‘Dronk’ polisieman aangekla van aanranding op polisiekommissaris

Argieffoto: SAPD

Argieffoto: SAPD

ʼn 34-jarige polisiekonstabel van Mpumalanga is in hegtenis geneem nadat hy glo op heterdaad betrap is deur die provinsiale polisiekommissaris met sy amptelike voertuig by ʼn kuierplek.

Brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie, het gesê lt.genl. Mark Magadlela, provinsiale polisiekommissaris, het ʼn amptelike polisievoertuig by ʼn kuierplek in Belfast opgemerk. Magadlela het ʼn man met drank in sy hand na die voertuig sien loop. Hy het na hom gestap en homself as die provinsiale polisiekommissaris voorgestel.

Magadlela het die man glo gevra wat hy op ʼn Sondag met ʼn gemerkte polisievoertuig by ʼn kuierplek doen. “Die kommissaris het ook gesien daar is ʼn vrou in die motor en haar gevra of sy ʼn polisiebeampte of ʼn klaer is. Die vrou het gesê sy is jammer voor sy uit die motor geklim en weggeloop het.” Volgens Mohlala het Magadlela die motorsleutels uit die aansluiter verwyder.

“Die konstabel het teruggekeer na die motor en die sleutel met geweld uit die kommissaris se hande geruk. Die kommissaris se een vinger is in die proses beseer. Die kommissaris het gesien die beampte is gewapen en het besluit om terug te val. Hy het die beampte tot by die Mhluzi-polisiestasie gevolg,” het Mohlala gesê.

ʼn Interne ondersoek is van stapel gestuur waarna konst. Joel Moloto Vrydag in hegtenis geneem is. Moloto het Maandag in die Belfast-landdroshof verskyn en is op borgtog van R1 000 vrygelaat. Hy moet weer op 10 Julie in die hof verskyn. Moloto word aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer, dronkbestuur, roekelose of nalatige bestuur en die besit van ʼn vuurwapen of ammunisie onder die invloed van alkohol.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Peet Schabort ·

Dis nou ‘n kommissaris wat sy sout werd is !! Nou die dag by ‘n hoërskool word die kind ook met ‘n polisievoertuig gehaal. Behalwe dat dit nie gedoen mag word word daar nie verder gedink oor wat gaan gebeur wanneer ‘n ongeluk plaasvind.
Wanneer jy werklik ‘n probleem het dan is daar nie ‘n voertuig beskikbaar maar net ‘n klomp verskonings.

Kaptein (Afgetree) Paulus N Antonio ·

As daar maar net, meer van hierdie komm. se kaliber in die polisiediens opgelewer sal word, sal die orde van weleer in die polisie herstel word, maar die diens het, plek gemaak vir slap en bang offisiere wat te bang en verbroederd is, met sulke skurke soos hierdie konstabel. Ek, salueer die kommissaris, vir ‘n taak wel gedaan.

Elaine ·

Hoekom is dronk in aanhalingstekens? Was hy dronk of was hy nie dronk nie?

Dave ·

Het jy êrens gelees dat hy reeds skuldig bevind is aan dronkenskap of dat ‘n bloedtoets gedoen en dit dus bewys is?

scalla ·

Dit gebeur gereeld, voertuie word as taxis gebruik, word ook ingespan om meubels te trek met matrasse op die dak, welgedaan komm, wens almal wil jou voorbeeld volg om wet en orde te handhaaf

Poppie ·

En die “dame” wat in die amptelike voertuig was? Sy hoort mos nie in die voertuig nie. Hoop hulle word bietjie geroskam/beboet omtrent dit ook.

ladybug ·

Kommissaris, kom ek vertel jou gou iets, dit gebeur elke dag, oral in ons land! Van konstabels tot offisiere met hoë range wat bedags en snags sit en suip instede van hul werk doen … wit, swart, indiër, kleurling! EN NIKS kom daarvan nie, NIKS!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.