Dronk bestuurders in Kaapstad wek kommer

(Foto: Departement van vervoer/X)

Verkeersbeamptes het die afgelope drie weke ʼn totaal van 90 mense in hegtenis geneem weens dronkbestuur, waarvan 37 voorvalle net die afgelope week aangemeld is. Voorverlede week is 29 motoriste in hegtenis geneem en die week daarvoor 24.

Verder is altesaam 2 114 lasbriewe verlede week uitgereik, 51 973 oortredings is aangeteken en 156 openbare vervoervoertuie is op beslag gelê.

“Hierdie getalle is kommerwekkend, veral soos ons Paasnaweek nader, wat gewoonlik van die gevaarlikste tye op ons paaie uitmaak. Paasnaweek is boonop aan die einde van die maand, wanneer ons ook gewoonlik ʼn toename in dronkbestuur sien,” het JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, gesê.

“Die impak van alkohol is goed gedokumenteer en tog sien ons steeds ʼn ooglopende verontagsaming van die wet en die gevaar wat dit vir ander inhou.”

Wahl Bartmann, uitvoerende hoof van die Fidelity Services Group, sê daar is ʼn paar basiese veiligheidstappe wat bestuurders moet onthou om te verseker dat hulle en hul passasiers hul bestemmings veilig kan bereik, veral oor Paasnaweek.

“Deur jou veiligheidsgordel vas te maak, by die spoedgrens te hou en nie dronk te bestuur nie, kan jy die omgewing aansienlik positief beïnvloed. Te veel lewens gaan elke maand op Suid-Afrikaanse paaie verlore as gevolg van onverskillige bestuurders of spoedvrate.”

Volgens Bartmann het die aantal padsterftes oor Paasnaweek met 37% toegeneem, van 184 in 2022 tot 252 in 2023. Noordwes en die Wes-Kaap was die enigste provinsies wat ʼn afname in sterftes (50% en 34% onderskeidelik) gedurende verlede jaar se Paasfees aangeteken het. Die hoogste toename was in KwaZulu-Natal, met 132% meer sterftes, gevolg deur die Vrystaat, met ʼn toename van 122%.

Bartmann stel voor dat enige en alle afleidings vermy moet word. Dit beteken dat motoriste liefs nie ʼn selfoon gebruik of boodskappe probeer stuur terwyl hulle bestuur nie.

“Dit is ook belangrik om jou motor deur in padwaardigheidstoets te laat gaan voordat langafstandreise onderneem word.”

Bartmann sê enige bestuurder wat ʼn voertuig op Suid-Afrikaanse paaie bestuur, sal ʼn voertuigopsporingstelsel moet oorweeg.

“Dit is ʼn hartseer werklikheid dat baie voertuie elke dag gekaap word. Misdaadstatistieke vir die derde kwartaal, wat onlangs deur die polisie vrygestel is, toon dat ongeveer 66 motors daagliks gekaap word – ʼn toename van 6,5% teenoor dieselfde tydperk in 2022. Die provinsies Gauteng, die Wes-Kaap en Noordwes het merkbare toenames in kapings gesien,” sê Bartmann.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Tewis ·

Mense het nie werk nie en drink maar hulle brkomernisse weg dalk somner met ń kan wyn.

Martie ·

Miskien moet ons begin by beter strawwe vir misdaad dan sal ons nie allerhande geld uitgee toerusting nodig hê nie. Wat JP Smith en die Kaapse verkeer betref hulle het dronkbestuur op die brein. Mnr Smith jou verkeer mense is nêrens te sien nie behalwe by padblokkades. Die mense verontagsaam padreels dis waarom ongelukke gebeur, nie dronkbestuur nie. Ek ry gereeld langafstande dis ‘n nagmerrie hoe mense ry en hulle is verseker NIE DRONK NIE. Elk geval 90 uit soveel oortredings en was hulle regtig dronk of net oor die limiet, dan is jy nie dronk nie.

Juanita ·

Vat hulle vas, hulle maak die paaie onveilig vir onskuldige mense.

Robert ·

Ek sal nooit bestuur onder die invloed goedpraat nie maar daar is ander ootredings, wat daagliks gebeur hier waar ek woon, wat volgens my oordeel net so gevaarlik is indien nie meér nie!! Rooi ligte en stoptekens word bloot geignoreer asof dit nie bestaan nie!!! En daaraan word weinig gedoen. Kameras by verkeersligte werk nie of is bloot verwyder. Die probleem is dat sulke optrede grootliks ongestraf bly en daarom gebeur dit al hoe meer…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.