‘Dronkbestuurder’ se wegkompoging eindig met sambokhoue, steke

Argieffoto Foto: stevepb, Pixabay

ʼn Vermeende dronkbestuurder wat probeer vlug het nadat wetstoepassers hom in Eersterivier in die Wes-Kaap afgetrek het, se wegkompoging het hom in selfs groter moeilikheid – en uiteindelik in die hospitaal – laat beland.

Verkeersbeamptes het hom afgetrek, waarna hy bo-oor ʼn muur laat spaander het. In die proses het hy snymerke van die veiligheidshakiesop die muur opgedoen én hom in die woedende huiseienaar vasgeloop.

Die eienaar het die man vir ʼn inbreker aangesien en met ʼn sambok toegetakel, het die Stad Kaapstad in ʼn verklaring gesê.

Die inhegtenisnemende beampte moes ingryp en die verdagte is na ʼn plaaslike daghospitaal geneem waar hy sewe steke moes kry vir dié snywond weens die hakiesop die muur.

“Dit is beslis nie die eerste verdagte wat die hasepad gekies het nie, maar voorwaar een wat baie sleg van die poging afgekom het. Wat aanvanklik ʼn saak van dronkbestuur sou wees, het nou verander in een van verset teen inhegtenisneming, asook ʼn moontlike betredingsklagte as die huiseienaar besluit om die saak verder te voer,” het JP Smit, burgemeesterskomiteelid, gesê.

“Ek wil die betrokke beampte bedank wat net nie opgegee het nie en boonop die verdagte van moontlike gevolge gered het omdat hy vir ʼn inbreker aangesien is,” het Smit gesê.

Die 27-jarige verdagte van Bellville was een van 11 mense wat aangekeer is omdat hulle na bewering onder die invloed van drank bestuur het.

Die hoogste alkohollesing wat tydens die naweek se wetstoepassingsoperasies geneem is, was 2,0 mg/L, meer as agt keer die wettige perk.

ʼn Motoris is ook in hegtenis geneem omdat hy glo onder die invloed van dwelms bestuur het en na bewering ʼn daggasmous is.

Elders in die stad is 53 mense vir beweerde dronkbestuur aangekeer, 35 van hulle in die omgewing van Claremont en Wynberg, terwyl 60 minibustaxi’s en 43 motortaxi’s die afgelope week in verskeie operasies oor die stad geskut is.

Wetstoepassers het altesame 3 259 boetes vir verskillende oortredings uitgereik.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SjN ·

Lekker lag ek nou, as hy nie wil hoor nie moet hy voel, hoop sy ore is nou oop.

Uilspieel ·

Mooi so. Rus sommer al die wetstoepassers toe met ń sambok. Die WesKaap raak ń wilde plek. Was altyd veilig en rustig. Wonder waar kom al die skurke vandaan.

Johan ·

Baie mooi. Dronk bestuur is moord wat wag om te gebeur. Nou kan ons regering die spoed verhoog wat by die motors van vandag pas, ons leef nie meer in die ’70’s nie.

Slim vang sy baas ·

Die oom kan sommer ‘n werkie kry in Suid Afrika .
Slaan die ongehoorsaamheid hok .
Die skuldige sal nou 2x dink voor hy weer oortree.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.