DRK: Name bekend van SA se gestorwe soldate; VSA veroordeel geweld

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die twee Suid-Afrikaanse soldate wat die week in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) dood is, se name is deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) bekend gemaak.

Maroela Media het vroeër berig ʼn mortierbom in die ooste van die DRK het Woensdag die lewe van twee weermaglede geëis, toe dit binne-in een van die weermagbasisse geland het. Dit is die eerste aangetekende sterftes sedert Suid-Afrikaanse troepe in Desember as deel van die SAOG se sending, genaamd SAMIDRC, in die ooste van die DRK ontplooi is om die M23-rebellegroep te beveg.

Die oorledenes is deur die SANW geïdentifiseer as kapt. Simon Mkhulu Bobe en o.kpl. Irven Thabang Semono. Albei soldate was aan 1 SA Infanterie-bataljon verbonde en was saam met 2 SA Infanterie-bataljon ontplooi ten tyde van hul dood.

Volgens die SANW sal daar in ʼn latere stadium inligting oor roudienste en begrafnisse vir die gestorwe soldate bekend gemaak word. Die drie soldate wat tydens die voorval beseer is, word steeds in die hospitaal behandel.

Die VSA het Saterdag die toenemende geweld deur M23-rebelle ten sterkste veroordeel. Gevegte het die afgelope dae rondom die dorp Sake, 20 km van Goma, tussen M23-rebelle en Kongolese regeringsmagte opgevlam.

“Hierdie eskalasie het die risiko vir miljoene mense verhoog … Ons doen ʼn beroep op M23 om onmiddellik vyandelikhede te staak en uit sy huidige posisies rondom Sake en Goma te onttrek,” het Matthew Miller, woordvoerder van die Amerikaanse departement van buitelandse sake, in ʼn verklaring gesê.

Amerika veroordeel ook Rwanda se beweerde steun vir M23 en het ʼn beroep op die land se regering gedoen “om onmiddellik alle Rwandese weermagpersoneel uit die DRK te onttrek en sy oppervlak-tot-lug-missielstelsels te verwyder, wat die lewe van burgerlikes, VN-magte en ander streeksvredesmagte bedreig”.

Tientalle soldate en burgerlikes is glo dood of gewond in die gevegte oor die afgelope tien dae.

Die jongste geweld het tienduisende burgerlikes gedwing om na Goma te vlug, wat tussen die Kivu-meer en die Rwandese grens staan en feitlik van die land se binneland afgesny is.

Die DRK, die Verenigde Nasies en Westerse lande sê Rwanda ondersteun die rebelle in ʼn poging om groot minerale hulpbronne te beheer, ʼn bewering wat die Rwandese regering ontken.

VN-magte is al byna 25 jaar in die DRK, maar word daarvan beskuldig dat hulle nie burgerlikes teen gewapende groepe beskerm het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper ·

Weereens soos met die dilemma in die Midde Ooste het Cyril die verkeerde besluit geneem.Die Internasionale Geregshof het hom ‘n put gedruk by 2 geleenthede en nou het hy die bloed van die 2 soldate ook aan sy hande.Hoe slaap hy in die nag.

Martie ·

Nou hoekom word daar nie ook by die Wêreldhof gekla oor volksmoord nie. Daardie oorloë in Afrika duur al jare. Duisende al vermoor.

Joan ·

Ja, solank dit net nie die ANC president se eie kinders is wat gaan om doodgeskiet te word in die Kongo nie, sal hy aanhou stuur. Wat ‘n onregverdige besluit was hierdie net nie. “Ons sal lewe, ons sal sterwe . . ons vir jou Suid-Afrika”. Maar dis natuurlik ons wat trots is op ons land, nè? Ek vertrou nie een van ons manne sal wil gaan sterf vir ‘n ander land nie, en dit nogal so onvoorbereid. Sies, Rama!!

trotsNAMSA ·

Ons “manne” het in die 80’s onvoorbereid gaan veg !
Hulle het beter gevaar as vandag se SANW omrede hulle dissipline en patriote
was. SA is deel van die Afrika Unie en moet dus “help”. VN het seker die bestaan, nog niks reggekry nie. Daar sal altyd onrus wees in Ethiopië en Soedan, gaan lees meer oor hul geskiedenis. RIV :(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.