Dronk man vat laaste sopie voor metropolisie

Talle motoriste is die afgelope naweek in hegtenis geneem. (Argieffoto ter illustrasie.)

’n 29-jarige motoris het Sondag ten aanskoue van metropolisiebeamptes eers ’n laaste sopie van sy brandewyn geneem voordat hy in hegtenis geneem is.

Luidens ’n verklaring deur die Stad Kaapstad, is die man tydens ’n padblokkade op die hoek van Saxdowne- en Hindleweg afgetrek.

“Metropolisiebeamptes het ’n oop bottel brandewyn tussen die man se bene gewaar. Soos hulle nader gestap het, het hy een laaste sluk uit die bottel gevat,” sê JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekerheid.

Smith sê die metropolisiebeamptes was “stomgeslaan” deur dié motoris se gedrag.

“Die beamptes het die motoris ondervra en opgemerk dat hy wankelrig was. Hy is gevolglik vir dronkbestuur in hegtenis geneem en na die Mfuleni-polisiestasie geneem.

“Dié soort skaamteloosheid mag nie geduld word nie; ek hoop die hof neem sy gedrag in ag wanneer hulle op ’n straf besluit.”

Smith sê voorts dat te veel mense ander se veiligheid in gedrang bring weens ’n totale verontagsaming van die gereg.

Dít, sê Smith, is iets wat slegs deur streng nagevolge beveg kan word.

Verder het die metropolisie 65 motoriste oor die afgelope naweek in hegtenis geneem en 3 638 boetes uitgereik.

’n 28-jarige man van Dunoon is ook in die sop nadat hy tydens ’n toets om sy leerlinglisensie te verkry, gekul het.

“’n Parate eksaminator van die verkeersdepartement het opgemerk dat die man verdag lyk en gesien hoe hy antwoorde van ’n papier afskryf.

“Dié kulnotas was in sy mou weggesteek.”

Volgens Smith is die man na die Milnerton-polisiestasie geneem waar hy van bedrog aangekla is.

“Aansoekers word vooraf in kennis gestel dat oortredings soos dié strafregtelike gevolge kan inhou en jou verhoed om in die toekoms weer vir ’n leerlinglisensie aansoek te doen.

“Die maklike uitweg het toe na ’n baie moeiliker pad gelei,” sê Smith.

Kaapstad se verkeersdepartement het verder nóg 80 verdagtes in hegtenis geneem, op 169 motors en 186 selfone beslag gelê en 60 221 boetes uitgereik.

Verder is altesaam 22 motoriste, bykans almal onder die invloed van drank, aangekeer tydens versnelwedrenne in Durbanville, Eersterivier en Bellville.

Die Suid-Afrikaanse polisiediens het ’n verdere 48 inhegtenisnemings gedoen –  onder meer vir kabelsdiefstal en die onwettige besit van vuurwapens. Hulle het ook 4 055 lasbriewe uitgereik.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanR ·

Hier gaan hulle verby die polisie stasie en die hof sommer deur Pollsmoor se hekke. vir aflaai….verskoon my meneer die bottel het nog ‘n tot in…..hom net gou klaarmaak!

Persheks Adri ·

Hoeveel onwettige wapens en wat is die tronk straf of is hulle klaar weer uit op R50 borg?

Leana ·

Ja hy moes in die eerste plek nie bestuur het nie, maar toe hulle hom aftrek het hy geweet hulle gaan hom toesluit, so laat hy maar die laaste slukkie vat, mens kan dit mos nie mors nie.

twaalfboor ·

Slim. Nou moet hulle bewys hy was dronk toe hy bestuur het. Nadat hulle hom afgetrek het, het hy ten aanskou van metro die bottel “gedown”. So……. Die dop het hom gevang nadat hy afgetrek was. LOL. Gaan interessant wees. Al wat hy nodig het is ń goeie (skelm) prokureur.

Windhond ·

Nie eers n prokureur nie, daar is reeds redelike twyfel, – sorry, – onskuldig, daar loop jy

N ·

Hyt geweet hy gaan in die tjoekie slaap. Gou n laaste sluk gevat om lekker warm te slaap

SjN ·

Kan loskom op tegniese punt, het geskruk en uit skok na bottlel gegryp, Kan nie bepaal hoeveel hy alreeds ingehad het nie en het in hul teenwoordigheid gedrink, slim opgetree.

Genis ·

Hulle moet nou ongelukkig bewys dat dit die laaste bietjie was, wat hom oor die drimpel gestuur het… Dis n tegniese punt vir n goeie prokureer..

Jack ·

Die DA hou die Kaap aan die kant. Ons soek meer van hierdie soort optrede dat ons die plek onder beheer kan kry

ben ·

Good luck om daai ou skuldig te kry in die hof.
Hy gaan se hy het gedrink nadat hy gestop het en dis hoekom sy alkoholvlak te hoog is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.