Dronkbestuur begin weer toeneem

Argieffoto

Die Stad Kaapstad se verkeersdienste het Maandag gesê dat voorvalle van dronkbestuur begin toeneem het sedert die verbod op die verkoop van alkohol verlede week Maandag opgehef is.

Sedert die verkoop van alkohol met die instel van die vlak 3 van afsondering toegelaat word, is daar reeds vyf mense vir dronkbestuur in die Wes-Kaap in hegtenis geneem.

Dié vyf bestuurders was onder die 20 mense wat deur die Stad se verkeersdienste vir verskeie misdrywe op die pad in hegtenis geneem is. Die verkeersdienste het ook op twee voertuie beslag gelê en altesaam 21 424 boetes opgelê vir verskeie verkeersoortredings.

Wetstoepassers het in die eerste week van Mei, sedert die instel van vlak 4 van afsondering, tien mense in hegtenis geneem vir die besit van dwelms, openbare geweld en die besit van gesteelde goedere.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê toe die koop en verkoop van alkohol ten tyde van die vlak 5 en 4 van afsondering verbied was, was daar altesaam drie mense in hegtenis geneem vir dronkbestuur. Verlede jaar in dieselfde tydperk was daar 575 inhegtenisnemings vir dronkbestuur. Dit is ’n 99% afname.

“Noudat alkohol meer vrylik beskikbaar is, begin die aantal voorvalle van dronkbestuur ook toeneem. Dit is frustrerend, maar nie verbasend nie,” sê Smith.

Smith sê dit plaas geweldige druk op die stad se hulpbronne omdat asemhalingstoetse tans nie toegelaat word nie as gevolg van die gesondheidsrisiko’s daaraan verbonde. “Motoriste se bloed moet nou getrek en getoets word, wat meer tyd en hulpbronne verg. Maar dit moet gedoen word om die veiligheid van ons inwoners te verseker,” sê hy.

Smith sê met die kouefront wat die provinsie vandeesweek gaan tref en wat met swaar reën en sterk wind gepaard gaan, moedig hy motoriste aan om nog meer versigtig op die pad te wees.

“Diegene wat onder die invloed bestuur plaas nie net hul eie lewens in gevaar nie, maar ook dié van ander motoriste. Alkohol moet op ’n verantwoordelike wyse gebruik word.”

Smith sê die stad se verkeersdienste sal ten alle tye die verkeersreëls afdwing en oortreders verantwoordelik vir hul dade hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Hennerik ·

Neem nou net in ag dat daar baie minder verkeer was as gevolg van die opsluiting en natuurlik sal die statistieke fantasties wees…

Kanjynoumeer ·

Hahaha. Die mense moes lank uithou sonder alkoholiese verversings. Hulle is nou dors!
Brandewyn het nie brieke nie.

johanf ·

Nog ammunusie vir tante Zuma, om die afsondering te verleng, sekere gebiede weer na vlak 4,5 terug te plaas…..en veral tabak verder te verban….. Selfsugtug van die klomp oortreders….!!

katerinadiekat ·

Daar is geen rede vir haar om tabak te verban nie. Dit bevat nie alkohol nie.

koos10 ·

Tipies regering. Wys net op “feite” wat hulle pas. Wys asb die getalle voor die inperking en dan nadat die ban gelig is, dit is die korrekte manier van vergelyking.

PieterP ·

Ek wens die mense wil die statistiek so diep druk! Jy kan nie die vorige jare se syfers met die inperking tyd se syfers vergelyk noe dammit. Het hulle nie ander werk om te doen nie? Dit is soos hoeveel tree ek loop as ek wakker is teenoor hoeveel tree as ek slaap. Duh!

Die Wolf ·

My opinie kan die verbod tussen 20;00 en 05:00 weer ingestel word. Dit is die tyd wanneer die koppe uithaak.

Magda ·

Dankie ou DZ al wat JY doen is om meer probleme vir onskuldige SA te skep, en jy sit do bo en lag lekker, maar wees verseker lekker lag kom lekker HUIL. JOU daggie sal jy kry al is dit nie hier op aarde nie, niemand en Niemand kom verby se GOD SE STOEL NIE.

katerinadiekat ·

Ja ne..maar sigarette is die ding wat verban bly. Nog nooit gesien dat iemand se kapasiteit om n voertuig te bestuur aangetas word net omdat hy of sy n paar sigarette gerook het voor hulle in die kar geklim het nie.

daniel ·

Die regering sal moet besef dat SA n drankprobleem het en sodoende die gebruik van alkohol drasties te verminder of totaal te verban.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.