‘Dronkbestuurder’ eerste keer in hof oor ongeluk wat kitskosafleweraar eis

(Foto: Pixabay)

Jonas Moedigi Sebati het Woensdag vir die eerste keer in die Middelburg-landdroshof verskyn ná ’n motorongeluk 18 maande gelede tot die dood van ’n kitskosafleweraar, Motheo Madihlaba, gelei het. Madihlaba se getraumatiseerde familie sê dit voel asof die staat hulle in die steek gelaat het.

Madihlaba het op 16 April 2022 gewerk toe Sebati na bewering twee voertuie op ’n sperstreep verbygesteek en teen Madihlaba se bromponie gebots het. Madihlaba is op die toneel dood. Verskeie motoriste het die ongeluk aanskou en voer boonop aan dat Sebati merkbaar onder die invloed van drank was.

Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê Madihlaba het net ’n maand lank by die restaurant gewerk, maar is deur sy werkgewer as betroubaar, hardwerkend en gewild beskryf.

“Madihlaba se ma, Granny Madihlaba, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid in Mei verlede jaar genader omdat sy besorg was dat die saak nie die aandag kry wat dit verdien nie. Daar is intussen vasgestel dat Sebati wel op die ongelukstoneel in hegtenis geneem is, maar dat die polisie hom later op borgtog van R1 500 vrygelaat en aangesê het om hom in April 2023 weer by die polisie aan te meld.

“Die eenheid het sedert Mei verlede jaar aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geskryf om te bepaal waarom die verdagte nog nie in die hof verskyn het nie. Daar is aangevoer dat die ondersoekbeampte steeds op die uitslag van die bloedalkoholvlaktoets wag.

“Die privaatvervolgingseenheid het aanbeveel dat Sebati, gegrond op die weergawes van verskeie ooggetuies wat die ongeluk en die vlak van Sebati se nugterheid beskryf het, van strafbare manslag en bestuur onder die invloed van drank aangekla kan word,” sê Bateman.

Die NVG het egter die advies geminag en tot Mei vanjaar gewag totdat dit bevestig is dat die toetsuitslae ontvang is.

“Dit het ’n verdere ses maande geneem voordat die saak gereed was en Sebati gedagvaar is om in die hof te verskyn.”

’n Ontstelde Granny Madihlaba het ná afloop van die hofverskyning gesê sy is dankbaar vir die eenheid se ondersteuning.

“Dit is meer as ’n jaar sedert my seun vermoor is en niemand, behalwe die eenheid, was nog in aanraking met my nie. Dit is asof my kind ’n hond was. Sebati het die hond geskop en eenvoudig aangegaan met sy lewe,” het sy gesê.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die eenheid, sê dit is betreurenswaardig dat dit so lank gevat het om die aangeklaagde te dagvaar om in die hof te verskyn.

“Die regspreuk ‘uitgestelde geregtigheid is afgestelde geregtigheid’ geld ook in hierdie saak. Dit is nie altyd noodsaaklik om te wag op die uitslag van bloedalkoholvlakke in sake waar daar genoegsame ander bewyse is om die aanklag te ondersteun nie.

“In hierdie geval is daar talle mense wat aanskou het hoe Sebati op daardie dag bestuur het, en hulle kan ook getuig oor die vlak van sy nugterheid,” sê Nel.

Nel het die staat aangemoedig om nou met die verhoor voort te gaan sodat daar uiteindelik geregtigheid vir Madihlaba kan geskied.

Die saak is uitgestel tot 29 Januarie 2024 vir blootlegging van die dossier aan die verdediging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Martie ·

Nee nee die polisie op die toneel besluit wie se bloed getrek word en hulle besluit ook sommer wie vir die ongeluk verantwoordelik was. Die dooie kan mos nie praat nie so hy is maar die skuldige. En dan besluit die staatsaanklaer daar gaan nie ‘n saak wees nie en die dossier word geliasseer. En jy as naasbestaandes word nooit ingelig nie. En bewaar jou siel as jy navraag doen.

Juanita ·

18 Maande wag vir ‘n bloedalkoholvlaktoets? Regtig? Vat dit so lank?

minnie muis ·

ja dit vat lank want 1… kader werk gee , 2 onbevoeg .3 geld ruil hande 4 bo die wet van land

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.