‘Drink verantwoordelik’ pleit SAB ná verslapte regulasies

(Foto: pixabay)

Noudat Suid-Afrikaners weer wettig mag drank koop, het die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) ʼn beroep op mense gedoen om die streng Covid-19-protokolle na te kom en te voldoen aan vlak 2-afsonderingsregulasies om die inkomste en lewensbestaan van die 1,1 miljoen mense wat op die bedryf vir ʼn inkomste staatmaak, te beskerm.

Die SAB sê maatreëls oor nuwe bedryfsure vir tavernes, kroeë en restaurante, asook beperkings op kleinhandelaars se bedryfsure, is duidelik en ondubbelsinnig.

Die SAB sê kuierplekke se dranklisensies kan wettig opgeskort word, insluitend vir oortredings van enige Covid-19-regulasies, en dat SAB dan nié verder drank aan hulle mag verkoop nie. Die regering het die ekonomie verder heropen en die verbod op alkoholverkope – onderworpe aan streng voorwaardes – opgehef.

Kuierplekke mag net tot 22:00 drank bedien, terwyl drankwinkels tussen 09:00 en 17:00 van Maandag tot Donderdag mag sake doen.

“Die een miljoen mense wie se inkomste deur die bedryf ondersteun word, kan bloot nie verdere beperkings op die verkoop van alkohol bekostig omdat daar nie aan vlak 2-regulasies gehoor gegee word, of alkohol onverantwoordelik gebruik word nie.

“Vir talle van ons vennote in die waardeketting wat sukkel om weer op hul voete te kom, gaan nog ʼn verbod met verskerpte regulasies die einde van hul ondernemings beteken en die inkomste van hul werkers in die gevaar stel,” het Zoleka Lisa, SAB-woordvoerder, gesê.

Die SAB sê hy steun die onderneming van tavernes en restaurante wat drank verkoop dat hulle verantwoordelikheid sal optree.

“By SAB hou ons vol dat ons wil hê mense se ervaring met ons bier moet positief wees en dit beteken daar moet sterk standpunt ingeneem word teen skadelike of onverantwoordelike drankgebruik,” het Lisa gesê.

Die SAB se verkope-afdeling en bedryfsvennote sal ook gereeld inspeksies doen om te verseker daar word aan maatreëls voldoen.

Taverne-eienaars het reeds onderneem om nie drank te bedien aan diegene wat reeds een te veel gehad het nie, om drink en bestuur of drink en stap te ontmoedig, asook om aan Covid-19-veiligheidsmaatreëls te voldoen.

“Ons is steeds te midde van ʼn gesondheidspandemie,” het Lisa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Ai Miskruier, ek stem 100% saam maar in hierdie land is daar geen konsekwente optrede nie. Alles wat ons dink eintlik moet gebeur raak ‘n grap. Ek sê nog steeds dat dronkbestuurders lewenslank moet tronk toe gaan. Feit is dat dit net op sekere rasse van toepassing gaan wees.

Landras ·

Dit maak gladnie sin hoe iemand homself simpel kan suip by ‘n kroeg Ma-So tot 10 pm en dan in ‘n kar klim nie, maar ons bottelstore mag net Ma-Do tot 5 uur besigheid doen – na 17 jaar moes ons nou die besluit neem en toemaak , want ons besigste tye is ná werk en naweke … dankie ANC

Elsabe ·

Ek is baie jammer dat jy jou onderneming moes toemaak. Maar ek is verheug oor die verminderde ure van absolute vergrype aan drank koop.

katerinadiekat ·

Jy kan seker soveel drank koop soos jy wil van Maandag tot Donderdag, oorgenoeg om jou tot in n ander sterreteken te drink op die naweek. In daardie opsig sien ek nie hoe mense minder drank koop of drink nie. Jy koop dit nou net op verskillende dae. Ek drink self glad nie maar as ek het, sou ek net vroeer in die week genoeg gekoop het vir die naweek ook.

Strandloper ·

Drink verantwoordelik? Hoe lekker lag ek nou vir die veregaande stelling ! Dalk moet die parlement n voorbeeld stel….jammer nou is ek weer veregaande.

Jaco ·

SAB jy het n opdraende stryd. Nie net teen mense ,maar die regering ook. Die kanse dat jy gaan verloor is goed.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.