ʼn Man wat glo onder die invloed van alkohol was, het Dinsdag sy woonbuurt in Pretoria se Moot-omgewing op hol gehad nadat hy glo probeer selfmoord pleeg het en daar gevrees is dat hy gyselaars aanhou.
Volgens kapt. Tsekiso Mofokeng, polisiewoordvoerder, het die publiek die polisie omstreeks 09:00 na die huis in Capitalpark ontbied nadat hulle die man in ʼn huis met ʼn geweer sien rondloop en verskeie geweerskote gehoor het. Gerugte het gou die ronde gedoen dat ʼn gyselaarsdrama hom daar afspeel.
“Dit was nie ʼn gyselaarvoorval nie, die man was glo besope en het probeer om selfmoord te pleeg,” het Mofokeng gesê. Toe die polisie by die toneel opgedaag het, het hulle geweerskote uit die huis hoor kom. “Die 40-jarige man het homself in die gesig geskiet. Die polisie het toegang tot die huis bekom, en die vuurwapen van hom afgeneem. Hy was alleen in die huis.”
Hy is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.
Mofokeng het gesê die man het ʼn lisensie vir die vuurwapen.
Die polisie ondersoek ʼn saak van nalatige hantering van ʼn vuurwapen en vuur van ʼn vuurwapen in ʼn munisipale gebied.
Ai die arme ou! Drank is ‘n lelike ding en laat jou lelike doen as jy besope is. Een teen tien werkloos, vrou weggeloop met kinders en al! Ou, jy het nou jou lewe lekker opgevoeter…. Ek hoop hy kry hulp.