‘Dronkbestuurder’ ry verkeersbeampte om

Die Gautengse verkeerspolisie tydens een van hul verkeersoperasies. (Foto: Twitter / Gauteng Traffic Police)

ʼn Beampte (33) van die Gautengse verkeerspolisie is Vrydag aan deur ʼn motoris wat glo onder die invloed van drank bestuur het, omgery.

Die voorval het op die N14-snelweg naby die R55 tussen Pretoria en Krugersdorp plaasgevind. Die beampte was ten tyde van die voorval aan diens en het saam met ander verkeersbeamptes ʼn verkeersoperasie uitgevoer.

Sello Maremane, woordvoerder van die Gautengse verkeerspolisie, het Saterdag in ʼn verklaring gesê dat die beampte ʼn spoedige herstel toegewens word, hoewel hy nie oor haar beserings uitgewei het nie.

Die 35-jarige motoris is op die toneel in hegtenis geneem en word tans by die Olievenhoutbosch-polisiestasie aangehou waar sy deur die klagte van roekelose en dronkbestuur in die gesig gestaar word. ʼn Asemtoetser het glo aangedui dat die vrou die alkohollimiet ver oorskry het.

Maremane sê die vrou het glo ʼn alkoholvlak van 1,29 mg per 1 000 mℓ getoon terwyl die wettige limiet 0,24 mg per 1 000 mℓ is.

Hy meen die voorval wek opnuut kommer oor motoriste se onverantwoordelike bestuursgedrag wat veral oor Paasnaweek toeneem.

“Ons waarneming is dat baie van hierdie ongelukke gebeur omdat padreëls verontagsaam word. Soos ons die laaste dae van die Paasnaweek nader, wil ek motoriste aanmoedig om die padreëls te gehoorsaam en Gauteng veilig te hou.

“Ek doen verder ’n beroep op bestuurders om beheer oor hul veiligheid te neem asook dié van beamptes wat ontplooi is. Die voorval wat op die N14 plaasgevind het, is hoogs betreurenswaardig. Dit ondermyn ons padveiligheidspogings terwyl dit ook die lewens van ons beamptes in gevaar stel.”

Maremane benadruk dat dronkbestuur ʼn strafregtelike oortreding is wat jou tot sewe jaar in die tronk kan laat beland.

“Die Gautengse verkeerspolisie sal die saak fyn dophou om te verseker dat die verdagte aan die pen ry.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Sy het lekker gedryf na sy gou gaan volmaak het voor prysstyging op alkohol.

Swerwer ·

Geen genade vir mense wat onder die invloed van drank bestuur nie. Hul kan maar hul bestuurslisensies wegneem en opgesluit hou saam met moordenaars

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.