Droogte: Boervroue steek wapens weg

Foto: Elaine Krige

Boere in die Noord-Kaap gaan gebuk onder die ergste droogte in dekades en die veekuddes in dié provinsie het die afgelope vyf jaar halveer.

Só hopeloos is die situasie dat talle boere alles verkoop en boervroue hul mans se gewere van hulle weghou, uit vrees dat hul donker gemoed die oorhand kry.

In Vanwyksvlei, ʼn klein plaasgemeenskap naby Prieska, sukkel kakiebos om te groei en weivelde moes in sommige gevalle plek maak vir sandduine. Op pad na plase in dié omgewing lê gevrekte skape en beendere in die veld.

“Nie eens die karoobossies groei meer behoorlik nie. Dis die eerste keer in my lewe dat ek dít sien,” sê Johnny Visser, ʼn boer van Vanwyksvlei.

Volgens Nicol Jansen, president van AgriSA in die Noord-Kaap, ervaar 70% van die provinsie die ergste droogte in 50 jaar. “Vir die res is dit die ergste droogte in menseheugenis.”

Foto: Elaine Krige

Baie boere sit met net ʼn fraksie van die kudde wat hulle verlede jaar gehad het. Johan van der Colff, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie in die Noord-Kaap, sê op plekke het die kudde met tussen 50% en 70% afgeneem.

“Dit beteken boere kry nou minder as die helfte van hul oorspronklike inkomste,” sê Jansen. “Ons ken seisoenale droogtes, maar dit is ʼn ramp dié. Wat dit erger maak, is dat ʼn mens nie versekering teen die droogte kan uitneem soos teen ʼn brand of ongeluk nie.”

Jan Moolman, ʼn boer van Vanwyksvlei, sê voor die droogte het hulle 800 ooie gehad. “Nou het ons maar 100 oor. Dis ʼn totale ramp. Ons het amper soveel diere oor as toe ons tien jaar gelede begin boer het. Vanjaar is dit weer ʼn swart Kersfees.”

Foto: Elaine Krige

Visser sê van die boere het nie meer diesel om hul plase te verlaat nie. “Ek ys om te dink wat gaan gebeur as my bakkie die gees gee. Want ek sal nie ʼn ander bakkie kan bekostig nie.”

Nog ʼn boer vertel die boervroue het begin om hul mans se vuurwapens met hulle saam te dra of die kluis se sleutel weg te steek, uit vrees dat hul mans selfmoord sal pleeg weens die las van die droogte.

Berdine Vos se man het homself net meer as ʼn jaar gelede in die buitekamer van hul plaashuis geskiet. Sy boer nou al die afgelope 43 jaar op dieselfde plaas buite Vanwyksvlei. “Hy was baie prakties. Hy het geweet die droogte gaan nie vinnig verdwyn nie,” sê Berdine oor haar man. Die egpaar het 1 400 skape verloor, nadat dit tien jaar gelede behoorlik op hul plaas gereën het. Vos bly nou alleen op hul plaas agter, sonder enige skape.

Boer Rudi Oberholzer by sy skape. Foto: Elaine Krige

Rudi Oberholzer, Vos se buurman, sê 12 boere het die afgelope paar jaar al hul vee verkoop en ophou boer, omdat die las van die droogte vir hulle te swaar geword het.

“Dit het ʼn rimpeleffek op die hele plaaslike ekonomie. Die abattoir slag nie meer elke dag nie en ondernemings maak toe, want die boere het nie meer geld om uit te gee nie,” sê Oberholzer. Die trane lê vlak in sy oë wanneer hy vertel van sy dogter op universiteit. Hy weet nie of hy dit kan bekostig om haar volgende jaar weer terug te stuur nie.

Deon Oberholzer, voorsitter van die boerevereniging in Vanwyksvlei, sê hy is baie bekommerd oor die uitwerking van die droogte op die beskikbaarheid van rooivleis in Suid-Afrika. “As die Karoo soveel lammers verloor, gaan ons binnekort ʼn geweldige tekort aan rooivleis hê en dit gaan waarskynlik later onbekostigbaar wees.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

Heksie ·

Here, wees ons boere genadig … maak die sluise van die hemel oop en stuur genoeg reën soos die afgelope paar dae oor Gauteng … Amen!!!

