‘Dronkbestuur’-bewyse onder vergrootglas in Yengeni-verhoor

Argieffoto

Argieffoto

Die verhoor van die ANC-swaargewig, Tony Yengeni, wat van dronkbestuur aangekla word, het Vrydag tot stilstand gekom toe die staatsaanklaer en die verdediging koppe gestamp het oor die bewyse in die saak.

Yengeni het skuld ontken op die aanklag teen hom. Hy is drie jaar gelede in Buitengrachtstraat in die Kaapstadse sakesentrum in hegtenis geneem nadat ʼn blaastoets getoon het sy bloedalkoholvlak is vyf keer meer as die wettige perk.

Tydens Vrydag se verrigtinge het die staatsaanklaer, Leon Snyman, ʼn dokument aan die hof oorhandig waarop Yengeni se bloedalkoholvlak ten tyde van sy inhegtenisneming aangedui word. Volgens Snyman is die dokument, sonder die verklaring van die betrokke analis, genoeg bewys van Yengeni se oortreding.

Dirk Uijs, vir die verdediging, het gesê die dokument kan nie deur die hof aanvaar word sonder die analis se verslag nie. Snyman het volgehou die analis se verslag is nie noodsaaklik nie, terwyl Uijs volgehou het dit moet ook by die hof ingedien word.

Tydens Yengeni se vorige hofverskyning het Uijs gesê die polisiebeampte wat Yengeni in hegtenis geneem en die voorval in die polisie se oortredingsboek aangeteken het, het die inligting na die voorval “opgemaak” om sy verklaring in die hof te ondersteun.

Die staat het Vrydag ʼn tweede polisiebeampte laat getuig wat aan die hof gesê het die voorval was reeds in die boek aangeteken toe dit aan hom oorhandig is. Dit sou dus onmoontlik wees vir die eerste polisiebeampte om na die tyd die voorval in die boek aan te teken.

Die saak is tot 18 Maart uitgestel om die landdros kans te gee om te besluit of die dokument wat Yengeni se bloedalkoholvlak aandui, genoeg bewys is sonder die verklaring van die analis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ben (:-) ·

Die Forensiese lab het al die data op rekord, kry dit net daar. Dis mos nie moeilik nie ?

Jan maak n Plan ·

Die man se alkoholvlakke was te hoog en sy bloed monsters dui dit aan – short en sweet – hys skuldig.
MAAR nou ja – hys mos ook een van nr1 se maatjies so hy sal loskom.

jaco ·

Die verdediging tree namens n top lid vd ANC op en die staatsaanklaer werk vir die ANC-regering se dept van justisie. Dis onverklaarbaar waarom hulle koppe stamp. Gooi eenvoudig die saak uit.

Kobus ·

Wonder nou maar net as dit ‘n Jan Alleman was, of hulle nogso koppe sou stamp.

Vra maar net ·

As jy van Nr 1 praat is alles geoorloof in die beskuldige se guns.

Christo ·

Presies wat ek nou in my kommentaar gemeld het by Glenys Bruitenbagh se aanklag, hoe kan n mens ooit vertroue he in wat nou in howe en polisie aangaan. ANC sorg vir hul comrades, maar werp alles in stryd om klagtes teen wittes te orkestreer.

Max ·

Drie jaar om n dronkbestuur saak af te handel ? Wat n grap ? Of née Dit is die nuwe demokratiese RSA !

Sarie ·

Ag nee wat hierdie is die einde van die sak. Hierdie saak is al klaar so bekook dat daar geen bewyse meer is om hom skuldig te bevind nie, die saak teen hom gaan laat vaar word, wag maar julle sal sien, hulle kan nie nommer 1 se mense aanraak nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.