereid om die kans te waag om gevang te word.

“Behoorlike wetstoepassing is die eerste stap voordat wetgewing gewysig word. As die manier hoe die wet toegepas word nie verander word nie, hoe gaan ʼn wetswysiging ʼn verskil maak?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Simon

Sal graag wil weet wat die alkohol-bydrae van die virus-reinigers met hoer alkohol inhoud en deur die mens se vel opgeneem word, is.

Pieter

Dít, terwyl mens wettig kan dagga rook en bestuur?

Wielspore

Wette kan afgedwing word, gedrag is persoonlik, net die persoon self kan gedrag verander, hoe kan die AA verwag dat die oplossing by gedrag is as die regering nie in beheer is van persoon. Om die bloedalkoholvlak te verminder tot 0 maak sin want dit is makliker uitvoerbaar vir die persoon en regering (wet). As jy drink sit jy nie jou hande op die stuurwiel, daar is geen twyfel van het ek te veel gedrink al dan nie. As die wets toepassers die teenwoordigheid van alkohol optel kan regstappe volg, geen twyfel.

Lekker ry!

AndréS

Soos die AA sê, pas die huidige wet toe!

melaney

Die toestand op SA paaie sal nooit verander nie. Padverbruikers weet hulle kan omkoopgeld betaal en verder voet in die hoek sit. Eergister is ‘n voetganger van agter deur ‘n motoris die lug ingeslinger. Die motoris was nie net besope nie, maar was ook besig om op haar selfoon te praat terwyl sy bestuur het. Sy sal niks oorkom nie want sy het haar gedeelte “betaal”. Die dag dat mense ‘n tyd agter tralies deurbring sal hulle weer verantwoordelik optree.