Daan ·

Here vergewe ons ons sondes en ons bekeer ons van ons verkeerde wee.Lei ons deur u Heilige Gees om u koninkryk en u wil te soek. Wees u ons Koning,Here en God.Wees ons genadig. Stuur reen en ook u geestelike reen in Jesus naam.Amen

Elsabé ·

Ten spyte van al ons kennis en tegnologie, staan die mens steeds magteloos teen die Natuur. Ons kan nie reen maak nie, al verstaan ons presies hoe die proses werk. Ons bly totaal afhanklik van God se genade!

Marie ·

Boere, hou moed. Die reën kom. Ander boere sal julle help met voer en nuwe kuddes sodra dit gereën het. Daar sal voorsien word, byt vas. Ek het op 18.11 deur die gebied gery en was trots op julle wat so swaarkry maar steeds netjiese werwe het en julle diere wat oor is mooi versorg. Sterkte. Ons bid almal vir julle.

Dolf ·

Help asb vir Van Wyksvlei en betaal dit in hulle eie droogte fonds in want die droogte hulp ouens doen niks vir hulle nie. Hulle reel tans hulle eie voerre.

BUBBLES ·

dit is net hartverskeurend, en mens voel so magteloos , want net die Here kan hier uithelp
kan maar net aanhou bid vir uitkoms vir hierdie mense :(

Johnny ·

Kan agri nie n rek oopmaak of enege instansie want ek glo daar is baie mense wat bereid sal wees om n finansieele bydra te maak ek is bereid om te help

Lee ·

Jy kan Burre Burger volg op facebook as jy facebook het. Hulle koop voer vir boere orals oor die land en reel trokke om dit soontoe te vat. Bevondsing kom partykeer net bietjie stadig.

MRS M ·

HERE, U het hemel en aarde geskape. U ken die begin tot die einde… Nou HERE, pleit ek by U dat U die uitkoms sal gee vir hierdie droogte. HERE soos U woord verklaar ons kan U alles vra, en daarom bid ek dat u die sluise van die Hemel sal oopmaak oor die droe geteisterde gebiede en hierdie gebiede sal uitermate sal seen met reen. Niks is vir U onmoontlik nie! Help asb hierdie manne en vroue wat ook na hul kinders moet omsien. Soos Dawid in Ps 63: “Ek soek U O GOD, My GOD! Ek dors na u, ek smag na U soos in ‘n dor en droe land. ‘n land sonder water” HELP ONS MENSE HERE ASB!! Dit vra ek in U Heilige Naam. Amen

Cynthia van der Linde ·

Ons in Griekwastad omgewing het 60 mm reën gehad op ons plaas wat soos woestyn lyk.
Ons dank die Here vir genade reën. Ons diere en wild het op strepe begin vrek. Dit reën nie weiding nie maar oor 3 weke gaan ons groenigheid begin sien. Ek is bitter jammer vir bestaansboere nou met die algehele vebod op veilings.

Tweetie ·

Siener het gepraat van die ergste droogte ooit wat SA sal tref. Ons word as n nasie gestraf vir al die losbandigheid en sal op ons kniee gedwing word. Dit help ongelukkig nie om teen die prikkels te skop nie, al word ons hoe kwaad. Dit is net n jammerte dat die boere wat klaar swaarkry die grootste offers is.

ZET ·

Daar is organisasies soos Burre Burger se droogte hulp fonds. Google dit net. Hy doen fantastiese werk.

JV ·

Kom mense laat ons Burre Burger se droogtehulp ondersteun. Burre laat asb bogenoemde boere en omgewing ook n aflewering ontvang. Ons plaas vandag ook weer n ietsie in jul rekening. Elke druppel maak n emmer vol.

Deloris ·

Here Ek kniel voor U meer en vra dat U reen vir hierdie droe gebiede sal stuur. Ons boere is so nederig. Seen hulle asb. Amen en dankie.

Marie ·

Boere, hou moed. Die reën kom. Ander boere sal julle help met voer en nuwe kuddes sodra dit gereën het. Daar sal voorsien word, byt vas. Ek het op 18.11 deur die gebied gery en was trots op julle wat so swaarkry maar steeds netjiese werwe het en julle diere wat oor is mooi versorg. Sterkte. Ons bid almal vir julle.

ryan ·

Dis hartseer.. Rêrig hartseer.. Om dan nie eers te praat van die krimineelment en kie wat druk vir “grond” nie…

Petrus ·

Klimaatverandering is ‘n realiteit, ook in SA. Mense moet maar begin om op te hou vleis eet. Ten minste sal die veevrektes dan gestop word. Mielieproduksie hier sal binne die volgende 40 jaar ook verdwyn. Dit help nie ons baklei teen swaartekrag nie. Ons moet aanpas.

