‘Dronk man’ tref 2 metropolisiebeamptes

Beamptes van die Tshwane-metropolisie. Argieffoto: Facebook

Twee beamptes van die Tshwane-metropolisie is Sondag in die vroeë oggendure in Centurion deur ʼn motoris raakgery wat glo onder die invloed van alkohol bestuur het.

Sr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het gesê die voorval het omstreeks 04:30 by die wisselaar van die N1-snelweg en Ou Johannesburgweg plaasgevind.

“Die beamptes het ʼn voertuig van die pad af getrek wat bo die spoedgrens gery het. Terwyl die beamptes besig was om ʼn boete vir die bestuurder uit te reik, is hulle deur ʼn ander voertuig van agter getref,” het Mahamba gesê.

Albei beamptes is beseer en na ʼn hospitaal geneem.

“Die bestuurder van die motor wat die beamptes getref het, is vir alkohol getoets. Daar is vasgestel dat hy ver oor die toelaatbare perk is. Hy is in hegtenis geneem op aanklagte van dronk- en roekelose bestuur.”

Die man is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem. Een van die beamptes is intussen uit die hospitaal ontslaan. Die ander beampte se toestand is stabiel.

“Dit is teleurstellend dat daar nog mense is wat weier om ag te slaan op waarskuwings rakende dronkbestuur. Die Tshwane-metropolisie sal egter met bewusmakingsveldtogte vir padveiligheid volhou om sterftes op die stad se paaie te verminder en dié wat die wet oortree te vervolg,” het Mahamba gewaarsku.

Die voorval volg kort nadat Albert Pretorius (42) glo verlede Maandag onder die invloed van alkohol bestuur het en twee Johannesburgse metropolisiebeamptes, Winnie Mokgolo (35) en Sophie Ngoasheng (45), by ʼn padblokkade doodgery het. Hy is ná die voorval in hegtenis geneem en is Vrydag borgtog in die Alexandra-streekhof geweier. Hy bly in aanhouding totdat hy weer op 29 Maart in die hof moet verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jan ·

As iemand ‘n lisensie het wat wettiglik bekom is behoort hy/sy te weet wat is reg en verkeerd insoverre dit die bestuur van voertuie betref. Vergeet van bewusmaking. Maak die strawwe drakonies. Verhoor oortreder binne 24 uur. Lisensie kwyt vir minstens ‘n jaar. In ernstige gevalle konfiskeer voertuig.

Gerbrandt ·

Metro kan nie eers taxis stop wat maak wat hulle wil nie.wetteloosheid seevier as wet nie toegepas word nie.begin deur elkeen te skryf vir nie dra van veiligheidgordels nie.nie een van hulle dra dit nie.

Hans ·

Jamer om te sê dir mertro trek wel en skryf wel boetes vir die taxis tog voel hul n veer daar voor. dit kom die afdwing van sulke boetes waar daar n probleem is. Dit is die rede hoekom hul deesdae staak in pretoria. Al gesien hoe reageer van die mense wat afgetrek word teenoor beamptes wat nog oppad is na die voeruig toe. ek weet dat daar van hul is wat ook nie reg optree nie tog is daar so ook van die publiek wat nie reg ooptree nie. Niemand het meer respek vir ander nie. Ek sien dit mos hie by my werk ook, ek moet meer male my hoof in skaamte laat sak oor hoe daar opgetree word teenoor die werkers hier, dan was die werker nogal behulpsaam, net omdat die publiek nie kry wat hul wil he nie. Ek kan baie sulke gevalle op noem. Ek tree tussenbeide dan word ek ook sommer gevloek omdat ek hul tereg wys. Die probleem is geen respek vir mede mens meer op die aardbol nie. die dat dit so gaan

Gerrit ·

Dit gebeur as daar vir jare geen optrede of wetstoepassing was nie en nou word daar op die misdryf gefokus

christa ·

dronkbestuur is algemeen. Die mense het geen respek vir ander se lewens nie, want hulle het dit nie eers vir huleie nie., Plaas ‘n groot heffing op dranklisensies sowel as drank. Maak die prys sommer dubbel dan sal daar meet gelukkige huwelike wees en die samelewing sal n beter plek wees.

CL ·

Wonder of dit dieselfde amptenare is wat in die week vir n vriend van my gevra het hoeveel hy sal betaal as hulle nie n toets op hom doen nie, R 1000 is genoem en baie maklik aanvaar deur die beamptes. So maak hulle in die middel van die nag groot geld en gee nie regtig om of die persoon verder dronk bestuur of nie.

Anti-Haas ·

Christa, jou seining is lagwekkend.
Deur drank duurder te maak, los nie die problem op nie.
Polisieering, meer padblokkades en swaarder strawwe is die oplossing.
Jy sal nie drink en bestuur as jy weet jou lisensie word vir 5 jaar opgeskort of jy gaan vir 5 jaar tronk toe met eerste oortreding nie.
As jou bloed getrek word, neem dit tot 7 maande, (soms nog langer) voor die uitslag bekend is. Intussen….
Beamptes word omgekoop.
Dossiere raak verlore……………ens ens

Alida ·

Korrupsie is maar ‘n groot probleem. As die skuldige amptenare wat hulle skuldig maak aan omkoopgeld maar net weet hoeveel lewens word geneem in ongelukke waarby drank betrokke is sal hul anders daaroor dink. Wonder wat sal hulle doen as ‘n dronk mens een van hulle kinders of ouers doodry of ‘n ongeluk veroorsaak?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.