Karen ·

Klink my as ons na Petrus luister is liefde en lug al waarop ons sal moet lewe. Nonsies, aanpas se voet. As hy op die rak lê koop ek as hy nie daar is nie, koop ek iets anders, maar mens moet lewe. God bly in beheer en Hy sorg. Hy sê ons gaan dit swaar hê, ons word gewaarsku in die Bybel oor droogte, hitte, vloede, aardbewings….dis nie asof ons nou in toetale verstomming en ongeloof (in God) daarna moet kyk nie. Dag op n slag (al hoe ons deur dit gaan kom) , as daar vandag nog vleis is… eet, as daar nie is nie…. koop neute en sade, maar ons kan mos leef met wat voor ons op die tafel is.

Adel ·

O Here dankie vir die wyd gespreide reën wat U al oor ons mooi land gestuur het, wees ook asb hierdie gedeeltes wat so erg onder droogte lei genadig en stuur asb oorvloedige reën sodat mens en dier daar kan opstaan en ñ nuwe begin maak……..

Johan Maritz ·

Nou waar is al die sport borge wat die skatryk sport persone borg wys julle omgee kant en borg die boere. Ek sal dan my negatiewe gevoel oor julle stopsit en jul dan ook begin ondersteun.

Hy sal nooit nooit sy kinders in die Steek laat nie ·

Hy sal nooit nooit sy Kinders in die steek laat nie

Karin ·

Ai….hierdie is so vreeslik hartseer. Dinge in ons land is alreeds so ongelooflik stresvol….jy gaan uit jou huis – gou dorp toe en weet nie of jy ooit weer lewendig sal terugkeer na jou mense nie. Asof dit nie genoeg is nie, is dit die droogte-las op ons mense. Dis vreeslik. My Christelike beginsels praat nie ooreen met my hart nie…nie meer nie. Oral is daar donker “goete” wat jou hele mens-wees deurboor en kan mens doodeenvoudig nie meer alles hanteer nie. Ons bid, ons glo en vertrou steeds dat Vader uitkomste aan alles sal bring. Ekself het nie veel woorde meer vir alles nie – ek kan net vir die mense vra wat hier lees – hou moed en hou aan. Om jou hand in jou eie lewe te slaan is nie die moeite werd nie, want jy sal ewig brand. (God het jou lewe gegee, jy mag nie moordpleeg nie. Nie op jouself of ander nie!!) Hou God in jou hart – ongeag jou probleme, en lewe die lewe, asof elke dag die laaste mag wees…..maar moet asseblief nie toegee aan verkeerde en valse versoekinge nie. Hou moed !!!! (En ek praat hier met myself ook)

Ansie ·

Kan iemand asb die bank besonderhede hier puliseer. ek is nie op Facebook nie en kry nerens die besonderhede om my bydrae te maak nie.

Dankie

Piket ·

Droogtehulp met Burre Burger.
F N B.
TJEK REKENING.
REK, NO.
6272 185 8522.
BANK KODE 250 655
VERWYSING: HOOP

Feite ·

God is n God van liefde. God straf ons nie, ons ongehoorsaamheid straf ons en soms straf ons onsself op die harde manier. God brand ons nie, mense brand mense. God knak ons nie, die droogte knak ons. Onsself is te blameer vir die keuses wat ons maak, omrede die Skrif vir ons se wat ons moet doen in situasies soos wat ons tans ervaar!

Dolf ·

Help asb vir Van Wyksvlei en betaal dit in hulle eie droogte fonds in want die droogte hulp ouens doen niks vir hulle nie. Hulle reel tans hulle eie voerre.

De Villiers Hauptfleisch ·

Ek verstaan die boere in Noordkaap benodig R600 000 om te help om staande te bly in hierdie verskriklike droogte. Die regering sukkel om hiermee te help , maar huiwer nie om R2 miljard en meer in die SAL te pomp nie. Hoe verstaan mens dit?

.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.